1. VAN DIE OEWER • FROM THE BANK

JUNIE | JUNE 2024

WOORDE: Eugene C Kruger | VIDEO’S: ForAnglers LIVE

Die Maan se Invloed, Winter Babers en So …

Vanjaar is die winter darem erg laat – of so reken talle mense, en voeg sommer daarby dat dit nóg ‘n teken van globale verwarming of klimaatsverandering is. Hmmm, nie vir my om hierdie stellings voor te staan of af te lag nie, maar dis beslis vir my om alle lesers aan ons Junie-uitgawe hartlik te verwelkom! 

Hoe so? Wel, dit gaan oor die maanfases wat volgens talle hengelaars hul hengelplanne beïnvloed. Ons ForAnglers LIVE-program verlede maand (2 Mei) het die invloed van die maan nogal breedvoerig aangeroer. Proteahengelaar Dean Pelser, het in ‘n dubbeldoor-onderhoud met aanbieder, Werner Lubbe nogal insiggewende data verskaf oor sy navorsing oor die invloed van die maan op varswaterhengel. Vir iemand wat dit gemis het, hier is die video’s (in drie dele opgedeel).



Ek is ook een van daai ouens wat vas glo dat die maan se invloed op die aarde ook ‘n effek op visgedrag uitoefen. En dis dieselfde met wild: kyk maar, met ‘n helder volmaan soek al die prooidiere skuiling in elke skaduwee wat beskikbaar is, terwyl die roofdiere baie meer intens na hulle moet soek. In ‘n rivier of dam is dit baie dieselfde, naamlik die nie-roofvisse (moddervis en karp, ensomeer) is maar skugter terwyl die roofvisse (geelvisse, babers, swartbaars, forel, ensomeer) steeds aktief is. 

Wat die grootbek-geelvis betref, is die advies van die ou manne om hulle op te soek ‘so half-een op ‘n wintersnag wanneer ‘n volmaan sy verskyning maak’. Lesers wat hierdie advies nog nie op die proef gestel het nie, probeer jou bes om dit vanjaar op die proef te stel! Ek ontvang graag die foto’s van die vangs! 

Hierdie maand gebeur ‘n nogal interessante natuurverskynsel wat ek voorsien gaan wel ‘n redelike heftige invloed op ons hengel gaan uitoefen, naamlik die eerste springgety wat met nuwemaan op Donderdag, 6 Junie begin. Dis dan donker nagte en al die natuurlewe is saam in die donker. Dan so twee weke daarna gebeur die wintersonstilstand op Donderdag, 20 Junie. Dis dan wanneer die kortste dag en langste nag ‘n ommekeer begin maak, naamlik dan begin die dae al hoe langer raak en die nagte al hoe korter, die begin van lente en dan die somer!  

Maar, en dis wat hierdie verskynsel nog meer interessant maak, is dat net twee dae later, op die 22ste, is dit volmaan, en vir die tweede keer hierdie maand springgety. 

Ek is seker talle hengelaars het al ervaar dat springgety, wat met vol- en nuwemaan gepaardgaan, iets anders in die water teweegbring. Vangste is of buitengewoon goed of buitengewoon sleg … 

Nog ‘n gewilde – alhoewel heeltemal verkeerde – siening in die winter is dat ‘mens vang nie babers in die winter nie’. Hierdie stelling is al meermale totaal verkeerd bewys. Een so ‘n geval was toe ek in ‘n Juniemaand in die tagtigs uitgenooi was om die nuwe Qwantani-oord-in-wording by Sterkfonteindam te besoek. Ek nooi toe twee ervare Protea-kunsaashengelaars saam, Lewis Thorpe en Grassie Ferreira, want sien, ek het toe, en het steeds, hoë agting vir kunsaashengelaars se hengelvernuf, en het gereken hulle sou wel onder die vis in die dam baljaar en dus ‘n lekker storie vir my opdis.  

Wel, daar aangekom is ons drie op ‘n boot met ‘n plaaslike skipper uit op die dam om forelle te vang. Die taktiek was om kunsvissies agter die boot te sleep, wat ongelukkig nie veel aksie opgelewer het nie. Lewis en Grassie wou eintlik op die oewer staan en hul kunsaas gebruik; van kunsvissies agter ‘n boot sleep was vir hulle nie heeltemal kundige hengel nie! Maar terwyl ons so op die water na forelle soek, sien Lewis en Grassie die punte van grashalms by die oppervlak uitsteek, blykbaar op ‘n eiland nie heeltemal in die middel van die dam nie, maar so vyftig meter van die kant af, en ook dat borrels op die oppervlak verskyn. “Dis mos babers,” het Lewis en Grassie vir mekaar gekyk, “more teiken ons hulle!”



Die volgende was dit wel so. In die yskoue oggendlug onder ‘n skoon, wolklose blou hemelruim het die skipper die boot in ons hande gelos en is ons reguit na waar die grasse uitsteek. Daar het die twee hul babergerei uitgehaal – twaalfvoetlange teleskoopstokke en draaispoelkatrolle met twintig-pond lyn gelaai en swart loodkoppe met ‘n stukkie kurk en op die steel die kunsase, en met die dip-metode begin hengel. Vir my was dit ‘n hengelopenbaring om te sien hoe hulle die stok se punt eers in die water heen en weer swiep om die babers te roep, en dan die loodkop laat sak. En dit was regtig iets om te aanskou hoe die babers uit die dieptes van die helderskoon water op die loodkop toesak!  

Die volgende paar ure is met die een na die ander baber vasgemaak, en ten spyte van die yskoue water het elke baber met mening terugbaklei! 

Terug by die oewer was die booteienaar en sy twee helpers stomgeslaan toe hulle die klomp babers in die boot sien lê. Toe hy weer sy stem vind was al wat hy kon uitkry: “Haai, maar mens vang mos nie babers in die winter nie!” Lewis en Grassie het ewe droog teruggekap: “Okei, moet ons hulle dan maar teruggooi?”

So, net om te bewys winter is NIE ‘n maand van terug in ‘n gemakstoel in die televisiekamer voor die kaggel sit nie; met enkele uitsonderings MOET visse nog eet! Dus bly oewerhengel steeds ‘n werkbare tegniek; mens moet maar net besef dit verg meer geduld (en sagter ase!) om die visse aan die hoek te kry.

Intussen geniet die koeler – okei, kouer! – maand se hengel, en soos altyd, Take Care.

Eugene C Kruger

*Iets oor hengel op die hart? / Something ‘fishy’ on your mind? English or Afrikaans, both are welcome! Please write to / Skryf gerus aan: editor@thebankangler.com.



The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x