1. VAN DIE OEWER | FROM THE BANK

NOVEMBER 2024

WOORDE: Eugene C Kruger

Watersake, Lood in Gerei en Nuwe Minister …

Ja-nee, dis November. Sommiges reken die jaar het ‘amper ongesiens verby gevlieg’, maar nee, tyd is steeds dieselfde as wat dit nog altyd was, dis net dat ons moderne hengelleefstyl so vol is, veral vir kompeterende hengelaars wat maand na maand met een of ander toernooi besig is. So ‘vat vyf’ en geniet ons November-uitgawe.

Met die skryf van hierdie rubriek was water – die gehalte en beskikbaarheid daarvan – omtrent elke dag in die nuus. As hengelaars kan ons nie verby hierdie noodsaaklike onderwerp beweeg sonder om ons stem hieroor te laat hoor nie, so die nuus dat tot amper die helfte van die water wat deur Rand Water aan Gauteng metropole gelewer word, verloor word, is skokkend verby!  

1: Die Vaaldam was ten tyde van die skryf van hierdie rubriek net 35% vol in teenstelling met 76% dieselfde tyd verlede jaar.

2: Ons sal eers in Maart volgende jaar water vanaf Lesotho via die Tugelaskema ontvang. 

3: Waterbeperkings is reeds in Gauteng van krag, naamlik tussen 06:00 en 18:00. 

4: En dié versoek moet in alle erns opgeneem word: gebruik water spaarsamig!


LOOD 

In vorige uitgawes is heelwat geskryf oor die gebruik van lood in hengelgerei en die verbanning daarvan in Brittanje en Europa, en dat dit ook hier ter plaatse en in die VSA oor die gebruik daarvan bespiegel word wat op ‘n moontlike verbanning kan uitloop. Tewens ek het reeds gesien dat loodvrye eindgerei nou plaaslik beskikbaar is.

Leiers in die Amerikaanse hengelbedryf is nie ten gunste van enige pogings om lood in hul hengelgerei te verban nie, en het ‘n sterk boodskap aan die Wit Huis gestuur om die regering, wat hierdie maand ingestem word, te maan om nie lood in hengelgerei te verban nie. Onder leiding van die American Sportfishing Association (ASA) het ‘n koalisie van al die land se hengelverenigings ‘n lang lys van aanbevelings aan die Amerikaanse Kongres voorgelê om die toekoms van sporthengel in die land te verseker. 

Volgens ASA vise-president, Mike Leonard genereer hengel jaarliks $148 miljard vir die Amerikaanse ekonomie, “so dit is belangrik vir ons verkose amptenare om te verstaan oor watter kwessies ons kiesafdeling omgee,” sê hy. “Ons aanbevelings gee hulle ‘n padkaart vir hoe hulle ons die beste kan ondersteun.” Sewentien organisasies wat meer as 3 000 besighede en die land se 57,7 miljoen hengelaars verteenwoordig het die aanbevelings gemaak.

Al is die syfers van ons plaaslike hengelbedryf nie naby dié van die VSA nie, is dit steeds ‘n belangrike rolspeler in ons ekonomie en sosiale lewe, so dink nou hoe voordelig dit vir ons eie hengelbedryf kan wees as alle rolspelers in ons hengelbedryf so ‘n lys voorstelle aan ons regering sou voorlê!



NUWE MINISTER

Ons ministers in die RNE het onlangs hulle eerste 100 dae in hul verskillende ministeriële poste in oënskou geneem. Uit ‘n hengelaar se oogpunt was onse nuwe minister van bosbou, visserye en omgewing, dr Dion George se sieninge van belang, synde ons geliefde sport ‘n skoon, gesonde omgewing benodig wat op sy beurt dieselfde gehalte waterbronne besit waar visse kan floreer vir ons om te teiken (en vang!).    

Ek gaan nie nóg kommentaar lewer oor die land se watergehalte nie; die gehalte daarvan (eintlik die gebrek daarvan!) word omtrent elke dag in die algemene media weerspieël. Die geagte minister het ses prioriteite uitgestippel wat vir hom belangrik is, ondermeer een wat die rompslomp met die uitreik van lisensies vir kommersiële vissersgemeenskappe uitskakel en hulle nader aan hul markte bring onder die projeknaam Fishing for Freedom. As hengelaar sou ek Freedom for Fishing verkies … 

Reset is sy projek om die land se omgewingswetgewing te vereenvoudig. Hmmm … sal maar moet wag om te sien wat se omgewingswette ‘vereenvoudig’ word. 

Hy wil ook hê dat ‘klimaatstudies’ deel word van die skoolleerplan. Ek het nie eintlik enige probleme hiermee nie, maar dan voeg hy die ‘klimaatsverandering-bestaanskrisis’ by. ‘Krisis’? Vir seker verander die klimaat, dit maak so vanaf die aarde se bestaan, en die mensdom het deur die eeue daarmee rekening gehou en altyd aangepas. 

Die ergste omgewings-‘krisis’ wat ons as hengelaars bedreig is al die rou of onbehandelde riool van onderpresterende munisipaliteite wat in ons riviere invloei … Dr George, om ons omgewing te beskerm, oortuig die minister van water en sanitasie om gesamentlik jul departemente se bestaande wetgewing te gebruik om hierdie skokkende toestand hok te slaan … en ook om die skuldiges hiervan hard te slaan, en ek bedoel ‘hard’! 

Om mee af te sluit … ‘n goeie hengelvriend, nou ontslape, het elke November opgemerk dat November, nes Oktober, ook ‘n baie mooi maand is, want sien, “dis dan lekker om reg te maak vir die Desembervakansie wat nou net om die draai is!” Vir seker so, die afwagting na Desember se hengel is tasbaar. Afhangend van waar dit gaan plaasvind, moet spesifieke gerei of nagegaan word, of as mens gelukkig genoeg is, nuut aangeskaf word. Ek reken geen leser sal nie ‘n nuwe stok, katrol of wat ook al in sy hengelarsenaal verwelkom nie!

Vir dié van ons waardeerde lesers wat hierdie Desember na ‘n vakasiebestemming gaan reis, net hierdie een versoek: laat die voertuig sommer hierdie maand nagegaan word!

Intussen, geniet Novembermaand se hengelgeleenthede, maak reg vir die Desembervakansie en soos altyd, Take care.

*Something on your mind about angling? /

Iets oor hengelsake op die hart?

Stuur ‘n epos aan: editor@thebankangler.com.

Eugene C Kruger


The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x