1. VAN DIE OEWER | FROM THE BANK
DESEMBER | DECEMBER 2024
WOORDE: Eugene C Kruger
Aan almal, Geseënde Kersfees en ‘n Voorspoedige Nuwe Hengeljaar!
To all, a Blessed Christmas and a Prosperous Angling New Year!
WERK of PLESIER?
Desember is mos vakansiemaand, of so was dit nog al die jare; deesdae egter met allerhande uitdagings en veranderings in mense se lewens is dit nie meer heeltemal so nie, maar tog, tyd vir terugsit is daar wel, en vir hengelaars het niks verander nie, naamlik ‘n mens kan daar agter die penne sit en net ontspan terwyl die aasbelaaide strop daar voor in die water die werk doen! Hengel is seker die enigste aktiwiteit waarin mens ‘niks’ doen terwyl mens wel ‘besig’ is!
Lesers wat hierdie Desember anderkant Tzaneen op die walle van die Letabarivier by Die Eiland-oord gaan uitspan kan weer uitsien na die hengelaktiwiteite wat Werner en Annetjie Lubbe daar vir die jeug gaan aanbied. Hierdie ‘werk’ doen die egpaar al etlike jare en vanjaar, tussen 13 en 23 Desember bied hulle weer hengelklinieke aan met hengelkompetisies ook om die opwinding nog verder te verskerp.
Die vraag kan wel gevra word: is dit ‘werk’ of ‘plesier’? In die woorde van … vergeet nou wie dit gesê het … as ‘n mens se stokperdjie en passie ook ‘n mens se werk is, het ‘n mens mos nooit nodig om te ‘werk’ nie!
‘n Hele paar jare terug gesels ek met die ontslape Jumbo Willemse toe hy na nog ‘n suksesvolle SA’s ons kantoor in Kempton Park besoek het. Toe hy met sy vergadering met die bestuur klaar is en op pad uit is, wens ek hom geluk met sy prestasie en sê iets soos: “dit was seker nogal harde werk om so deur die week so hard te hengel.”
“Nee wat,” antwoord hy, “hengel is nooit werk nie, dis altyd net ‘n plesier!”
PROTEAS KAP KARPE IN AUSTRALIË
In ‘n drieledige toetsreeks verlede maand op die Bloweringdam in Australië – dis so 400km suidwes van Sydney op die Tumutrivier in die Snowy Mountains – het ons Proteaspan die spanne van Australië en Nieu-Seeland ‘n behoorlike les in karphengel geleer en al drie toetse oortuigend gewen.
Die ironie van hierdie toernooi was dat dit met ‘n spesie beslis was wat in Australië so onwelkom is dat dit onder geweldige druk van uitwissing verkeer.
Die nuutste poging om van karp in Australië ontslae te raak kom van die Victoriaanse Vissery-owerheid (VFA) wat nou saam met die Arthur Rylah Instituut vir Omgewingsnavorsing (ARI), die Charles Sturt Uni en The Wedge Group werk om wetenskaplike en ingenieursadvies te verskaf oor die voorbereiding van ‘n toets om die doeltreffendheid van die karpherpesvirus te bevestig om karpbevolkings te verminder.
Die ARI-geleide span is besig om die doeltreffendheid van die virus op ‘n reeks karppopulasies te toets onder toestande wat verteenwoordigend is van Victoria se riviere, mere en vleilande. Dit is “om betekenisvolle stappe te neem om die nadelige impak van karp“ op inheemse visserye te verminder. (Ek het verneem dat al die karpe wat gevang was wel teruggeplaas is!).
Sou karp wel heeltemal van die hengeltoneel daar verdwyn, sal sulke geleenthede op twee inheemse spesies moet plaasvind, naamlik Murray cod en golden perch wat in die dam voorkom. Hul eweknieë in Suid-Afrika is (baie) los gestel baber en geelvis. Hmm … nie eintlik voordelig nie, of hoe?
JUNIOR SA’s
Desember is vir ons kompeterende juniorhengelaars die maand waarin die Nasionale Juniorkampioenskappe gehengel word. En dis elke jaar ‘n belewenis om te aanskou, waar meer as 450 seuns en meisies stokke swaai in al die ouderdomsafdelings en in al die verskillende groeperings soos Premier en President-afdelings.
Ek kan nie help nie om te wonder of daar miskien een van daardie kannetjies wat Werner en Annetjie Lubbe by Die Eiland aan hengel voorgestel het, vanjaar aan die SA’s deelneem?
Nog iets van die Junior SA’s by Bloemhofdam wat nie uit die oog verloor moet word nie, is al die finansiële voordele vir Bloemhof-dorp en al die huisvestinggeriewe wat daar is (en wat van die liters brandstof wat uitgery is om almal daar te kry?). Voorwaar ‘n voordelige gebeurtenis wat die formele hengelsport vir die land in sy geheel inhou!
So, vir die laaste keer hierdie jaar, geniet die hengel so saam met die vakansiedae, en soos altyd, Take Care.
*Iets op die hart oor hengel? Skryf aan editor@thebankangler.com.
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!