fbpx
AdventureBank AnglerTight LinesVenues

18 uur van grootkarp skep!

Deur Charmagne Grimbeek

Binnelandse avontuur –   4 van ons breek PB’s

Van donker tot donker moes ons die een na die ander karp skep, grotes van tussen 5 en 14,4kg! Die een na die ander PB word verbeter, en teen die einde van die naweek kon vier van ons wegstap met nuwe persoonlike bestes!

Dis tyd

Sodra die nagte koud raak, is dit tyd vir ons jaarlikse hengelsessie. Dis die derde jaar wat ons saam met vriende ʼn kamptog in die winter aanpak om by Roodekoppiesdam, so ʼn uur se rit vanaf Pretoria na die Noordwes distrik, spoedkarpe te gaan vang. Die konka word eerste afgepak by ons gereelde staanplek op Dennekruin se oord, nommers 23 en 24, met ʼn vrag hout om die koue nagte warm en gesellig te hou.

Die span

Ons span met vier minder hengelaars hierdie jaar, sluit in ek en my man Jaco, Celine de Beer, Johan van Loggrenberg en Johan Werner met Jannie van Loggrenberg wat vir een dag deurgekom het. Die hengelsessie het gestrek vanaf Vrydagmiddag tot Sondagmiddag.

Lok hulle

Om die visse te lok moet daar gevoer word, daarom het Jaco sy boot saamgevat om die nodige voerplek voor te berei, wat mielies, molasse, hempsaad en natuurlik merkers insluit. Ons het twee aasbote gehad om die lyne uit te vat wat baie tyd gespaar het tussen die vyf van ons. Teen half-sewe Vrydagaand was die voerplek uitgesorteer om die grotes te lok. Net voor middernag het die karp begin byt en so het verskeie groot visse die manne se skepnet deur die nag bereik. Daar was geen slaap vir hulle nie, terwyl ek en Celine heerlik in die tent saam met ons hondekinders ʼn goeie nagrus geniet het, ter voorbereiding vir die naweek se hengel en natuurlik om die voerplek behoorlik aan die gang te kry.

Skaars wakker

Teen half-ses die volgende oggend het ek genoeg gehoor van elke vis wat geskep word, en opgestaan om ʼn foto van Johan Werner se mooi vis te neem. Terwyl dit nog donker langs die water was en nog voor die eerste koppie koffie, was my lyne in. Binne 10 minute was ek aan met ʼn karp wat hopeloos te groot was vir die skepnet, en dit nogal op ʼn nommer 1 hoek aan sy dik rubberlip gevang. Ons het nie die toerusting wat spesiehengelaars gebruik, soos ʼn massiewe skepnet en karpbed nie, want wie sou dink dat die groot karpe nou aan floaties gaan byt! My karp weeg 12,1kg – sover die grootste nadat die manne heelnag die een na die ander grote gevang het. Eers nadat my grote vrygelaat is was daar tyd vir ʼn koppie koffie waar ek voor ʼn brandende konka kon sit en die daglig aanskou wat stadig begin aanbreek het.

Charmagne breek haar PB met die 12,1kg karp.

14,4kg karp!

Die mis het dig oor die water gelê toe die skielike stilte breek met nog ʼn alarm, die keer Johan Werner s’n wat ver links van ons groep gestaan het. Die einste hy wat gekla het toe hy my karp skep, dat dit te groot was vir die skepnet. Sy karp word toe met groter moeite geskep, want dis nog groter as my karp, ʼn 14,4kg spogvis! Die grootste karp wat hy nog ooit in sy lewe gesien het! Verbaas met die pragtige karp, neem ons gou ʼn paar foto’s voor die vrylaat daarvan. Johan het die nag die een na die ander PB gebreek, elke keer met ʼn kilogram verskil, en toe het hy van 9kg gespring na 14,4kg!

Johan Werner het die een na die ander PB deur die nag gebreek en vroegoggend net na 6 met diè karp van 14,4kg sy nuutste PB aangeteken, wat toe ook die rekord by Dennekruin is op papgooi!

Celine se doepas

Celine hengel gereeld saam en is lief daarvoor om met doepas te eksperimenteer. Maak nie saak wat werk vir ons nie, sy volg haar eie resep. Met geure en reuke wat afgewissel het, het sy ook die een na die ander karp uitgetrek – die manne se monde het naderhand oopgehang soos wat sy net groter en groter karp vang. Al haar vangste was tussen 5,6 en 9kg-plus met die swaarste 9,7kg, ʼn nuwe PB met ʼn breë glimlag!

Celine se PB van 9,7kg!

Celine met paar van haar vangste en pug Maddie, altyd aan haar sy.


Spring in en katrol

ʼn Hele paar keer het beide visstokke van elk van ons ʼn vis opgehad, so het dit ook gebeur toe Jannie van Loggrenberg die Saterdag kom kuier het, netjies geklee met die doel om net saam te kom braai. Gou moes hy egter inspring en help inkatrol, en toe spog met ʼn 9,2kg vis, ʼn PB vir hom. Nie lank daarna nie was sy kortbroek aan en weer het hy ʼn mooi karp van 8,4kg gevang.

Jannie en Johan van Loggrenberg.

Johan van Loggrenberg

18 ure

Tussen die groep van ons het ons by die 50 behoorlike karpe gevang vir ʼn volle 18 uur aaneen. Ek het selfs ʼn ruk gestaak deur beide my visstokke buite die water te hou, net om ʼn roomys te gaan koop en die kamplewe te geniet. Half-sewe Saterdagaand het die vis opgehou byt en kon ons eers behoorlik kosmaak en deurnag slaap!

Sondag was dit windstil, die slyk op die water het dik geword en toe vir die eerste keer die naweek het ons klein vis van onder die 4kg gevang, so ook ʼn baber en kurpers wat reg voor ons in skole geswem het.

Vorige PB’s

My en Jaco se vorige PB’s was op dieselfde oord gevang – sy vorige PB van 12,94kg staan nog, alhoewel hy ook baie visse gevang het, was sy swaarste karp 9,3kg. Dennekruin se karpe veg lekker en hulle is gesond met die mooiste kleure. Krokodille kom voor in die dam so ons was heeltyd op ons hoede en op die uitkyk vir hulle, gelukkig was nie een gewaar nie.

Jaco Grimbeek met sy swaarste karp vir die naweek, 9,3kg.

Oorgenoeg

Ons sluit die jaar se wegbreek naweek goed af met geen swaar harte van hoeke wat oopgebuig het en groot karp wat naby die oewer weggekom het nie, want ons het beslis oorgenoeg pragkarpe in ons hande vasgehou en weer laat gaan vir ʼn volgende keer se nog groter vangste.

Beslis sal ons weer dieselfde resep volg, maar ʼn tweede keer voer om die laaste dag ook vis te kan vang. Wat die stroppe betref het ons gou agtergekom om eerder sterk kwaliteit hoeke te gebruik en self stroppe te maak.

Ma en dogter met ʼn “double-up”.

Feite:

  • Die maanstand: opbouend na kwartmaan (waxing crescent) op Vrydag en Saterdag; Sondag was kwartmaan.
  • ʼn Ligte wind van 7 tot 14km per uur het deurentyd rigting verander; Vrydag was dit bewolk met dreigende maar geen reën.
  • Ons het karp, baber en kurpers gevang.
  • Net een vis, ʼn spieëlkarp, het sleg gelyk deurdat dit vroeër in ʼn hounet moes gewees het. As jy die vis wil vrylaat, neem jou foto eerder dadelik, al is dit ʼn nagfoto.
  • Ons het slegs met die papgooi metode vis gevang.
  • Floaties: Pienk Sweets, Caramel, White Chocolate, Hemp.
  • Degies: Die selfgemaakte Sparberry degie en FISH se Milky Dots het vir ons gewerk.
Enigste karp met sere op.

Die oord:

Dennekruin is geleë waar die Krokodilrivier se inloop tot in die dam vloei. Roodekoppiesdam was 90% vol met ongeveer 3 meter water wat deur die naweek oor die oewer op gestoot het. Ons hou daarvan om vir baars te gaan jag vanaf ons boot, maar het nie eers die grootbekke op hul gewilde plekke raakgesien toe ons Sondag ʼn draai gaan ry het nie. Die oord is vir ons gerieflik met hul netjiese badkamers en swembad vir wanneer die dae warm is. Daar is krag vir ons wat langs die water kamp en ʼn skoon asdrom by elke staanplek. Wanneer die hiasinte pla, word dit uitgehaal en weg van die oewer af gery.

Dennekruin: Staanplekke 23 & 24.

Dennekruin Hengeloord

  • Distansie vanaf PTA en JHB: 80km & 120km
  • Naaste dorp: Brits
  • GPS Koördinate: 25°25’51.3″S 27°38’07.4″E
  • Geriewe: Winkel
  • Krag: Ja
  • Swembad: Ja
  • Dierevriendelik: Ja
  • Ablusie: Warmwater
  • Tariewe: Dagbesoekers: Volwassenes – R60 pp, Kinders (5 – 12 jaar) – R30 pp
  • Kampeerders: Volwassenes – R100 pp (24 uur), Kinders (5 – 12 jaar) – R50 pp (24 uur), Staanplek – R100 per nag. Slegs 3 hengelaars per staanplek word toegelaat, maar die aantal persone op ’n staanplek is onbeperk.
  • Boothengelaars dagtariewe: Volwassenes – R50 pp, Kinders (5 – 12 jaar) – R25 pp
  • Addisionele kostes: Boot – R50 per dag, Kano – R35 per dag

Kontak hul gerus by: 082 820 3095

Epos: dennekruinhengeloord@gmail.com

By Dennekruin word die oewer gedurig deur skoongehou, hier is die trekker met sy sleepwa om hiasinte weg te ry.
Tags
Close