2024 INTERNATIONAL BALATON CARP CUP: Deel 3 sluit af.

RIAAN ALLEMAN

‘n Droom word waar!

Met al die lang vlugte en voorbereiding agter die rug, is dit tyd vir besigheid. Hierdie is ‘n droom van meer as ‘n jaar wat nou ‘n realiteit is en wie weet wat die volgende twee weke vir ons gaan inhou? Ons penmaat en spanbestuurder, Benedek is nou wel jonk, maar in Balaton word die grond aanbid waarop hy loop. Nie net hengel hy goed nie, maar is nogal iets vir die oog ook, maar jammer dames, die man is reeds gevat!

Benedek het ons by die lughawe in Budapest ontmoet en van daar af was dit sowat twee ure se ry na ons verblyf in Balaton. Ons was baie bevoorreg om dié verblyf te kon kry wat net sowat 500m van die legendariese Lake Balaton is. Wat baie opvallend was, is hoe die landskap verander vanaf ‘n besige, bietjie ou vervalle Budapest tot amper ‘n KZN Suidkus gevoel hoe nader mens aan Balaton beweeg. Die dorpies se name gaan ek nou nie noem nie want daar is hopeloos net te veel, maar hulle is letterlik minder as 5km uitmekaar uit.

Dit is ook mooi kophou met die spoedgrense want jy mag 90km/uur ry tussen die dorpies maar slegs 50km/uur as jy die dorpies binnegaan. En dan het ek ook vinnig opgetel dat voetgangers en fietsryers baie belangrik geag word en jy moet heeltyd vir hulle op die uitkyk wees. Ek het in die hele twee weke wat ons daar was nie eenkeer ‘n kar hoor toet nie, en niemand het mekaar gevloek nie; elke ryer gee toe vir die ander, iets wat ons Suid-Afrikaners gerus kan aanleer.

Span Crazy Carpers. Van links, Riaan Alleman, Benedek en Nico.
Dit was ons gehuurde bus vir die tydperk. Alleman moes baie vinnig leer links bestuur en dan ook aan die regterkant van die pad.
Ons sprokieshuisie vir die twee weke, die huis het absoluut alles wat jy benodig, selfs sy vloere is verhit vir daardie yskoue Europese dae.


Een van die vele busstoppe.
Kyk mooi! By dié busstop is daar selfs boeke wat mens kan lees terwyl jy wag.
Hier is die treinroete, ten minste werk die spoorstelsel nog soos hy moet in die land. Glo my die treine en busse is betyds – tot op die sekond.
Hierdie hengelwinkel het alles en nog meer. Hier het ons baie geld spandeer maar alles was die geld werd.

Op pad na ons verblyf toe het Benedek eers vir ons gestop by ‘n Lidl-supermark. Dit is baie soos ‘n Checkers hier by ons, maar glo my as ek sê hulle het alles daar in een winkel! Benedek moes ander sake afhandel en hy het my en Nico alleen ingestuur om te koop wat ons wou koop. Ek wens daar was ‘n kamera wat die petalje kon afneem want die inkopies was omtrent ‘n sirkus gewees. In Hongaars is daar nie een woord wat amper eers grens aan Engels nie, en ons moes met die hulp van Google Translate kommunikeer.

Iets wat ons vinnig moes leer is dat wanneer jy vleis koop maak seker daar is ‘n prentjie op van ‘n hoender, vark of bees, anders mag jy dalk jouself bederf met ‘n lekker stukkie perdevleis! Die kospryse is oor die algemeen regtig redelik billik, behalwe dat rooivleis peperduur is. Ons het maar meestal die twee weke op pasta, hoender en vark geleef en natuurlik heerlike brode (Europa is bekend vir sy lekker gebak).

Met ons aankoms by ons verblyf is ons vriendelik ontvang deur die eienaar. Ongelukkig het ek nie haar naam nie, maar sy was regtig gasvry, al het ons mekaar glad nie verstaan nie. Die huisie was toegerus met absoluut alles wat mens benodig, en die huis beskik ook oor verhitte vloere en verwarmers vir die koue Europese dae. Daar was slaapplek vir ses mense alhoewel dit net ek en Nico was, ook maar goed so want ons albei kan lekker snork as ons die dag lus het!

SMAAKLIKE ETE (S)!

Dis Nico se beurt vir aandete en hy het ons bederf met heerlike varkstukkies en pasta – ons het maar geleef op hoender, vark en pasta.
Nico het darem een keer in die twee weke skottelgoed gewas.
Bietjie Alleman se beurt om kos te maak – dis maar een van die afdelings waar spanwerk belangrik is.
Baie interessant! Hulle worsbroodjierolletjies het reeds gaatjies in waarin die worsie perfek pas.
‘n Goeie ontbyt is altyd die beste manier om ‘n lang dag te begin, ek moet sê Nico is die baas van ontbyt.
Alleman se geroosterde kaas- en kouevleisbroodjies was ook nie te versmaai nie – maklik en smaaklik.


Hierdie vis en tjips was hemels, hulle braai die vis net so heel in olie en dan sit hulle geheime speserye op – ek en Nico het omtrent ons vingers afgeëet.
Hier is ons buurvrou besig met heerlike Hongaarse beesvleissop en ons het amper die pot uitgelek so lekker was dit.
Die eindproduk van die Hongaarse sop – natuurlik word dit voorgesit met heerlike varsgebakte brood.
Asof ons nie genoeg geëet het nie, bederf hulle ons deur die dag met gerookte varknek en lekker kase en ja, reg geraai weer met brood.
Hoender met aartappels en sous is ‘n baie vinnige gereg langs die water op ‘n koue, nat dag.
Hier is die braaibroodjies waarmee Alleman die bure getrakteer het tydens ons Suid-Afrikaanse braai – hulle het omtrent hulle vingers afgeëet.
Na die heerlike vis en tjips het ek en Nico darem tyd vir ‘n foto net buite die eetplek en glo my, oor naweke staan die mense toue vir die kos.
Hier is ons buurman besig om daardie gerookte vark op te sny.
Ons al drie probeer ‘n ‘selfie’ na die heerlike vis en tjips.

Met alles uitgepak het ek en Nico besluit om te voet te gaan na die magtige Balatonmeer, en al wat ek kan sê is “WOW”. Voor ons uitgestrek was amper 600km² se water en glo my as ek sê dit was intimiderend om te dink ons moes dit met ‘n opblaasboot aanpak! Die spesifieke dag was ook baie winderig en die water was baie rof, en toe het ons besef hoekom die meer ook as die ‘Hongaarse see’ bekend is!

Hier is Nico besig met nog een van sy duisende planne. Hy is besig om die pop-ups uit te was want ons het gehoor Balaton se karpe hou van uitgewaste ase.
Nico en Benedek is besig om die water te bespreek.


Met vier dae voor die openingseremonie en pentrekking het ons nog baie voorbereiding gehad om te doen. Die weer het ook skielik heeltemal verander, so ons moes so ‘n paar aanpassings maak. Een probleem wat beide ek en Nico gehad het was die tekort aan warm genoeg klere en ook slaapsakke wat die weer kon trotseer. Die week voor ons aankoms was dit bykans elke dag 30°C, maar die weer het met ons aankoms sé verander dat dit gesukkel het om tot by vyf grade te styg – en onthou vyf grade langs die dam is gelykstaande aan minus een of twee grade!

Benedek het ons gaan wys waar die naaste ordentlike hengelwinkel was waar ons die laaste goedjies kon koop en ek moes net keer of ek het my hele twee weke se geld net daar spandeer! Weereens was hulle diens voortreflik en ons is toegerus met snoesige slaapsakke en Fox se thermal suits. As dit nie vir hierdie doelvervaardigde toerusting was nie, het ons regtig doodgevries! Benedek het ons ook by die oewer verskeie penne gaan wys en lang stories gedeel van al die groot vis wat hy al daar geland het.

Hier speel Alleman ‘Tarzan’ in sy ‘thermo‘-pakkie. Glo my, as ons die nie gekoop het nie, was ons doodgevries na aand een.
Die klein stoeltjie was blykbaar nie sterk genoeg vir Alleman om op te sit nie.

Een van die goue reëls van Balaton is dat jy glad nie soos in Suid-Afrika loodsinkers mag laat afval nie; nee, jy moet klip- of betonsinkers op die stroppe gebruik as jy hulle wil laat afval. Die ander metode wat ook baie daar gebruik word is die in line-sisteem waar jou sinker aanbly. Tipies Suid-Afrikaner moes ons anders wees en ek en Nico het besluit om ons eie sinkers met beton te giet om kostes te spaar. Ons het egter met een groot probleem gesit, naamlik ons het nie vorms gehad om die sinkers in te giet nie. Maar hoe sê hulle? ‘n Boer maak ‘n plan! Ons het van die sinkers gegiet in toiletpapierrolletjies en vir die ander het ons gaatjies in die sagte grond van molshope gemaak en die sinkers daarin gegiet. En dan was ons nog meer innoverend en het skulpies en gruis uit die dam gaan haal en ons lood daarmee bedek. Meer natuurlik as dit sal jy nie maklik weer sien nie! Die volgende paar dae was ons rustig, maar die opgewondenheid was groot. Ons het bietjie van die land se kos op die proef gaan stel en veral hulle vis en tjips is uit die boonste rakke.

Die skulpies en gruis het ons uit die dam gehaal om ons sinkers wat ons self gegiet het te bedek, meer natuurlik gaan jy nie sommer kry nie.
Die eindproduk – so iets sal julle nie gou weer sien nie – boer maak ‘n plan of hoe sê ek?
As jy nie ‘n gietvorm het nie moet jy plan maak. Hier gebruik ons die molshope se sagte grond om gaatjies te vorm om ons gewigte te giet.


DIE KOMPETISIE BEGIN!

Die groot dag het uiteindelik aangebreek en dit was tyd vir die openingseremonie en vlagparade. Benedek het regtig moeite gedoen en gesorg vir nog ‘n Suid-Afrikaanse vlag omrede ons net een saamgevat het. Hy het selfs met trots met ons vlag gestap asof hy ‘n Suid-Afrikaner is en die Hongare het lekker met hom die spot gedryf. Dit was hoendervleis-mooi en selfs ‘n paar trane het gevloei om 300 spanne so trots met hulle vlae te sien. Die seremonie self was soos iets uit ‘n Hollywood-storie en het meer gelyk soos ‘n groot musiekkonsert. Dit was ligte, kameras en vuurwerke, alles ‘n prentjie wat ek nie gou sal vergeet nie.

Die openingseremonie was ‘n absolute skouspel en almal wag angstig vir die pentrekking.
Crazy Carpers is reg vir die vlagparade! Kyk selfs die trots op Benedek se gesig, mens sal nie sê hy is van Hongarye nie.
Die foto kan ongelukkig nie wys hoeveel lande daar is nie, maar die parade was hoendervleismooi en dit was ‘n eer om met ons vlag daar te stap tussen al hierdie lande.

Toe die tyd vir die pentrekking aanbreek kon mens die spanning op almal se gesigte sien. Soos met elke dam is ‘n goeie pen van kardinale belang, en die oos- en noordoewer is die plek waar jy wil wees. Ek kon Nico se spanning sien met die trekking en as kaptein het hy die voorreg gehad om die trekking te doen. Met ons trekking kon ek Benedek se teleurstelling bespeur: ons het pen 200 op die suidoewer getrek, een van die moeilikste penne. Ons het egter besluit dat dit ons nie gaan onderkry nie en dat ons net ons beste gaan gee. Die nadeel ook was dat die pen heeltemal aan die anderkant van die dam was, so ons moes al ons klere en goed pak omrede ons nie naby ons verblyf ‘n pen kon trek nie. Gelukkig het Benedek vir ons ‘n groot Fiat-bussie gehuur vir die tydperk en al ons toerusting het met gemak daarin gepas, selfs die twee bote wat reeds opgepomp was het ook gemaklik daarin gepas. Ons kon toe direk na die trekking na die pen gaan kyk net om te sien waarvoor ons moes voorberei voor die kompetisie die volgende dag om 12:00 afskop.

Hier is ons oppad op die veerboot om te gaan sien hoe lyk ons pen wat heeltemal aan die ander kant van die dam gesit het.
Ek het nou nie getel nie maar dis verstommend hoeveel voertuie die veerboot kan hanteer.


En daar is pen 200 … min het ons geweet hoe moeilik die week gaan wees, maar ons het nie een oomblik ophou probeer nie.
Een voordeel van ons pen was die heerlike koeltebome waaronder ons gekamp het. Nou nie dat dit ooit regtig warm was nie.

Die oggend van die kompetisie het aangebreek en ons was reeds sesuur in die pad na ons pen toe. Ons mag sewe-uur begin met kamp opslaan maar geen bote was voor 12:00 op die water toegelaat nie. Die een voordeel van ons pen was dat ons in ‘n parkie tussen huise gekamp het so ons kon ons tente opslaan onder twee groot bome. Benedek het ook met die naburige huis gereël vir krag teen ‘n klein fooi, so ons kon darem bootbatterye en selfone sonder probleme herlaai. Ons het darem ook ‘n ‘Plan B’ gehad en daar was ‘n sonpaneel sou ons nie krag kon kry nie. Ons het vinnig werk gemaak van die kampplek en het ook besluit om die agterkant van die bus te gebruik vir ons werkplek waar ons kos maak en so ook ons ase laai. Dit was ideaal vir die koue en nat weer.

En hier is hy – daardie gevreesde bottel palinka – wees gewaarsku, hy het baie skop!

Soos by enige kompetisie het mens natuurlik bure en ons kon nie vir beter bure gevra het nie. Hulle span was ‘n gemengde span van Serbië, Duitsland en Hongarye maar ons kon met die intrapslag sien hier kom pret. Ons het ons self gaan voorstel en is onmiddellik verwelkom met ‘n palinka – vir dié wat nie weet wat dit is nie, dit is hul weergawe van mampoer, maar soos my Pa altyd gesê het, “pad se stories bly pad se stories”! Met die magie lekker warm van die palinka het die tyd aangebreek vir die kompetisie om te begin.



Hier is ‘n hele tafel amper vol boilies en pellets. Vir so hengelweek by Balaton het jy minstens 100kg nodig as die vis mooi byt.
Nico staan in ons gehuurde bus die aand voor ons vertrek na die pen. Dit is verbasend hoe baie pakplek die bus gehad het.

Een van die ander baie belangrike reëls van die kompetisie was om seker te maak jy beweeg glad nie uit jou area uit nie; ons hengelarea was 100m wyd en 550m lank. As jy enigsins uit jou area beweeg word jy vir 12 ure nie toegelaat om te hengel nie. Elke boot is toegerus met ‘n GPS-toestel en hulle hou jou heeldag dop om te sien dat jy binne jou area bly. Jy maak gebruik van ‘n slimfoontoepassing en koördinate om jou grense presies te bepaal. Ek het hierdie gedeelte vir Nico en Benedek gelos om uit te sorteer terwyl ek solank die voer en stokke op die kant reggekry het. Nog een van die vele reëls om in ag te hou is die weerwaarskuwings; ligtorings is oral om die dam en as die water te rof raak flikker die ligte op ‘n spesifieke manier en alle bote word van die water verban tot verdere kennisgewing. As jy in die tydperk ‘n vis kry mag jy hom wel inbring van die kant af. As jy die reël oortree kan dit lei tot onmiddellike skorsing.

En nee, hierdie is nie ‘n bom nie! Dit is die GPS-eenheid waarmee hulle jou monitor dat jy nie uit jou area uit beweeg nie. As jy uit beweeg word jy verbied om vir 12 ure te hengel.
Hierdie was nogal iets nuuts vir my en Nico. Wanneer die wind erg waai en jy hengel met monolyn, hang jy hierdie lood aan jou swinger. Dit help om die lyn stywer te hou en dit help om minder vals byte te kry as gevolg van beweging.
Hier sit Nico en Benedek die aand voor die tyd besig om ons pen te bespreek. Hulle het selfs op Google Earth gaan kyk vir enige werkbare kontoere.
Nico letterlik ‘n uur voor ons op die water kan gaan en elke aas word sorgvuldig beplan en gelaai.


AASKEUSES

Die Spicy Crab een was die een waarop die groot karp uitgekom het wat deur Alleman geland is.
Die foto illustreer net hoe groot party van hierdie hoekase is. Partykeer laai mens twee van hierdie 30mm boilies bo-op mekaar.

Terwyl die manne die grense gaan pen het, het hulle ook sommer gaan kyk hoe lyk ons water en waar die beste plekke is. Ongelukkig het hulle gesigte boekdele geskryf toe hulle terugkom en ek het besef ons is in vir ‘n moeilike ses dae langs die water. Vir dié tyd van die seisoen wei die groot karpe in die vier meter water, terwyl ons diepste water maar 2,60m diep was. Ek kon 300m ver in die meer vaar en nog van die boot afklim in heupdiepte water! Hulle kon ook geen visaktiwiteit op die sonar optel nie, so al wat ons kon doen was om te bid iets kom verby en tel ons aas op. Ons lyne was slaggereed om in te vat maar ons sou moes vinnig maak aangesien die weer skielik weer opgesteek het, so ons was gelukkig om darem drie van ons vier stokke in te kry voor die ligte ons gekeer het as gevolg van die groot golwe en sterk wind.

Nou was dit wag en bid vir daardie eerste vis. Ongelukkig was aand een bitter moeilik en weens die weer kon ons glad nie weer lyne invat nie; ons bure het dit egter beter gemaak met heerlike kos en natuurlik daai gevaarlike oom met die naam palinka! Dit het ons kans gegee om baie stories te deel en mekaar beter te leer ken. Ons het sommer na aand een reeds soos ou vriende gevoel.

Dag twee het dieselfde afgeskop en ons kon eers laatmiddag weer lyne invat. Intussen was daar reeds spanne op die noord- en oosoewers wat vis oor die 20kg geland het. Die voordeel wat daardie spanne gehad het was nie net die diepte van die water nie, maar ook dat die wind en rowwe water hulle nie so beïnvloed het soos vir ons nie, so hulle kon meer kere op die water gaan. Nóg ‘n voordeel vir hulle was die feit dat hulle kon gooi tot by vier meter water en sodoende kon hulle bly hengel al was bote nie toegelaat nie. Ons kon darem op aand twee vier lyne in die water kry en dit het ons reeds beter laat slaap.

Hierdie akkedis het elke dag, wat daar wel son was, vir ons kom kuier en op die warm klip kom bak.
Die vlag het daagliks trots gewapper.


Hier is een van die betonlode wat ons bure self gegiet het vir die kompetisie.
Hier is een van ons ase reg om in te vat. Dit is skrikwekkend om te dink mens voer elke keer bykans 1kg se boilies per stok.
Die beamptes kom inspekteer jou boot en maak seker hy is op standaard. As alles reg is ontvang jy dié bordjie as bewys dat jou boot veilig en geskik is.
Die garnale kom voor in die dam. Omtrent elke klip wat jy optel het van die garnale. Dit is die rede hoekom hierdie karpe so groot word – dit is al die natuurlike kos in die dam.
Nico het so paar van hierdie geland. Al die vis was in baie goeie kondisie maar net jammer hulle was nie swaar genoeg nie.
Alleman sit en bewonder die pragtige sonsondergang.
Die voorlaaste middag en die foto spreek boekdele. Alleman wag vir net daardie een groot vis om te vat, en ja, ek het na my mense by die huis verlang.

Nou was die hoop op die alarms om ons te laat weet as daardie groot vis aan ons aas suig. Dit was omtrent drie-uur op die derde oggend toe Benedek se alarm ons wakker gemaak het, maar dit het aanvanklik gelyk of die vis die aas uitgespoeg het. Ons het verder gaan slaap en die stok was die res van die aand doodstil. Die volgende dag was die weer bietjie beter en was daar hoop vir ‘n beter hengeldag. Benedek moes gou dorp toe gaan om ‘n paar goedjies te koop en ek en Nico het besluit om al die stokke in te bring vir vars aas.

Ek het Benedek se stok wat die vorige aand gebiep het ingebring en dadelik het ek gevoel iets trek terug aan die anderkant. Ons reël van die begin af was: maak nie saak wie se stok byt nie, ons maak beurte en daai persoon wat die vis land se vis sal dit wees. Die opwinding was groot toe Riaan Alleman etlike oomblikke later ‘n pragtige karp van 16,10kg land, nie net was dit ons eerste vis nie maar was ek ook die eerste Suid-Afrikaner wat ooit ‘n vis kon land by die IBCC – dit was voorwaar ‘n trotse oomblik! Mens kan nie glo wat so ‘n vis aan die span se moraal doen nie, en daar het groot opwinding in die kamp geheers. Ons het die res van die dag nog so ‘n paar jong vis geland maar ongelukkig was nie een bo 10kg nie en het dit nie vir die sak getel nie.



En hier is hy, Crazy Carpers se eerste en enigste weegvis!
Nico maak hom oop en hy is heelwat groter as wat ons aanvanklik geskat het.
Trotse span en trotse Alleman – 16,10kg – wat ‘n mooi vis!
Benedek se blydskap kan duidelik gesien word. Dit het die hele moraal in die kamp verander.

Die res van die dae was maar op en af wat die hengel aanbetref, die weer het nie mooi saamgespeel nie en dit het hengel uiters moeilik gemaak. Die bure het darem gesorg dat die moraal hoog bly en ons het lekker oor-en-weer gekuier. Ons het hulle ook bederf met ‘n lekker tradisionele Suid-Afrikaanse braai wat bestaan het uit plankie-steak, hoendervlerkies, wors en natuurlik heerlike braaibroodjies. Hulle het daardie steak en braaibroodjies só geniet daar was nie eers vir ons gewees nie, hulle het omtrent geëet dat die spoeg spat! Op hulle beurt het hulle ons bederf met tradisionele Hongaarse disse waarvan baie gepaardgaan met heerlike tuisgebakte brode en soppe, en dit was hemels!

Ons kon ongelukkig niks verdere weegvis land vir die oorblywende dae nie, maar ons het voorwaar elke oomblik geniet. Die laaste dag het aangebreek en ons bure, of moet ek eerder sê nuwe vriende en vriendin, het ons bederf met geskenke wat onder andere hulle spanhoedjies insluit. Ons het ook getekende vlae uitgeruil en sal die vriendskap vir altyd koester. Alle lyne moes teen agt-uur uit wees en dit was tyd vir die groot oppak. Die prysuitdeling was die middag om drie-uur, so dit het ons darem tyd gegee om by ons blyplek om te gaan en darem te skeer en ‘n lekker warm stort te vat.



Op die laaste aand sê ons totsiens aan Balaton. Dankie vir great memories en nuwe vriende. Ons sal jou weer sien!
Die dag na die kompetisie. Een sny pizza daar is so groot soos ses snye hier – Alleman was omtrent dik geëet.

Die prysuitdeling was weer uit die boonste rakke en dit is regtig iets wat die res van my lewe by my sal bly. Hulle het ons Suid-Afrikaanse span omtrent op hulle hande gedra en ons was selfs op die prysuitdeling bedank dat ons van sover gekom het. Ek weet Crazy Carpers het die pad geteer vir baie Suid-Afrikaanse spanne in die toekoms, en wie weet, dalk sien hulle ons weer.

Die volgende paar dae het ons gebruik om al die gehuurde toerusting terug te vat en so ook die huurvoertuig. Spesiale dank aan Benedek wat alles gereël het. Jy was ‘n spanbestuurder, hengelaar en vriend duisend!

Soos Riaan Alleman altyd sê: “Waar is dit lekker? Hier was dit ongelooflik lekker!”

So ‘n paar wenke as lesers so iets wil aanpak:

  • Maak seker jou paspoort en visas is betyds in plek – ons het amper te laat gewag!
  • Begin al lank voor die tyd beplan vir toerusting soos bote, ensomeer aangesien baie spanne dit daar huur en hoe langer jy wag, hoe duurder vra hulle jou.
  • Kry vir jou verkieslik iemand soos Benedek aan daardie kant; dit help baie met kommunikasie.
  • Maak ook seker jy het genoeg voer; ongelukkig voer jy daar net met boilies en jy gebruik 1kg per stok per invatslag, dit werk uit op amper 12 Euros per stok.
  • Karhuur en verblyf is ontsaglik duur maar ongelukkig kan jy nie sonder dit klaarkom nie.
  • Vat maar genoeg warm klere saam; Europa het sommer vier seisoene op een dag.
  • As jy soos ek is en moet rondbeweeg op die vliegtuig, haal maar daai ekstra sente uit om in die gangetjie te sit, anders raak die vlug bitter lank.
  • Moenie enige ongemerkte vleis koop nie, tensy jy van perd hou.
  • Maak maar seker jy gaan so paar dae voor die tyd, want daar is redelik baie dinge om in plek te kry voor so ‘n kompetisie.
  • As jy op Istanbul land bekyk die pryse mooi; dit is vrek duur om daar te eet, koop maar skyfies of iets, want ons het vir twee broodjies met drinkgoed amper R900 betaal!

‘n Terugblik op Deel 1 …

en Deel 2.

The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x