fbpx
NewsTight LinesTournament News

21 Spesie by Meerensee

Deur Charmagne Grimbeek

Merk die datum: 5 – 7 Julie 2019

Slegs 150 bote kan deelneem. Inskryfvorm: www.msbc.co.za

Die jaar se 21 Spesie is terug soos van ouds met 21 spesies vis wat uit die see en meer gevang kan word. Verlede jaar het die bekende toernooi net 10 spesies geteiken. Lees gerus 2018 se artikel, Stywe Lyne was daar!

Volpunte vir FULL MARX tydens 21 Spesie 2018

Etienne Marx wen R50 000 met sy 34,8kg couta!
Heinrich, Ruben, Etienne en Frans Marx se bootnaam, Full Marx, het inderdaad volpunte gekry tydens die 21 Spesie! Heinrich stap ook weg met die prys vir swaarste tuna.

Stywe Lyne het vanjaar se Meerensee Bootklub se 21 Spesietoernooi op uitnodiging bygewoon. Die Meerensee Bootklub het sedert sy ontstaan in 1984 al hoe meer hengelfasette aanvaar – meer-, diepsee- en kajakhengel is nou deel van diè gesogte klub. Die 21 Spesietoernooi is nou verander na net 10 spesies en het op die naweek van 7 en 8 Julie sy 26ste jaar gevier.

77 Bote met meer as 300 hengelaars – mans, dames en juniors – het hierdie jaar ingeskryf. Hooforganiseerder Robin Vermaak het “goodie bags” gevul met ’n kaart waar visvang verbode was, hemde en verskeie geskenke van goedhartige borge uitgedeel tydens die skippersvergadering Vrydagaand voor die toernooi begin het. Veiligheid was eerste prioriteit deurdat elke skipper daagliks ’n plaatjie gekry het voor hul die see kon invaar; so ook moes die plaatjie terug besorg word met hul terugkoms. Die radiokanaal was vasgestel en belangrike reëls was aan almal oorgedra.

Die bote het met eerste lig en wanneer veilig genoeg was volgens die beheerkamer, tien bote op ’n slag laat wegspring vanaf Meerensee- en Richardsbaai Skibootklubs. Die hengelgebied was tussen Mtunzini en St Lucia se lighuis, asook ook in die hawemeer. So het die deelnemers dan suid beweeg na Mtunzini area en noord na St Lucia Lighuis se rigting. Elke rigting het verskillende weersomstandighede gehad – waar dit aan die eenkant gereën het, het die teenoorgestelde rigting mooi weer vir die diepseehengelaars gehad.

Gelukkig was die klimaat by Meerenseeklub gerieflik om ’n groot gedeelte van die naweek mouloos rond te loop, en dit terwyl daar ’n koue front in die binneland was. Byna 50 juniors het aan die vang en vrylaat kompetisie by die klub se oewer in die meer deelgeneem. Raumé Herbst weet net hoe om met jong hengelaars te werk en saam met Crystal Hinze kon hul 260 visse in die twee dae inweeg waarvan 257 suksesvol vrygelaat was. Groot was my verbasing oor die uitgebreide kennis wat die jongspan uitgestal het – nie net is die name van die spesies geken nie, maar ook die presiese aas wat voorberei moet word om hulle te vang. Die junior wat die meeste spesies vang, wen ’n ekstra prys, bo en behalwe die visstok en katrol pakket wat elke kind wat ingeskryf het “gewen” en ontvang het met prysuitdeling, geborg deur Tinus Oosthuizen van HECS Laboratory.

Om terug te kom na dié wat uit op die diepsee was, met inweeg het die deelnemers die weegstasie vol verwagting genader en so was elkeen se vangs aangeteken. Rob Cowan het almal vermaak met die mikrofoon waar hy by die inweegstasie gestaan het en vir die gehoor elke deelnemer se vangs met gewig deurgegee en van sy kennis gedeel het oor die verskeie spesies. Onder andere het die woord ook versprei dat daar baie meer Natal snoeke tydens hierdie kompetisie uitgekom het as tydens die Snoek Derby wat dieselfde naweek by St Lucia was. Net Saterdag alleen was 17 Natal snoeke met ’n gewig van 93,4kg ingeweeg waar daar slegs 11 snoek by St Lucia ingeweeg was.

Oor die twee dae is 652kg vis ingeweeg, waarvan Etienne Marx wat vanaf die boot, Full Marx, saam met sy pa en broers deelgeneem het, se couta 34,8kg geweeg het! Hy was met die prysuitdeling as algehele wenner uitgewys wat hom R50 000 in die sak gebring het. (Sy eie storie net hierna)

Wat diè kompetisie uniek maak is die tien spesie-pryse se geskenkwaarde van R30 000 vir elke spesie. Ongelukkig is net agt van hierdie pryse gewen want niemand kon ’n wahoo of ’n leervis na die weegskaal bring nie. Die agt spesies wat ingeweeg was het ingesluit king mackerel (couta), Natal snoek, soldier, slinger, rockcod, kabeljou, knorhaan (grunter) en ’n tuna van 16,5kg wat nogal deur Heinrich Marx (die broer van die algehele wenner!) gevang is! Die ander twee pryse is toe deur die organiseerders as gelukkige trekkings beskikbaar gestel vir die skippers, ’n baie eerbare gebaar.

Ons het ’n klomp aangename mense ontmoet, ou vriende raakgeloop en baie nuwes bygekry. So ook het ons kennis verbreed deur saam met Bollie en sy dogter Sharon Craus op hul kommersiële boot uit te gaan om die bote af te sien soos wat hulle die see ingevaar het op pad na die groot soektog vir ’n wenvis, en op die koop toe ook om ’n dag se hardewerk vanuit ’n kommersiële hengelaar te beleef.

Meerensee Bootklub het al die borge bedank vir hul oop hand. Sonder hulle sou die kompetisie nie soveel hengelaars met glimlagte huistoe kon stuur nie. Spinner Tackle en Basil Manning het hengelgerei geskenk, Yamaha Richards Bay het produkte geskenk, Angola Adventures Safari’s, Digit, Velocity, Mercury, Nel’s Marine, Ndunu Spares, Himo Motors en nog baie ander borge word opreg waardeer vir hul bydraes om die hengelsport te bevorder.


ALGEHELE WENNER

Etienne Marx , met ‘n king mackerel (couta) van 34,8kg!

10 SPESIEWENNERS:

  • King mackerel (couta) 30,8kg – Vincent McKinnon
  • Natal snoek 9,5kg – Sian Pretorius
  • Soldier 4,1kg – Jan Broodryk
  • Slinger 2,3kg – Soné Coleman
  • Rockcod 4,8kg – Attie Pohl
  • Kabeljou 17,3kg – Schalk Vermaak
  • Knorhaan 3,1kg – Liesl Byleveldt
  • Tuna 16,5kg – Heinrich Marx
  • Leervis – Geen
  • Wahoo – Geen

 “CATCH & RELEASE KIDS” WENNERS

  • Swaarste vis – Arno Stander, 29 vis vir 4,89kg;
  • Meeste vis – Nikita Visser, 37 vis vir 3,38kg.
  • 1ste – Zander Visser
  • 2de – Liam de Bruyn
  • 3de – Zoe de Bruyn
  • Mees verdienstelike hengelaar – Liam Lourens
  • Meeste spesies gevang – Keanu Diedericks, 11 visspesies.

41650109_1789582884491369_7634851173811355648_o_1789582881158036

Image 1 of 150


ONS WENSTORIE

Om ’n diepsee hengeltoernooi te wen is ’n eiesoortige avontuur, soos vertel deur Frans Marx, die skipper van die boot Full Marx en pa van die algehele en ’n spesie wenner.

Heinrich en Etienne met die algehele wen vis van 34,8kg.

Vrydagmiddag, 6 Julie, om ongeveer 15:40 skryf ek en my drie seuns Etienne, Heinrich en Ruben met ons 17,6 voet Yeld Cat boot genaamd “Full Marx” in vir die diepsee- afdeling van die Meerensee Bootklub se 10 Spesie Kompetisie. Ons was ’n laat inskrywing en kompetisie nommer 66 is aan ons toegeken.

Saterdagoggend ongeveer 06:20 word ons ter water gelaat en sit ons af na die area tussen Vyfmyl en Groenkop, net noord van Richardsbaai-hawe. Soos talle ander van die kompetisie bote mik ons vir Natalsnoek wat op hierdie tyd van die jaar volop is. Volop vir al die bote behalwe “Full Marx”!

Ons doen alles moontlik om ’n snoek te vang, maar vir agt en ’n half ure kry ons nie een trek op ons stokke nie – en dit terwyl meeste van die bote om ons elk dubbel getalle snoek laai! Mismoedig en bykans terug in die hawemond, op ongeveer 11 meter diepte water skreeu een van ons katrolle vir die eerste keer. Dis ’n paar minute voor 16:00 met die inweeg afsnytyd skaars ’n halfuur weg, en dis ’n vis wat heelwat sterker as ’n Natalsnoek baklei. Heinrich is die man met die vis aan en die stok buig behoorlik! Ons sien vinnig dis ’n vis wat diep wil baklei, maar gelukkig vir ons is die water slegs 11 meter diep.

Na ongeveer 8 minute sien ek die gasbottel-lyf van die geelvin-tuna onder die boot. Heinrich druk die vis so hard moontlik sodat ons die inweeg afsny kan haal. Ruben is kameraman en neem foto’s in die laatmiddag skemer van Heinrich en die stok wat sekel-buig. Met die vis se eerste draai binne gaffel afstand haak ek dit, en nog voor die vis ordentlik op die dek is vra Etienne toestemming om die hawe binne te gaan en jaag ons vir die skaal. Ons maak dit met ’n paar minute en weeg die tuna op 16,5kg!

Heinrich met sy 16,5kg tuna wat hom die spesieprys laat wen het.

Van geen vis tot voorlopers in die tuna-afdeling in die laaste halfuur van dag een. Van mismoedig en amper nie lus vir die tweede dag nie, tot vol planne en opgewonde vir dag twee!

By die inweegkamp hoor ek egter van die 30,8 kg couta wat reeds geweeg is en ek sê vir die seuns dat die wenvis reeds gevang en geweeg is. Ons besluit egter (veral na ons mislukte snoek poging!) om te hou by ons strategie vir dag twee, synde om suid te vaar na waar die wrak van die Petingo lê om te kyk of ons ’n couta kon raakry.

Sondagoggend is ons om 06:45 by die hawe mond uit sonder Ruben aangesien hy steeds met ’n infeksie in sy een oog gesukkel het. Uit die hawe draai ons suid teen ’n wind en see in wat heelwat slegter is as die voorspelling wat ons na gekyk het! Teen die suidewind en deur ’n lekker reënbui vat dit ons amper ’n uur om die teikenarea te bereik. Die see bly stamperig en ons reën sopnat, selfs met baadjies aan. Ons sit net vier stokke uit met dooie aas – twee ase op die oppervlak en twee bietjie dieper. Daar is net drie bote op die wrak wat ideaal is om die area optimaal te werk. Na ongeveer ’n uur en ’n half is ons die enigste oorblywende boot wat die wrak area werk. Teen daardie tyd het ons een van ons oppervlak ase met ’n lewendige elf vervang.

Ek kon die elf elke nou en dan sien spartel op die oppervlak. Net links en bietjie verder uit het die lang silwer lyf van ons enigste Walla-Walla ook geblink in die water. Enige selfrespekterende roofvis moes sekerlik belangstelling toon! En toe bars chaos los. Die stok met die Walla skreeu vir 5 sekondes maar raak net so skielik stil, voordat die stok met die elf aan wegspring teen ’n spoed wat Vettel en Hamilton sou laat skaam kry! Etienne is op die stok en raak angstig oor die hoeveelheid lyn wat die vis vat terwyl ek en Hein die ander stokke inbring.

Die vis hardloop suid en ek ry met ’n boog agter die lyn aan. Die see is steeds stamperig met die deinings uit die suide. Etienne werk hard en wen lyn, maar elke paar minute laat loop die vis weer. Van ’n aanvanklike reguit lyn op die oppervlak, duik die vis skielik en moet ek wegdraai om die lyn van onder die boot weg te hou. Heinrich dirigeer vir Etienne op sy tegniek en veg vermoë en ek kry ook so tussendeur instruksies oor hoe om te ry en om te kyk waar die lyn is! Teen hierdie tyd weet ons dis ’n redelike groot vis.

Na omtrent tien minute sien ons die vis vir die eerste keer omtrent 10 of so 15 meter van die boot af – ’n lang silwer lyf! Ek het skaars vir Etienne gewaarsku om op te pas vir die tweede loop toe die vis weer lyn vat met ’n boog deur die water. Etienne wen egter stadig maar aanhoudend lyn terug, terwyl Hein reg staan met die gaffel. Die couta verskyn skielik in die kruin van die deining so 10 meter van ons af, en met daardie oogopslag besef ons vir die eerste keer dat dit die spreekwoordelike “krokodil” is.

Met die eerste draai binne arm-rek afstand slaan Hein die gaffel sekuur en met blitsige spoed net agter die monster se kop in. Hy trek met alle mag die vis tot teen die boot en toe stop hy… “Moenie net staan en kyk nie, kom help my!” is sy vriendelike versoek aan ouer broer Etienne. Wel dit was dalk nie sy presiese woorde nie, maar ons los dit daarby!

Etienne sit hand by en die vis beland op die dek. Ek en Hein begin bykans gelyk skreeu en dans! Etienne is die kalmer een, maar selfs hy begin feesvier.

Die gelukwense vloei! Ek is van mening dat ons vis ’n paar kilogram oor 25kg is, maar Heinrich is oortuig dis ten minste 31kg! Etienne wil niks waag met ’n skatting nie.

Die see is steeds omgekrap en ons reën elke nou en dan weer nat, en dis nie lank nie of ons besluit dat die vis moet geweeg word en ons senuwees moet bietjie kalmer word. Etienne ry rustig terug hawe toe, Heinrich sit reg langs ons vangs op die dek en ek kyk elke paar minute om na die vis om seker te maak dit het nie kleiner geword nie. Die spanning bou op hoe nader ons aan die weegskaal kom – is dit oor 30kg en indien wel, met hoeveel?!

Ons laai die boot en trek die sleepwa tot naby die weegskaal. Heinrich gee die vis tussen die motors deur aan en Etienne loop die kort entjie tot by die skaal. Die grote is op die haak – 34,8kg! Etienne se grootste couta en ’n nuwe rekord op “Full Marx” en ons is in ekstase!

Ons wen op die ou einde die algehele eerste prys met Etienne se 34,8kg couta, en op die koop toe ook die tuna spesieprys met Heinrich se 16,5kg geelvin- tuna. Ek bedank heelhartig die Meerensee Bootklub en spesifiek die komitee vir hul harde werk en die borge vir hul ondersteuning en vrygewigheid. Die grootste prys bly egter steeds die ongelooflike belewenis saam met my seuns!


BARAK CARAVAN HIRE

Stywe Lyne bedank Barak Caravan Hire vir ons lekker verblyf tydens die naweek reg voor die meer. Hulle het vir ons ’n volledig toegeruste woonwa met ’n tent, tafel en vier stoele netjies opgeslaan. Al wat nodig was, was ons eie beddegoed. Kontak Frans gerus by 084 260 0471 en besoek hul Facebook bladsy om die verskeie woonwaens te sien. Die areas waar hul kamp opslaan is Richardsbaai en St Lucia se Sugarloaf kampeer terrein.


STYWE LYNE IN RICHARDSBAAI

Ons het met die Ford Ranger, verskaf deur ons wieleborg, Gys Pitzer Motoring, vanaf Pretoria met gemak deur die plattelandse dorpe vanaf die N4, deur Hendrina, Ermelo, Piet Retief (eMkhondo), Pongola, toe die N2 reguit na Richardsbaai gery.

Tags
Close