Bank AnglerFishing TipsUncategorized

Aas-aanbiedinge en Dips

Woorde: Ulrich Sirgel

Watter tipe aas moet ek gebruik? Watter “floats” werk?  Moet die deeg met suiker aangemaak word? Sal pitte werk?  Hoe groot moet my aas wees?”  Ons word gereeld met hierdie tipe vrae gekonfronteer langs die water, en die menings is baie uiteenlopend….

Deeg

Vir my was daar geen beter deeg as gewone koekmeel met ‘n bietjie water en suiker nie.  Ek het jare lank in hierdie resep geglo en ek is seker hy werk tot vandag toe vir menige hengelaar. Op ‘n dag het my goeie vriend, Johan Hoffman aan my genoem dat hy sy deeg bou met semolina (in plaas van koekmeel), ‘n mespunt suiker en water.  Ek het vas geglo in my resep, maar Johan het my oorreed om dit te prober en ek was baie beïndruk!  Die deeg het ‘n lieflike tekstuur en die semolina gee aan die deeg ‘n baie elastiese gevoel en die tekstuur hou soveel beter op ‘n warm dag.  Die dae van deeg wat aan jou vingers vasklou was verby….!

Jy benodig water, semolinameel, suiker, ‘n mengbak, teelepel en ‘n sakkie om die deeg in te bêre.

Hoe om Semolina-deeg reg aan te maak:

  1. Gebruik sowat 50ml afgekoelde kookwater in ’n koppie.
  2. Voeg 10ml suiker by.
  3. Roer tot suiker opgelos is.
  4. Voeg 50ml semolina by die watermengsel en roer tot alle klonte uit is.
  5. Voeg nou stadig maar seker nog semolina by tot die deeg net-net  vaskleef aan ‘n mespunt.
  6. Laat staan die deeg vir 10 minute sodat water deur die semolina geabsorbeer kan word.
  7. Maak seker dat die tekstuur volgens jou voorkeur is. Nog semolina kan bygevoeg word totdat die verlangde tekstuur bereik is.
  8. Plaas die deeg in ‘n banksakkie sodat dit nie uitdroog nie en die tekstuur onveranderd kan bly.

Floaties

Op sekere dae is “floaties” baie doeltreffend langs die water. Karp en graskarp is gek oor “floats”.  Hierdie ligter aas-aanbieding veroorsaak dat die vis eenvoudig die aas makliker opgesuig kry. Tydens die winterseisoen ‘n paar jaar gelede het ek deeglike navorsing gedoen rondom ‘n float-en-deeg aas-aanbieding en gevind dat dit ‘n wesenlike positiewe verskil aan die byttempo gemaak het. Ek het ook egter al ‘n toets gedruip met “floaties” net na “spawn” tyd. Hier rondom September, net na die eerste reëns, is die vis se bekke gewoonlik baie sag en skeur die hoek dus maklik uit die vis se mond. Die vis kompeteer ook vir kos in die somer, en dit gebeur dan dat die hoek nie altyd die vis so diep in sy mond haak nie. Dit het tot gevolg dat hengelaars gereeld vis verloor. In hierdie omstandighede is dit beter om net deeg of net mieliepitte op te sit. Die vis moet hierdie ase fisies opsuig vanaf die bodem en daar is dan ‘n groter kans vir ‘n stewig haak “Hook set”.

Mielies

Daar is ook ‘n plek vir mielies in jou kas. Die dae wat ek sonder mieliepitte by die water aankom is lankal verby. Ek het dit tydens my kompeterende dae geleer op daardie dae wat alles wat byt onder 150g is en nie tel nie. ‘n Mieliepit gee darem vir jou op ‘n meer gereelde basis ‘n groter vis. Ek het ook nou onlangs op sosiale geleenthede groter visse met mieliepitte gevang. Hier het ek die pit binne-in die voerbol gesit. Die maklikste manier om die pitte in die voerbol in te kry is om ’n gat met jou wysvinger te druk. Plaas die pitte in die gat en voeg dan ’n klein bietjie voer in die gat. Druk en vorm jou voerbol dan weer soos hy was. Die idee is dat die jonger vis deur die voerbol besig gehou word en die groter vis dan kans kry om by die voer en jou aas aanbieding binne die voer uit te kom. Die groter karp kry in ’n paar sekondes die hele voerbol opgebreek en jy sit met ’n beter vis aan die voorpunt van jou lyn.

…Maggots of Wurms: In sommige waters verkies karp ‘n vleisasie soos maggots of wurms en dis hier waar hierdie kombinasie wondere kan verrig. Alhoewel ‘n klein hoekie hier met sukses gebruik kan word, is hoekgroottes soos ‘n nr 1 tot 2 dalk meer geskik vir hierdie groter aas.

Wurms & ander vleis-ase

Om sonder wurms by ‘n dam op te daag is ’n groot fout. Ek het verlede jaar ’n kompetisie gewen te danke aan wurms.  Tom Ebersohn het ‘n paar maande vroeër op ‘n klubkompetisie presies vir ons gewys dat die jong babers nie ‘n sagte wurm kan weerstaan nie. Dieselfde geld vir rysmiere. By sekere damme wil die vis niks anders as rysmiere hê nie. Die kop van ‘n graskarp is ook dodelike aas vir babers. Die voordeel hier is dat die kleiner babers nie die viskop kan optel nie, en dat jou kans vir ‘n groter baber dan soveel beter is.

Wees voorbereid vir die moontlikhede wat ’n dam vir jou bied, jy weet nooit wanneer jy die regte aas moes saambring nie…

Teken vandag nog in vir al die en vele meer.

Basiese Digitale Lidmaatskap

+ Kry ‘n digitale weergawe van die nuutste Oewerhengelaar Tydskrif, Stywe Lyne Tydskrif OF The Carp Angler Tydskrif.
+ 11 Vorige uitgawes.





R29.00 per Maand of R299.00 Jaarliks

Teken nou in

Premium-Lidmaatskap

+ Kry ‘n digitale weergawe van die nuutste Die Oewerhengelaar, Stywe Lyne en The Carp Angler tydskrifte.
+ Onbeperkte toegang tot 800+ Top gehalte Artikels en Video.
+ Toegang tot ons Digitale Biblioteek.
+ Aaskliniek Handboek 1, 2 & 3.


R49.00 per Maand of R499.00 Jaarliks

Teken nou in

Related Articles

Back to top button