
BAARS INTERNASIONAAL: Team Fish-on-Africa in V.S.A.
WOORDE: Morné Strauss FOTO’S & VIDEO: Verskaf
My broer Jaco en ek het al ons hele lewe lank saam gehengel, en die afgelope vyf jaar het ons begin kompeterend baars hengel saam met die Lowveld Bass Trail, wat hoofsaaklik in die Laeveld plaasvind. Jaco woon in Pretoria en ek in Komatipoort, en dit gee ons die geleentheid om mekaar een keer per maand te sien.
In Julie is ons deur SABAA (SA Bass Angling Association) genader om Suid-Afrika in Amerika te verteenwoordig, en ons het dadelik ingestem, selfs voordat ons enige idee gehad het wat die koste sou wees.
Die kompetisie was oorspronklik geskeduleer om in Monroe, Louisiana plaas te vind, maar Bassmaster het dit later verskuif na Kentucky Lake, Tennessee. Dit het die situasie vir ons bemoeilik, aangesien ons reeds vliegkaartjies gekoop en ‘n boot gereël het met die hulp van Chris Zaldain, ‘n Bassmaster Elite-hengelaar. Ná baie reëlings en oproepe het Jaco uiteindelik alles in plek gekry.
Ons het ‘n begroting van R200 000 opgestel vir die reis. Ons is ongelooflik ondersteun deur ons gemeenskap. Die Lowveld Bass Trail het saamgestaan en meer as R100 000 ingesamel, wat dit vir ons moontlik gemaak het om deel te neem. Dit was ongelooflik om te sien hoe mense mekaar steeds ondersteun.

Op 24 November het ons na Atlanta vertrek en daarna na Nashville. By ons aankoms by Paris Landing Lodge het ons dadelik ons visstokke begin regmaak, al het ons geen idee gehad wat om te verwag nie. Tussen my en Jaco het ons 20 stokke voorberei.
Ons het toe gery om ons boot by Shane Barker van ACS Marine af te haal. Ons is soos beroemdes behandel en het die geleentheid gekry om tussen twee droom-baarsbote te kies: ‘n Ranger of ‘n Phoenix. Ek het onmiddellik die Phoenix gekies, my droomboot.

Oefendae
Ons het drie en ‘n halwe dae gehad om te oefen en daarna drie dae se kompetisie.
Die meer het 280 km se wateroppervlakte waar ons kon hengel. Ons het byna alles gevang behalwe die vis waarvoor ons eintlik gekom het. Daar was ongelooflik baie spesies in die meer. Hoewel ons ‘n paar baarse gevang het, moes hulle langer as 15 duim wees om te tel — vir ons reeds groot visse.

Spesies wat ons gevang het:
- Striped bass
- White bass
- Bluegill
- Largemouth bass
- Hybrid bass
- Spotted bass
- Drum
- Crappie
- Blue cat







Maar ongelukkig nie die smallmouth bass wat ons gesoek het nie!

Laaste oefendag
Die laaste dag was slegs ‘n halwe dag, gevolg deur registrasie. Jaco het voorgestel ons bly binnenshuis, aangesien dit -8°C was, maar ek het aangedring dat ons moet uitgaan en die visse soek. Ons het al ons warm klere aangetrek en vroeg begin.
Ons het aanvanklik met vleglyn gehengel, maar vinnig besef dit werk nie in die koue nie. Met die inkatrol het die lyn gevries voordat dit op die katrol kon kom, en die ogies van die stokke het toegevries — ‘n nagmerrie. Ons het toe ontdek dat as ons die stokke in die water hou, hulle minder vinnig vries.
Met behulp van Lowrance-kaarte het ons vir dieper water langs die hoofrivierbedding gesoek. Jaco het toe die eerste kleinbek-swartbaars vasgehaak, en ek het dit gemerk op die ‘Livesight’. Kort daarna het ek ook een gevang. Die punte was net vyf meter van mekaar af, en ons het geweet ons het ons plek gevind.
Kompetisiedae
Dag 1
Die temperatuur was -10°C en die wind het sterk gewaai. Ons het probeer om op ons merkplek te hengel, maar dit was te gevaarlik. Ons het ‘n baai gevind waar ek ‘n paar baarse gevang het en ons vinnig ‘n sak van vyf visse gemaak het. Herhaalde pogings om terug te gaan na ons verkose plek het misluk as gevolg van golwe wat oor die boot gebreek het. In die laaste halfuur het ons uiteindelik twee visse gevang, wat ons sak op 11 pond gebring het. Ons het dag een in 48ste plek afgesluit.

Dag 2
Bassmaster het die dag gekanselleer weens gevaarlike weerstoestande. Ons het die dag gebruik om die omgewing verder te verken.

Dag 3
Die weer was beter, maar steeds -8°C. Met die ervaring wat ons opgedoen het, het ons lyn verander na fluoro carbon en Vaseline op die stokogies gesmeer om te voorkom dat dit vries.
Ons het reguit na ons plek gegaan en dadelik vis begin vang. Ons het die hele dag daar spandeer en ‘n sak van 21 pond geweeg, wat ons na die 18de plek uit 250 geskuif het.

Hoogtepunt
Hierdie ervaring was die hoogtepunt van ons hengelloopbaan. Al die harde werk van die afgelope paar jaar het beslis die moeite werd geblyk.
Die aas wat ons gebruik het, was die Molix Trago Vibe.
Op die vierde dag het net die top drie bote verder gehengel vir ‘n plek in die Bassmaster Classic.
Wat ‘n belewenis!