BAARSEKSKURSIES: Vroegsomer By Bronkhorstspruitdam

Dit is tydens die kuitskietfase. Die windrigting is verkeerd en die maan ook nie heeltemaal reg nie, maar ek en vriend Sean Waberski het net hierdie spesifieke Saterdag beskikbaar om saam te gaan hengel. Ons stem toe saam op Bronkhorstspruitdam (Bronkies, Dronkwordspruit, noem dit wat jy wil), wat ons lanklaas besoek het te wyte aan die besoedelings probleme daar*¹.

Die faktore wat in ag geneem was, was dat ons nie die heeldag gehad het nie. Van die “groot” erkende baarwaters is hierdie die vinnigste vanaf ons tuistes in Johannesburg om te bereik. Ons neem die snelweg en dan ‘n baie goeie pad na Bon Amanzi, wat baie vinniger en minder vermoeiend is vanaf my huis naby aan die N12 as die ander kant om na Kaia Manzi. Bon Amanzi is natuurlik aan die verste kant naby die damwal wat weer tyd in beslag kan neem, om nie eers te praat van omtrent R100 se boot petrol as jy haastig is om by die ander gewilde plekke uit te kom soos byvoorbeeld die Kraal, Marina of die Reservaat nie.

 Die oord self is egter net ‘n plesier – uiters sindelik en natuurlik bekend vir die trekkers wat jou boot vir jou lanseer en treiler. Die eienaar, meneer Cooke, is immer teenwoordig en dit vir die afgelope dertig jaar. ‘n Mens betaal natuurlik vir die voorreg – op daardie stadium was dit R280 en nou trek dit al by R340.

Dis nog te vroeg  vir die trekkerdiens en na ‘n beker koffie sit ons self die boot in. Maar net toe Sean die bakkie wil parkeer, kom die personeel daar aan en hul stuur hom om eers die treiler te gaan afhaak en apart te parkeer. Ek begin toe maar om ‘n spinnerbait in die watergras langs die lanseerblad te gooi en vang dadelik ‘n 700 grammer, wat natuurlik ideaal was.

Met Sean nou aan boord, het ek al vooraf besluit om na meer as ‘n dekade vir die eerste keer aan Bonamanzi se kant te begin hengel. Diè tyd elke jaar is daar heelwat bote wat die kant teiken, maar ons jaag ander kant toe. Dis eintlik snaaks hoe ons verby ander bote gaan wat in die teenoorgestelde rigting op pad is. Ons het geskerts dat hulle eintlik by Bonamanzi moes lanseer en ons by Kaia Manzi!

Daar is juis ‘n ander boot besig by Bonamanzi se oewer en ons begin toe waar die eerste vlak rotse is en die kranse begin. Geen byte daar nie, maar in die relatief teleurstellende halfuur teen die huise af het ons elkeen twee “weegbare” vis gevang. Sean het die een vlak  op ‘n 3.5” Cane Thumper sagte swimbait in Green Pumpkin met blou kleur  gevang, en die ander een dieper teen ‘n drywende kaai met ‘n mojo Damiki grub, Junebug met ‘n chartreuse gedoopte stert. Myne was gevang met ‘n wit-en-chartreuse spinnerbait en ‘n Spro Lil John MD in Spooky Shad kleur. Ter wille van die beginners, gaan dit hier hoofsaaklik oor watter deel van die waterkolom geteiken was. Die mojo-strop was om die vis onder in dieper water te vang teenoor die spinnerbait wat die vis in die vlak plante naby die kant gevang het.



Opvallend was die helder skoonheid van die water, wat ons aangenaam verras het omdat dit so besoedel en groen etlike maande vantevore was. Dit was mees waarskynlik omdat die dam nou propvol was wat net die besoedeling verdun het.

KAAIE

Ons sal altyd ‘n area deeglik  “junkfish”. Nie net ‘n verskeidenheid tegnieke deurjaag nie, maar elkeen ook sorgvuldig tot sy maksimum potensiaal toepas. Dit bly egter die minder faktor te wees teenoor die spesifieke area wat steeds die heel belangrikste bly. Myns insiens, terwyl die area gewoonlik as 80% van die patroon beskou word, dat dit hierdie tyd van die seisoen eerder bo die 90% is. Met ander woorde, as jy net die vis kan opspoor, jy feitlik enige aas kan gebruik. Dit omdat hulle skool, maar net op baie spesifieke plekke.

Tyd was ook ‘n faktor, en na ‘n halfuur is ons na die diep kaaie by Kungwini. Die diepte val steil na dertig voet, wat tegnieke bemoeilik, maar ons doen gewoonlik goed daar. Na sowat nog ‘n halfuur egter kon ons net een vis vasmaak, ‘n mooie vir Sean.

Volgende stop was die huise met vlakker kaaie, net anderkant Kungwini se lanseerblad. Dit is steeds diep daar, maar omtrent die helfte so diep as die voriges. Hier het ons in vorige seisoene al by tye vyftig- plus op ‘n dag gevang (maar meestal onder ‘n kilo) , maar hierdie keer weer nie ‘n byt gekry nie, ‘n kommerwekkende resultaat.

Sean Waberski het met ‘n unieke jig gevang: dit het ‘n klein ronde tungsten kop, dan het hy twee rompies bo-op mekaar aangesit, een wit en een bruin en alles afgerond met ‘n heel Rocket Craw as ‘n treiler.
davSean se unieke jig.

KLIPKRANSE

Die area oorkant die reservaat het ons lanklaas besoek omdat daar gewoonlik baie breëblaar landgras op die oppervlak gedryf het. Dit was onwettig in die water deur van die oorde se tuindienste gestort en het met elke gooi om ‘n mens se lyn gedraai. Maar met die hoër watervlak tesame met die waarskuwings wat deur die wateraksie groep uitgestuur was, vat ons maar die kans met die tyd en petrol wat in beslag geneem word. ‘n Goeie roep, want hier het ons vis gevang.

Daar was wel ander baarsbote en ons teiken vanaf net anderkant die gewilde ou lanseerblad die kliphellings. Dit was harde werk, maar elke nou en dan was daar ‘n byt op of ‘n kunsvissie, maar hoofsaaklik op mojo- stroppe. Sean het ‘n Ringworm met chartreuse stert gebruik en ek ‘n Tabtail grub.



Teen die tyd dat ons net voor die kranse was wat ‘n ander boot so pas verlaat het, het ons vis van bo ‘n kilogram in gewig begin vang. Sean was eerste aan die beurt. Hy het die diepste bodem pynlik stadig gewerk met ‘n unieke jig. Dit het ‘n klein ronde tungsten kop. Dan het hy twee rompies bo-op mekaar aangesit, een wit en een bruin. Alles is afgerond met ‘n heel Rocket Craw as treiler. Dit was ook nie die eerste keer dat hy daarmee so goed vaar nie. Ek het gou geleer, maar eerder ‘n #3 mojo met ‘n grub vir minute lank op een plek stil te hou. My grootste twee was 1.4kg en 1.2kg.

VLAK

Toe hierdie byt weer stil raak, gaan probeer ons die vlakker gedeelte by die riete wat na die Catamaran Klub toe strek, maar meer weg van die riete self. Hier het ons al baars van bo 2kg gevang (al is dit lank gelede). Ons het sporadies vis gevang in dieptes tussen vier en agt voet teenaan geïsoleerde watergras. Die meeste was klein , maar daar was ook ‘n paar 500 grammers. Weereens het ons etlike tegnieke probeer om baie water te dek, waarvan my bestes gekom het met ‘n swemmende Damiki grub in Root Cinnamon kleur en Sean s’n met ‘n blou en silwer Sebile Liplose kunsvissie.

Dit was hierdie einste Sebile wat later vir hom by die twintig vis besorg het in daardie area toe hy op ‘n skool afkom. Ekself besit nie daardie model nie en het meer modelle probeer as wat ek vis gevang het.

Martin Engelke met een van sy twee swaarste visse (1,4kg en 1,2kg) van die dag. ‘n #3 Mojo met ‘n grub is vir minute lank op een plek stilgehou.

TERUG BY DIE KAAIE

Ons moes teen middagete aan wal wees en met nog sowat ‘n halfuur oor, jaag ons vir ‘n laaste poging by die diep kaaie. Hier en daar het ‘n vis uitgekom, en van hulle by die kilogram, maar hulle was nie besig om te skool nie en was ook nie by presies dieselfde dekking soos byvoorbeeld die binne-of buitekant van ‘n drywende kaai nie.

En toe moes ons oppak …

*¹ Oewerbewoners onder die vaandel van die Bronkhorstspruit Catchment Management Forum is hard besig om met biobeheer die dam van hiasinte skoon te maak, en het reeds heelwat sukses daarmee behaal. – Red.



The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x