BAARSKLASKAMER: BEKRUIP JOU PROOI

Jy het ‘n beter kans om ‘n baars te vang as dit nie van jou bewus is nie.

Ons baarshengelgemeenskap bly maar ‘n raserige en hoogs sigbare klomp. Die “boetiek” element van die sport is sonder twyfel daarvoor verantwoordelik. Net soos die blink bote, asemrowende stokke en katrolle en die juweelagtige kunsase ons gevange hou, het die gebruik daarvan ‘n ongelukkige nagevolg in dat dit ons teenwoordigheid verklik.

Want ons sigbaarheid is ongelukkig teenstrydig daarmee dat ons jag maak op ‘n prooi, een wie se sintuie baie gevorderd is en boonop baie sensitief omtrent hul onmiddellike omgewing is.

Dis veral in sulke skoon water waar mens so stil moontlik moet beweeg!

Omdat swartbaars ‘n nuuskierige nuk in hulle het en geneig is om net in die naaste sekonde in dekking weg te smelt, besef ons nie dat ons hulle so pas op hulle hoede geplaas het nie. Hierdie reaksie verskil met diè van karp of geelvis, wat so vinnig wegspaander dat dit moeilik is om hulle met die oog te volg. Dieselfde geld vir voëls wat jou goed laat verstaan dat hulle weet jy’s daar. Kleiner baars kan dan nog byt, maar die grotes sal nie.

Nou, hoe bekruip mens iets wat ‘n meester is van wegkruip? Soldate word lank en baie intensief opgelei hiervoor en as sulks gaan hierdie artikel slegs enkele wenke behandel.

Klank is sekerlik ‘n vis se hoogs ontwikkelde sintuig. Vele baarsboot eienaars is geneig om met hul petrolenjin tot in die hengelsone te vaar. Dan laat val hulle die sleepmotor om in sy wieg te klik, klap luike toe, tik stokke teenmekaar en gesels oor alles en nog wat… Dis alles klanke wat hulle teenwoordigheid verklap!

‘n Vis het twee gehoorsintuie. Hulle het wel ore wat kan hoor, maar hulle laterale lyn is uiters sensitief. Klank word selfs in ‘n menslike oor na vibrasie omgesit en dit is wat die vis optel. Selfs ‘n drukgolf wat ‘n vaartuig vooruitgaan word fyn opgemerk. Al hierdie klankelemente kan jy onderwater met nege vermenigvuldig.

Sig is natuurlik ‘n sintuig waarvan die effektiwiteit daarvan bepaal word deur die dekking waarin die vis hom mag bevind, lig en hoe skoon die water is. Hulle kan slegs teen ‘n gunstige hoek iets bo die wateroppervlak opmerk, maar kan baie verder onderwater sien. Hoe vuiler die water, hoe nader moet dit wees.

Hierdie verwys hoofsaaklik na ‘n hengelaar en sy boot of andersins iemand op die oewer, maar daar is ander, groter aandagtrekkers. Dié is naamlik ligflitse wat baie mensgemaakte toerusting kan afgee in die vorm van weerkaatsings. Die vernaamste een wat my pla en wat maar vir lief geneem word, is spinnerbait lemme in die son.

Dit is sekerlik nie nodig om jouself van kop tot tone te kamoefleer nie! Maar …

Silhoeët is ‘n faktor omdat iets wat nie natuurlik voorkom nie, die vis aanvanklik op hul hoede gaan plaas. So ook skaduwees, wat jou of die boot se buitelyn op die bodem of diep gras kan uitbeeld. As jy met son agter jou hengel, kan die vis jou miskien nie sien as jy direk op gelyn is met die son nie, maar jy kan ‘n lang skaduwee los wat maklik teen feitlik enige hoek te bespeur is.

 Beweging, veral skielike, bly egter die hoofalarms vir enige wese.

 Reuk blyk die sintuig te wees waarop swartbaars die minste staatmaak, in teenstelling met byvoorbeeld ‘n forel of ‘n karp wat weer uiters gevorderde reuksintuie het. Maar ‘n baarshengelaar moet steeds nie daar krap waar dit nie jeuk nie – deur vreemde reuke aan die water toe te dien nie.

 Hierdie alles beteken dat ‘n vis jou teenwoordigheid kan opmerk. Nou volg ‘n paar van die mees basiese wenke, dit wat in die vorm van voorsorg geld:

Beplan jou aankoms in die hengelsone: ‘n aankomende vaartuig stuur ‘n beduidende skokgolf voor dit uit. Op ‘n baarsboot, stop die enjin ver buite die area, sit die elektriese sleepmotor stilletjies in en vaar dan eers in. Bepaal dan jou dryfkoers sodat die boot nie nou naby die vis ook nog met die sleepmotor gestop hoef te word nie.

En dis nie al nie: die hele bootbemanning moet reeds stelling ingeneem het met die regte stok in die hand, want selfs bewegings op die boot veroorsaak dat dit wieg, wat weer skokgolwe uitstuur. Stokke se geklik teen mekaar op die dek word ook deur die hol boot uitgebasuin.

Moet ook nie die anker laat plons of hard op die bodem te lande laat kom nie. En teoreties moet eintlik stiller gesit of gestaan word, aangesien die boot makliker sal wieg onder beweging.

Oewerhengelaars moet ver weg parkeer. Daarna moet hulle die area waar hulle gaan loop, goed bespied om sodoende los klippe en blikke mis te trap. Sit gereikaste saggies neer. Bly stil.

Probeer om langer op een plek te bly: die groter baars sal aan jou boot begin gewoond raak en heel moontlik meer byterig raak.

Enige nie-direkte hengelaksies moet buite die hengelsone uitgevoer word. Of jy nou wil stokke heropstel, herstelwerk doen, eet of urineer. Moenie die baars daarmee pla nie. Om aangepakte watergras van jou elektriese motor te haal is ‘n onvermydelike uitsondering, tensy jy ‘n stootpaal byderhand het. En moenie sigaret stompies in die water skiet nie.

Gooi so ver moontlik na jou teiken, ten minste die eerste sarsie gooie om die vis buite die dekking te teiken.

Wees bedag op hierdie aanvanklike punte en die meeste van die res sal dan stelselmatig vir hulself sorg.

Net vir interessantheid en die pret: Kan jy die soldaat sien?


The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x