BAARSKLASKAMER: Die Ander Reguit Ase (stickbaits)
Verlede maand is die Senko-styl stickbait behandel, en dit is maar net wat dit is, naamlik ‘n styl en alles behalwe die enigste of eerste sagte stickbait. Die sensasionele Senko-stickbait het net hierdie en die ander style in die hoofsaak onregmatige skade berokken.
Die rede hiervoor is die alsydigheid wat aan die Senko toegeken is, synde dat dit, ten spyte daarvan dat die oorspronklike konsep ‘n gewiglose aanbieding was, dit ook gehengel word op die Carolina-, Mojo-, Texas-, knyploodjie-, wacky- en dropshotstroppe. Feit van die saak is egter dat die Senko se ingeboude aksie belemmer word deur enige gewig. Daarom hengel ek byvoorbeeld veel eerder ‘n Double Ringer/Ribfry of Centipede op ‘n mojostrop. Jare gelede, nog voordat die Senko hier ingevaar het, was Rust de Winter ons prima baarswater, en sekerlik die gewildste manier om sy hardekwas baars uit te lok was met ‘n gewiglose Ribfry (in Afrikaans ook ‘n “Ripfry” genoem).