BAARSKLASKAMER: Vind Daardie Rant!
WOORDE: Martin Engelke FOTO’S: Verskaf
Hier in die weke van die wykende winter en die aankomende lente, soos nou in Augustus, is baars in ‘n oorgangfase en saam met hengelaars nie heeltemal oortuig is nie in watse fase hulle hulself bevind nie. Hengelsukses kan dus wisselvallig wees.
Gelukkig is daar ‘n vaste beginsel om in hierdie tye toe te pas, een wat jou help fokus, naamlik om daardie rant te vind. Nie ‘n rant nie, maar die een. Want, sien, ons is nou in ‘n tyd waarin die belangrikheid van die teiken posisie die spesifieke tipe aas oortref.
Nie elke rant hou vis nie, maar hulle is gewoonlik volop by dié wat wel vis hou. Hoeveel keer gebeur dit nie dat die hengelaars op een boot die baars looi, terwyl op ‘n ander een hulle letterlik nie ‘n byt kry nie? Dit het alles te doen met die fase waarin die baars verkeer, met een vaste faktor, naamlik dat hul by die rant van iets ‘n skool vorm.
Waarvoor word gesoek?
1. ‘n Skerp onderwater diepteverandering (drop off). Dit is die eerste groot diepteverandering (gewoonlik drie meter of selfs heelwat meer) wat aan vlak water grens.
2. Die aard van die diepteverandering wat die beste vis verkies, gaan afhang van die dam self. Watter tipe struktuur en dekking bied die dam? In helderskoon damme byvoorbeeld, sal die vis baie dieper wil hou en miskien ‘n nege meter diepe rant opsoek ten spyte daarvan dat daar ‘n drie meter een beskikbaar is.
3. Die tipiese diep diepteverandering bly gewoonlik die prima teiken. En gewoonlik moet dit met jou visvinder opgespoor sowel as ontleed word. Daar moet iets unieks voorkom op daardie struktuur, van ‘n kraak tot ‘n rots tot plantegroei. Baars is geneig om teenoor harde dekking te oriënteer.
4. Hompe, onderwater eilande en heuwels, asook skeure moet net so behandel word.
5. Kaaie en dokke is natuurlik die top patroon by die Bassmaster Classic, maar minder haalbaar by baie van ons damme, eenvoudig omdat daar nie genoeg “ordentlike” kaaie is nie. Nietemin behoort die diepkant van so ‘n kaai geteiken te word op hierdie stadium.
6. In watergras-ryke damme, wat sekerlik die meerderheid in ons land is, het die baars telkemale geen ander opsie as om selfs styf teenoor die gras te orienteer nie. Nou is jou enigste opsie om die buitelyn op te soek. Met dit in sig, soek jy dan ietsie unieks in daardie buitelyn wat jou kanse verbeter. Die goeie nuus is dat, sou dit ‘n goed gedefinieerde lyn wees, dit op die rant van ‘n diepteverandering is! Andersins in helder water sal daar geïsoleerde watergraspolle voorkom, selfs in water van ses tot nege meter. Die hele pol kan bewerk word, veral die kanale tussen-in.
Selfs ‘n biesie lyn gee weg dat daar ‘n diep water afgrond aan die ander kant is. Biesies groei in die vlakste water. Groenvlei in Sedgefield is sekerlik die beste voorbeeld hiervan, waar die biesielyn ‘n ent weg van die riete is.
En nou puntsgewys, hoe om die bogenoemde punte “op die water” te begin ontrafel.
7. Gaan soek eers potensiële broei areas in die vlaktes. Dit kan al in die winter gedoen word en is veral maklik in die somerreënval gebiede, waar dit dan vlakker en skoner is.
8. Vaar dan dieper en soek dan die eerste een van punte 1 tot 6. Herhaal om soveel as moontlik alternatiewe beskikbaar te hê.
9. Visvinders is van onskatbare waarde, omdat hierdie die tyd is van stormsterk winde. Vra maar vir enige baarshengelaar wat die watergras met die blote oog probeer opsoek het tydens ‘n winderige Augustusmaand te Boskop!
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!