fbpx
Bass AnglerFishing Tips

Basiese Baarshengel Deel 1 – Hoeke

Ons kyk na die verskillende baarshoeke

Die verskillende baarshoeke is almal uiters veelsydig, maar nietemin word elke tipe bespreek en aan ‘n  tipe aas of tegniek gekoppel. Deurentyd word die benamings soos dit plaaslik voorkom gebruik, en nie streng direkte vertalings uit Amerika nie.

Hoeke vir Sagte Plastiekase

Die hoekstyl word bepaal deur die tipe aas – dit kom in ‘n spesifieke vorm waarvan die dikte van die lyf en die verhouding van die lyf teenoor die kop die bepalende faktore is. Tradisie speel ‘n groot rol, omdat baie hengelaars eenvoudig gewoond daaraan geraak het om ‘n wurm op ‘n wurmhoek te gebruik, ‘n Fluke op ‘n wyegaping hoek en ‘n padda op ‘n paddahoek.

Die grootte van ‘n aas bepaal natuurlik weer die grootte van die hoek – dit word al hoe groter in die gewilde groottes van #1/0 na #5/0, en dan weer al hoe kleiner van #1 na #2. Kleiner as dit gaan ‘n baarshengelaar gewoonlik nie, anders as byvoorbeeld ‘n vlieghengelaar wat kleiner as #15 kan gaan. Die lengte van ‘n aas word eerstens in ag geneem hiervoor, maar dan ook die dikte. Daar is selfs ekstra wye gaping hoeke wat dan ‘n baie dik aas sal pas. Die “byt” van die hoek, oftewel die gaping tussen die steel en die punt, is baie belangrik. Sodra die aas gebyt word moet daar genoegsaam ruimte wees sodat die hoekpunt nie verhoed word om in die vis se bek vas te steek nie.

Ek het ‘n gevoel dat ons plaaslike hengelaars se hoeke te groot is vir die aas wat hulle gebruik  ‘n Mens moet onthou dat ‘n swartbaars, anders as soutwater roofvisse met groot, skerp tande, die hele aas in sy bek inneem. ‘n Groot hoek neutraliseer ‘n sagte plastiekaas se aksie omdat dit die grootste gedeelte van die lyfie in beslag neem, dit dring nie so geredelik in nie en dit kan ook die vis erg beskadig – ‘n #5/0 se punt steek byvoorbeeld gereeld deur ‘n baars se kop tot deur sy oë.  

Groottes is nie gestandaardiseer nie. ‘n Gamakatsu #4/0 wyegaping hoek is byvoorbeeld baie kleiner as ‘n VMC of Mustad.

Wurmhoeke

Hierdie het ‘n nouer gaping en ‘n langer skag. Die meeste baarshengelaars verkies hierdie styl hoek vir dunner ase, byvoorbeeld wurms en kreatuur-ase soos die Brushog. Wurmhoeke se gapings kan effe van mekaar verskil, waar ‘n O’Shaugnessy byvoorbeeld ‘n nouer gaping en langer skag bied as die ander, wat ietwat meer geskik vir ‘n dun finesse wurm is.

Ons baarshengelaars verkies om ons hoeke vashaakloos op te stel deur die hoekpunt net onder die “vel” van ‘n sagte plastiekaas terug te plaas (“skinhooking” in Engels). Hierdie tipe hoeke leen hulself nie so goed aan die tegniek nie omdat die bedoeling is dat die hoekpunt eintlik net skuins by die aas moet ingaan met die punt tot amper teen die vel. Die kleinste drukking ontbloot dan die hoekpunt en so is dit ongelukkig meer geneig om vas te sit as die “skinhooking” tegniek. Nou skinhook ons liewer met die gevolg dat ‘n wurm met kinkels onafwendbaar is.

Wyegaping hoeke was oorspronklik ontwerp vir ase met dikker lywe soos byvoorbeeld fluke- en Senko-styl ase asook buisvormige ase (“tubes”). Dit is egter vir enige styl aas geskik, van die dunste finesse wurm tot ‘n padda. Die wye gaping fasiliteer nie net ‘n beter “byt” vir ‘n meer bonkige lyf nie, maar dit bring ook die hoekpunt in lyn met die hoekogie. Hierdie eienskap bevorder beide die liniêre verplasing van druk op die hoekpunt wanneer dit vasgekap word sonder dat die hoek wegkantel, asook die vermoë om dit vashaakloos op te stel terwyl die aas absoluut reguit bly. Daarby dien dit ook as ‘n kiel wat die aas regop sowel as reguit laat swem.

‘n Wyegaping hoek is korter as ‘n wurmhoek van dieselfde grootte, maar natuurlik baie wyer. Trouens, verskil die handelsmerke en selfs die verskillende modelle binne die handelsmerke van mekaar in “byt”, lengte en die plasing van die hoekpunt in verhouding met die hoekogie. Selfs die hoekpunte verskil- sekere wys effe terug na die skag, ander is reguit en ander het weer ‘n interessante vorm om dit knus die aas te laat le.

Die goeie nuus is dat al hierdie style werk, maar jy moet mettertyd alles probeer om te bepaal wat jou die beste pas.

Voorbeeld: Vir beide fluke- en Senko-tipe ase verkies ek die gevind dat die hoekpunt absoluut vashaakloos opgestel kan word sonder om die aas so erg te sny dat die punt later nie verberg kan word nie. Twee van my gereelde hengelmaats verskil van my: die een verkies die Gamakatsu “Skip Gap” omdat die aas se kop nie afskuif nie, en die ander verkies die VMC se wyegaping omdat dit effe groter is. Beide se punte staan meer trots uit. Ek bevind egter dat ek baie meer vassit en gras optel met hierdie hoeke waarvan ek ook baie het. Ek buig gewoonlik self die punte na binne, wat die manne laat gril. Mustad se “Big Bite” het ‘n punt wat binnewaarts wys, tog mis ek nie vaskappe met hierdie produk nie.

Verder is dit ook raadsaam om in ag te neem dat die onderskeie hoeke se vorms verskil, wat uiteindelik die gapings beïnvloed. Hierdie kan tot ‘n mate ‘n sielkundige effek teweegbring maar die goeie nuus is dat almal op die algemene ase werk.

Inskroef Hoeke

Hoeke met geskarnierde vere aan die ogies is sekerlik die mees onderskatte produkte. Hulle is bedoel vir bonkige, soliede ase soos paddas en swimbaits, en is ook baie handig vir ase wat maklik oopskeur soos grubsen die groter Senko-tipe ase wat swaar belaai is met sout. ‘n Mens sou dink dat die indringende aard van so ‘n hoek ‘n aas erg sou beskadig, maar die teenoorgestelde effek word ervaar en dit hou die  aas se kop so goed in posisie dat ‘n groot grub of padda maklik tien maal langer hou as gewoonlik. Daarbenewens kan hierdie ase deur digte dekking dring sonder dat die kop afskuif teen die hoek se skag. Dit volg dan dat hierdie hoeke generies as paddahoeke bekendstaan, maar ‘n paddahoek is ‘n wyegaping weergawe daarvan. Van die hoeke se gaping is te nou en ‘n padda sal dan erg vassit omdat dit eintlik onderstebo swem met die hoekpunt na onder.

Hierdie klas hoeke is ook ideaal vir gebruik saam met geweefdelyn (“braid”) omdat die gaping waar die ogie tot teenaan die skag omgebuig word, na vorentoe wys. Dit is ‘n ongelukkige eienskap van braid dat dit geneig is om deur daardie slootjie te glip met gewone hoeke, maar nou is al die druk in die teenoorgestelde, ideale rigting.

Daarbenewens is dit ‘n ideale styl vir dikdraad hoeke. Jy kan by tye so ‘n hoek benodig om ‘n goeie val aksie aan ‘n gewiglose aas te verleen, of wanneer jy met uiters sterk lyn hengel vir groot baars in digte dekking. So ‘n hoek is andersins gewoonlik problematies omdat dit, net soos êrens hierbo vermeld, geneig is om ‘n sagte aas te verskeur. Maar die inskroef-hoek maak korte mette van die groot probleem, naamlik die kop wat erg verskeur.

Finesse Hoeke sluit in dropshot-, wacky- en gewone dundraad finesse wurmhoeke. Hulle is bedoel om of in oop waters, of met klein ase te hengel, asook met dun lyn. Die hoeke is so fyn omdat die dun lyn jou nie toelaat om hard te kap nie, maar eerder te veeg. Die kleiner hoek dring baie makliker by die vis se bek in.

Hoeke vir harde ase

Vir harde ase soos crankbaits word drieangelhoeke gebruik. Die is voordelig omdat sou ‘n vis net aan dit raak, dit gewoonlik vas is. Dit is derhalwe ‘n uitstekende reaksie aas, waar ‘n vis net aggressief na dit gryp en telkens net skrams. Maar dis ook nadelig omdat dit aan alles (insluitend mense) vassit!

Neem sorgvuldig kennis van die grootte en styl van ‘n drieangel hoek sou dit vervang moet word, aangesien ‘n verskillende hoek die aas se aksie kan beïnvloed (omdat jy juis die hoeke moet vervang omdat die aas jou so baie vis vang!). Daarteenoor is daar hengelaars wat dikker of groter hoeke aan hulle kunsvissies heg wanneer die water begin afkoel, juis om die se aksie te vertraag.

Die splitsringetjies moet ook nagegaan word, omdat dit gewoonlik die swakplek is.

*Hierdie reeks word elke Woensdag gepubliseer.

Related Articles

Close