BLOEMHOFDAM BONANZA: 27 April – 1 Mei 2024
OEWER- EN BOOTKOMPETISIE
WOORDE: Bernard Venter | FOTO’S: Verskaf
Die Bonanza is terug!
Die 23ste Bloemhofdam Bonanza word vanjaar weer aangebied, nadat dit laasjaar weens die gebrek aan ‘n naamregborg nie kon plaasvind nie.
Die Bloemhofdam Bonanza vind vanjaar vanaf 27 April tot 1 Mei op die Noordwes- en Verlatenkraal-oewers plaas. Dit is weer ‘n oewer- en boothengeltoernooi.
Vanjaar se Bloemhofdam Bonanza se fokus is op karp as spesie omdat dit die speelveld tussen alle deelnemers gelyk maak. Die algehele wenner van die The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza word per lengte van die wenkarp bepaal. Die deelnemer wat die langste karp tydens die Bloemhofdam Bonanza vang wen die eerste prys – ‘n allemintige R100 000 kontant!
Die Bloemhofdam Bonanza is nog altyd een van die grootste en lekkerste hengeltoernooie op die hengelkalender in Suid-Afrika. Daar is ‘n tradisie van kuier en lekker visvang wat die Bonanza by Bloemhofdam so gewild maak!
Die Bloemhofdam Bonanza het groot tegnologiese ontwikkeling oor die jare ondergaan. Die visse word die afgelope paar jaar nie meer geweeg nie, maar gemeet. Die groot voordeel van meet is veelvuldig.
Afgesien daarvan dat dit die speelveld tussen boot- en oewerhengelaars gelyk maak, is daar ook talle ander voordele. Ons het ‘n elektroniese voorlopersbord ontwikkel wat alle deelnemers op hul fone kan ontvang. Sodoende kan die deelnemers deurlopend sien wie die voorlopers in die Bonanza is, en of dit nodig is dat hulle visse amptelik deur die beamptes gemeet moet word. Elke deelnemer meet sy eie vis op sy eie maatband en stuur die lengte met sy foon na die organiseerders. Die lengtes van al die visse verskyn op die voorlopersbord. Dit is egter net nodig indien die deelnemer in die top tien van die voorlopersbord verskyn om die vis deur ‘n beampte te laat verifieer. Daar is dus nie lang rye deelnemers, en hope dooie vis, by die inweeg nie. Die deelnemers het baie meer hengeltyd en hoef nie by die inweeg uit te kom om sy vis te weeg nie. Al die inligting is op die deelnemer se selfoon beskikbaar!
‘n Ander groot voordeel is die aanlynregistrasie van deelnemers. Deelnemers kan enige tyd op die aanlynskakel registreer om aan die Bloemhofdam Bonanza deel te neem. Dit beteken dat daar geen toue by die hekke is nie en deelnemers kan reguit na die hengeloewers gaan.
Noordwes en Verlatenkraal is uitgestrekte hengeloewers van meer as 30 kilometer wat genoeg hengelspasie aan deelnemers verseker. Daar is ook ‘n groot sleephelling by Noordwes waar bote kan lanseer.
Bloemhofdam is bekend vir sy reuse babers en daar sal ook ’n besondere baberprys bestaande uit R5 000 kontant geborg deur Gys Pitzer Motors wees, asook ‘n Big Cat Popper-pryspakket ter waarde van R7 500. Die pryspakket bestaan uit Big Cat Popper-baberkunsase en ‘n naweekhengelsafari by Bloemhofdam saam met die uiters kundige Big Cat Popper-hengelspan. Dit sal die wenner van die prys die geleentheid bied om onder die bekwame leiding van die Big Cat Popper-hengelspan te leer hoe om groot babers met kunsaas te vang!
Daar is ook pragtige hengelpryse vir seniors, dames en juniors geborg deur Mitchell om gewen te word. Al die pryse is vir die langste karpe.
Die gewilde Spannedrag-kompetisie word weer aangebied en deelnemers is welkom om Annamarie by G2 Industries (081 247 1440) te kontak om hul spannedrag te ontwerp en te maak.
Natuurlik is die Plastics SA ‘Hou die dam skoon’-kompetisie daar om die oewers weer mooi skoon agter te laat. Die eerste 500 deelnemers sal ook ‘n goody bag met hengelgerei en ‘n pakkie lekker Wabona-papmeel kry.
Daar is vanjaar weer baie pryse wat met gelukkige trekkings gewen kan word. Die gelukkige trekkingkaartjies kan aanlyn of in persoon by die Bonanza gekoop word teen R10 ‘n kaartjie. Daar sal ‘n houer wees waaruit die trekkings gedoen word.
Die hengelkaartjies is R300 per volwassene en R150 vir juniors (o/13) en kan aanlyn gekoop word by https://www.justsc.co.za.