BOOTHENGEL BY JOZINI: Opsoek na tiervis

Die paar dae was net te min vir ‘n twee-dag hengelekskursie na Jozinimeer!

Vieruur die oggend terwyl ek die padkos gereed kry, vra ek vir Jaco, my man: “Het jy die skepnet ingepak?” Ek dink by myself en hou die gedagte ook net daar, “Weet nie of ons dit ooit gaan nodig kry nie, maar die kans om ‘n tiervis sonder ‘n skepnet op die boot se dek te bring, kan groot wees om dit te verloor …!” Wel, dis ingepak en ek voel verlig!

Die pad vanaf Pretoria, deur Swaziland na Sodwana Hengelklub.

Ons beplan al ‘n geruime ruk om tiervis vanaf ons eie boot te gaan vang en het plek bespreek by Sodwana Hengelklub se chalets, ‘n hanetree vanaf Swaziland se grenspos, Lavumisa, en so te sê teenaan die valhek by Pongola Natuurreservaat waar die dam bereik kan word. Met swaer, Protea kunsaashengelaar Japie Wessels en skoonsus Sarie, (‘n eerste vir haar op ‘n boot!), sien almal uit na dié uitstappie, hetsy visvang of net in die aande rustig kuier langs Pongola se natuurreservaat by ‘n vuurtjie, hittegolf en al!   



Sarie, ‘n eerste vir haar op ‘n hengelboot, het lankal navraag gedoen oor wat trek mens aan op ‘n boot, is ‘n denim en tekkies okei, groot hoed, en storieboeke gaan seker nie daarop gelees kan word nie, en so aan …! Wel, ‘n ligte broek wat vinnig kan droog word, sou dit reën, was my antwoord. Die res beleef mens self …! Tyd vir ‘n storieboek was daar toe nie, want daar gebeur soveel goed op ‘n boot, dat dit sy eie storie skryf, en geen dag is dieselfde nie.

By die natuurreservaat se valhek, op pad om die boot te lanseer, word daar eers teen R50 per persoon dagpermitte gekry om die reservaat binne te gaan. Die hek is oop vanaf 05:00 tot 19:00. Daarna die rit na die dam deur die reservaat waar vlakvarke, verskeidenheid bokke, kameelperde en ander wild gesien word. Nie te ver nie en die boot word by ‘n netjiese bootlansering ter water gelaat waar jetties ook is om gemaklik op te klim.

Met ‘n yskoue koelhouer, genoeg om aan te peusel en groot verskeidenheid ase, so ook raad vanaf tiervisjagter van die kontrei, Philip van Wyk, het ons span van vier die bootrit gevat en eers Philip op die dam gevolg, maar die vis was stil. Ons het kunsase gesleep sonder enige sukses, en toe aan ‘n boom vasgemaak. Japie wou kurpers vang en Jaco gooi kunsaas vir tiervisse. Japie se aas was skaars in, toe word sy lyn morsaf gebyt! Tiervisse hou toe ook van erdwurms. Hy verander na ’n staalstrop en land gou ‘n klein tiervis. Die ys was gebreek!

Met ‘n verwoede hittegolf die afgelope paar dae was dit ideaal om tussen 11:00 en 16:00 van die water af te wees, maar ons druk die oggendsessie tot 13:00, en nes Philip voorspel het, dis ‘n dooie tyd om na tiervisse te soek!



Later die middag het ons weer probeer en net klein tiervisse gevang, maar steeds opgewonde oor elke byt. Die aand en nes vissermanne is, word daar onder mekaar gepraat, en ons hoor waar het ‘n 4kg tiervis uitgekom, en moet verkieslik rooi hoeke en rooi staaldraad gebruik. Die volgende oggend was ons eerste daar met rooi hoeke! Ons volg ook Philip se raad deur die visvinder af te sit wanneer die aas in die water is.

Let wel, ‘kunsaashengelaar’ Japie sit hoenderlewer en -harte op …! en skaars 10 minute later toe staan hy met ‘n tiervis in sy hande! Hulle byt die een na die ander, so dat ek moes ingryp en help inbring. Ek kry toe die grootste tiervis danksy Japie se vars aas, dit  weeg presies 2kg! Jaco kry ook vis, maar sy gooiplek het ‘n vashaakplek, hy land min, en Sarie geniet haar gate uit met die aksie op die boot. Selfs met die wag van die lyn wat saggies moet afrol, waarsku sy met ‘n ‘ooi-ooi’, dan moet hulle regstaan vir die vasmaak daarvan! Sy het foto’s geneem, video’s gemaak en elke oomblik geniet. Ons bly op hoogte deur met Philip oor Whatsapp te praat; hy en sy kliënte is net so besig en daar word ‘n 4,1kg tiervis geland nog voor halftien en ek kry die foto! Daar het selfs ‘n baber uitgekom! En ook tiervisse wat almal besig hou, dis algemeen dat net een uit sewe geland word!

Kunsaashengelaar Japie Wessels het ‘n hele paar tiervisse van hierdie grote gevang met hoenderlewer en -harte. Foto: Sarie Wessels.
Jaco Grimbeek, die man agter ‘n groot verskeidenheid ase, het ook ‘n paar tiervisse op vleisase gevang. Foto: Sarie Wessels.

Die volgende video het heelwat navrae gehad toe ek dit aanstuur, en ook, verskoon tog my gilletjie, dis benoude oomblikke:

  1. Ek wonder die hele video deur wat eet tannie …?
  2. Ma se maag druk die skepnet vas …! Hoe moet hul skep?
  3. Amper is die pet saam met die skepnet water toe …!
Video geneem deur: Sarie Wessels.
Charmagne Grimbeek met ‘n tiervis wat die skaal getrek het tot 2 kilogram! Hierdie een het van hoenderlewer gehou. Foto: Sarie Wessels.
Wendy, ’n kliënt op Philip van Wyk se boot, Tiger Hunters, Tours & Safaris, het ‘n 4,1kg tiervis gevang. Foto: Philip van Wyk.


Ons vaar toe later na die damwal, wou nog altyd sien hoe lyk dit van die dam se kant af, en kry ‘n trop olifante, buffels en baie ander wild op pad soontoe. Dis bloedig warm op die dam – die wind is so warm dat dit brand, en ons buffs moet gereeld natgemaak word vir verligting. Rondom die damwal is dit vreeslik mooi, en ons geniet die ‘toer’ vanaf die boot, en ons vaar terug voor die voorspelde erge wind die dam bereik. Dit was die laaste vir eers op die dam, tot ons weer ‘n kans kry, hopelik binnekort! Wel, die skepnet was beslis gebruik, ek het ‘n mooi tiervis gevang, en ek voel tevrede!

Die skepnet was toe sommer baie gebruik tydens die twee-dag tievisvang op Jozinimeer.
Sarie en Charmagne kruip vir die son en hitte weg! Die buffs help geweldig baie, veral as dit natgemaak word.
Pongolapoortdam, of soos baie dit ken, Jozinimeer se damwal.
Benoude oomblikke wanneer die wind in die rigting van die olifante waai … en die buiteboordmotor vrek skielik …!


5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x