BOOTKARPHENGEL: Groot Karpe By Roodekoppies

Ek het nou al so ‘n paar sessies met my boot gehengel en maak nog heeltyd verbeteringe en veranderinge aan die konsep om my so gemaklik as moontlik op die boot te kry. My doel is nou om ten minste vier tot sewe dae aaneen op my boot te bly sonder om kant toe te gaan behalwe as ek moet weens die weer. Een van die beste aankope was ‘n ten volle toegeruste 160w Solar sisteem met inverter en ‘n FLEX buitelug vries/yskas kombinasie. Nou kan ek krag, ys, kos en koeldrank en ook genoeg koelte geniet!

‘n Behoorlike solarsisteem en yskas is ‘n moet!

Dit het goed gegaan en ek het nog ‘n klomp vis gevang in my teikendamme, maar daar was een dam wat ek nie meer kon ignoreer nie, naamlik Roodekoppies. Dié dam het die laaste paar jaar ongelooflike mooi karpe geproduseer en dit het nie te moeilik gelyk om vinnig my tiende dam se 40-pond karp te jag nie. Die damme waar ek hengel is baie moeilik en jy kan maklik vir ‘n 10-dagsessie net twee of drie karpe vang en ek was net lus vir so ‘n paar byte en maklike hengel.

‘n Pod wat kan tilt en ’n lang paal om plante weg te stoot help baie.

So het ek myself drie naweek sessies gegee om my 40-ponder daar te vang. Ek ken die dam regtig nie goed nie. Die laaste keer dat ek die dam gevis het was in 2019, so vir my was dit basies ‘n nuwe dam. Ek het wel baie navorsing gedoen oor moontlike goeie en gevaarlike areas, beste aas en voer. Dit was belangrik aangesien ons met die boot op plekke gaan vang waar daar in elk geval nie gehengel kan word van die kant af nie. Ons het so ‘n klein groep ouens wat karpe met die bote jag en ons het besluit as ‘n groep om die oewerhengelaars se areas te probeer uitlos so ver ons kon. Ons wil nie onnodige moeilikheid maak vir onsself nie. Ek het voer by Blank Savers gekry vir my volgende drie sessies en volgens almal is Loutjie se Signature Series Tjop Tjop en BG die pop-up om te hê. Ek het natuurlik rondgespeel met my eie aas maar na die eerste sessie was dit basies nie die kombinasie op al my stokke nie.

Pop-ups bo oor saadmengsel met Ronnie rigs het die beste gewerk.


Ek en Brandon Frazer het die eerste sessie saam gaan hengel net om die dam so bietjie te leer ken en na moonlike plekke te kyk waar ons ‘n paar grotes kon teiken. Maar dit het binne die eerste 24 uur baie duidelik geword dat waar jy wil vang en waar jy kan vang twee verskillende goed is.  Die wind waai die hiasinte oral om die dam en hoe die wind waai en hoe sterk dit waai het meer invloed as enige ander faktor. Nog ‘n probleem is waar om jou bakkie te los en waar om die boot te lanseer. Die maklikste plek vir ons was die Roodekoppies hengeloord area. Om die boot daar te lanseer is maklik en jou voertuig is baie veilig.

Ons eerste sessie het ons net om die hoek gegaan van waar ons in die water in gegaan het. Ons wou graag by die ou dam gaan sit maar daar was net te veel plante. Ons het die aand daar gesit en ek was gelukkig met een 10.2kg karp die oggend. Brandon-hulle het na die oorkant toe gegaan by die riet eiland, maar kon letterlik net so drie- of vierure hengel voor die hiasinte hulle omsingel het. Ons moes skuif, en aangesien die wind oorheersend noord gewaai het, het ons besluit om na die suidelike arm te gaan kyk. Dit was laat die middag en ons moes gou plek kry voor die donker ons sou vang. Ek het besluit om net bokant van die  pomphuis te sit op waterwese se kant en Brandon het so bietjie op beweeg tot by die volgende groot baai van waar ek was.

Ons het altwee naby die kant geanker en sommer naby die boot gehengel vir die aand. Hier was baie visse. Ons altwee het binne die eerste aand ‘n paar karpe gekry maar ongelukkig niks groot nie. Ons het die volgende dag en aand hier deurgebring en my beste karpe was 14kg en 15.5kg. Brandon-hulle het ook ‘n paar 15’s gekry. Dit was so lekker om net lekker byte te kry en jy land sommer die vis van die boot af.

‘n Mooi 15.5kg op die tweede oggend van die eerste sessie.
‘n Lang 14.4kg karp.
‘n 12kg vis.


Twee Weke Later . . .

Twee weke later was ek weer op die water, maar met die wind wat van die weste af gewaai het, sou ek nie weer op dieselfe plek kon gaan sit nie. Dit het ook geblyk dat die area baie karpe gehad het maar nie baie van die grotes nie. Ek het weer die suidelike arm gaan verken aangesien dit baie min hengeldruk kry en daar groot ongerepte stukke is. Ek het die eerste aand binne so ‘n klein klipperige baai gaan sit maar ek was hier ongelukkig. Die oggend kry ek drie byte maar verloor almal op baie groot klippe onder die water. Ek het die een karp gesien en selfs afgeneem met my Humminbird visvinder. Dié karp was beslis oor 20kg. Ek het die inloop gaan verken maar daar was baie watergras en te veel onwettige nette tussen die bome. Ek was alleen saam met my vrou en wou dit nie waag nie. Ek het stadig op beweeg en na ‘n klomp plekke gekyk, maar niks ‘wow!’ gekry nie. Dit is tot ek verby nog ‘n klein baai ry en ‘n groot karp in die baai sien spring.

‘n Foto van die 20kg karp wat ek verloor het.

Die baai het ook klippe gehad en nog so ‘n paar droë bome ook maar ek was seker ek sou iets hier kon vang. Ek het diep in die baai gaan sit om die meeste van die plante en wind te vermy. Twee van my stokke het ek teen die kant geplaas tussen die droë bome, en die ander twee het ek uit na die oop water toe geplaas. Teen die tyd was Loutjie se Signature Series Tjop Tjop en BG twee-kleur pop-ups op al my stokke. Het nie eers meer rondgespeel met iets anders nie. Ek het net soveel vertroue daarin gehad.

Ek het ook nie lank gehad om te wag nie. My eerste byt was uit die baai uit en was ‘n lieflike 14.7kg. Die oggend word ek wakker met nog ‘n byt en dit was ‘n 17kg. Later die middag vang ek nog ‘n 17.2kg en kort op sy hakke nog ‘n 14kg.

‘n Baie donker 17kg karp.
14kg Karp.

Ek sien die middag ‘n mooi karp net so ‘n ent uit die baai uit spring, net buite die area waar ek al gekarteer het. Ek doen die een stok oor en gaan kyk en kry ‘n ongelooflike mooi plek (die voordele van ‘n baie goeie visvinder gee jou net ‘n bo-menslike voordeel).  Die area is op ‘n onderwaterpunt waar die oewer 22vt diep is en dan opgaan na ‘n onderwatereiland tot 17vt en daarna weer afgaan tot in 29vt water aan die agterkant. En alles was mooi hard reg rondop die area. Dit is beslis ‘n plek wat gereeld besoek word en het net GROOT KARP geskreeu!  Ek het die pop-up saam met net ‘n klein bietjie Blank Saver partikels bo-oor aan die diep kant van die eiland gesit en rustig gewag vir die byt wat ek net geweet het sou kom.

Dit was letterlike minder as ‘n uur voor die einste stok sou weg trek en ek vasmaak met wat ek dadelik kon voel ‘n baie mooi vis was. Na ‘n baie goeie geveg land ek iets spesiaal. ‘n Baie mooi Spookkarp en nog beter, hy weeg 18kg! Ek mis my 40-ponder met net 200g! Maar dit maak nie saak nie. Nog ‘n deel van die legkaart word ingevul.

Die 18kg spookkarp.

Ek sit altyd die stok weer uit voor ek met die vis deel so terwyl ek die vis afneem en weeg trek dieselfde stok weer weg en ek maak weer vas met iets mooi. Ek het hom sommer so met die oog geskat op so 16+kg en hom weer laat gaan. Wat ‘n ongelooflike sessie en die beste was ek het nog een sessie oor gehad om te maak gebeur.



Nog Twee Weke Later . . .

Nog twee weke later is ek weer terug met perfekte weer, perfekte wind en met die perfekte plek klaar ingedagte, of so het ek gedink. Die weerprofeet het dit bietjie verkeerd gekry en dit het baie kouer geraak as wat voorspel was. Ek het darem nie tyd gemors nie want ek het toe klaar geweet presies waar al my lyne sou lê. Ek het die keer net een stok in die baai gesit  met die koue wat ingekom het en die ander stok net langs ‘n ou lyndraad wat ek met my Humminbird gekry het.

‘n Ou lyndraad wat ek gekry het.

Die ander drie stokke sou buite die baai wees. Een links (vlak kant) van die eiland, een regs (diep deel) van die eiland en een op nog ‘n klein eiland wat ek so bietjie verder uit gekry het.

Die eerste dag en aand was maar stil maar die volgende oggend het ek in die baai ‘n baie welkome 14kg karp gekry. So bietjie later het die lyndraad stok geloop en dit was ‘n 15.7kg karp. Kyk, dié is mooi vis maar dit is nie wat ek kom vang het nie. Ek het regtig gehoop dat die laaste paar ure vir my sou gee wat ek soek. Laat die middag trek die stok weg waar ek die 18 en die 16 op die laaste sessie gevang het net langs die onderwatereiland. Dié keer het ek geweet ek het wat ek soek en toe ek hom skep het ek diep gesluk om my emosies in te hou. Die skaal bevestig wat ek al klaar weet en lees 19.1kg. Nog ‘n 40lb karp uit ‘n tiende verskillende dam uit! Dit was ‘n baie spesiale gevoel. Ek het die aand goed geslaap en net voor ek loop die volgende dag vang ek nog ‘n 15kg voor ek vir eers vaarwel roep aan Roodekoppies. Miskien sal ek volgende jaar my 20kg gaan soek en moontlik ‘n sesde dam 50lb.

Roodekoppies se karp is swaar!
Op 16kg geskat!
Die 19.1kg wat my my teiken laat bereik het van n 10de dam 40lb.
Die Lake Master-kaart van Humminbird het baie gehelp om ‘spots’ te kry.

Die aksie was soms wild.

Stywe Lyne aan almal.

Wenke Vir Boothengel By Roodekoppies

  • Kyk hoe die wind waai en waar die plante heen gaan.
  • Pasop vir die slik as die vlak water warm word.
  • Maak baie goed vas met jou ankers. Die dam is baie onvoorspelbaar met sy storms.
  • As jou stokke se punte in die water kan ingaan is dit baie beter en die plante haak jou baie minder.
  • Ek het ‘n lang Gardner teleskopiese skepnet paal waaraan ek ‘n klein hark gesit het om die plante weg te stoot van my stokke se punte af.
  • Ek gebruik 10vt Shimano TX5a stokke van die boot af. Dit maak alles net baie baie makliker hanteerbaar en veral as jy by jou stokke se punte wil uitkom met die plante wat pla.  


The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x