Jessica's Gems

Bote & Oewerhengel

Saamgestel deur die Proteakarphengelspan (2013)

In hierdie artikel is die fokus op ‘n boot tydens oewerhengelsessies. Dit beteken dat die hengelaar enige soort boot gebruik om die voer en hoekase in die hengelarea te plaas en ook soms om die vis mee te land. Die verskillende soorte bote bied sekere voordele en dan ook sekere nadele. Daar is natuurlik ook damme in Suid-Afrika waar geen bote op die dam toegelaat word nie, slegs radio-beheerde bootjies.

Kano

Vir so lank as wat ek kan onthou, word die normale veselglas-kano deur hengelaars in ons land gebruik. Van die nuwerwetse bote word uit plastiek gemaak. Die gemiddelde sosiale hengelaar maak steeds op sy kano staat wanneer hy gaan hengel. Dié soort boot is maklik hanteerbaar vir een persoon. Dit is egter nie so maklik nie om ’n vis vanuit ’n kano te skep, veral as dit ’n groot vis is!

 Dit word glad nie aanbeveel dat jy in ‘n kano staan nie, maars die egter uiters geskik vir die toediening van voer en plasing van hoekase in die hengelarea. ’n Kano is normaalweg vir net een persoon gemaak; moet as­seblief nie meer as een persoon in die boot laat klim nie, en veral kinders! Moet ook nie met jou waterskoene of -broek daarin klim nie – as die kano sou omkantel maak hulle enige swem-aksie soveel meer moeilik!

Rubberbote

Rubber-opblaasbote bied baie meer opsies – meer as een persoon kan veilig daarin gevra word en dit kan toegerus word met ’n elektriese motor en ’n visvinder. Die elektriese motor maak die roeiwerk sommer heelwat minder en daar word stiller op die water beweeg. Die visvinder se doel is om die beste hengelarea te identifiseer en die voer en hoekase elke keer op dieselfde plek te plaas. Daar is heelwat kleiner visvinder modelle beskikbaar.

Rubberbote is gewoonlik ongeveer 2,5 m lank en tussen 1m en 1,5m breed. Die lug in die kante van dié bote en die samestelling van die bodems van sommige rubberbote maak hulle uiters stabiel. Jy kan dus op die boot staan as dit moet sonder om nat te word (om te kantel). Verder kan die meeste rubberbote twee persone met gemak hanteer. Jy en jou hengelmaat kan dus saam op die boot wees wanneer jy ’n vis gaan skep sodat een persoon die motor en skepnet kan hanteer en die ander een die visstok en karp.

Sommige hengelaars gebruik ’n tegniek om die visstok op die boot te plaas en saam op die dam te neem wanneer die hoekase uitgeplaas word. Sodoende word die aas baie akkuraat geplaas en die kans dat die hoekaas gaan skuif omdat daar te veel spanning op die lyn is, word uitgeskakel.

Nog ’n voordeel van rubberbote is dat hulle oor die algemeen baie sagter op die water is. Wanneer jy ’n roeiboot gebruik wat van veselglas gemaak is, is die risiko baie groot dat die roeispaan teen die kant van die boot kap of die sinker uit jou hand tot op die bodem van die boot val. By rubberbote word dit grootliks uitgeskakel.

Rubberbote kan ook meer voer op ’n slag vervoer as ‘n kano. Dit beteken dat jy minder kere op die water hoef rond te ry. Die emmers of kratte word op die boot gelaai en wanneer jy by jou voerplek kom, kan die voer versigtig met ’n voerlepel uitgeskep en in die water geplaas word. So nie kan jy dit met jou hande doen.

Radiorbeheerde aasbote

Hierdie is seker een van die mees onderskatte maniere om vis te teiken. Dié soort bote is uiters sag in hulle beweging op die dam en kan baie akkuraat beheer word. Moderne modelle het ook visvinders sodat jy die hengelarea se bodem kan ontleed.

Van die modelle kan slegs hoekase en ’n voerbal na die hengelarea neem ter­wyl groter modelle ’n paar kilogram voer op die dam kan uitneem. Hierdie soort bote word om die volgende redes gebruik:

Ek weet van hengelaars wat ’n rubber­boot en ’n aasbootjie as ’n kombinasie gebruik. Wanneer jy oor ’n lang afstand hengel, is een probleem dat die batterye van die rubberboot pap word – dan word hulle “papperye” in plaas van batterye! Gevolglik gebruik van die manne die aasbootjie om die hoekase in te neem en die rubberboot om die voer na die voerplek te neem. Die rede daarvoor is dat ’n mens nie so baie kere voer as wat jy hoekase inneem nie.

Ek wil graag die volgende waarskuwings rig:

  • Moenie die bootjies oorlaai nie.
  • Moenie die bootjie in baie sterk wind en golwe gebruik nie, behalwe as dit van die nuwerwetse bote is wat vir daardie doel aangepas is.
  • Maak seker die bootjie se battery is vir elke inry sterk genoeg gelaai. In­dien die battery onderweg pap word, gaan jy dalk jou boot aan iemand anders skenk; die wind gaan hom wegwaai.
  • Maak seker wat die maksimum-opvangafstand van jou radio is sodat jy nie die bootjie buite die opvangaf­stand uitstuur en hom nie weer kan omdraai nie.
  • Indien jy jou bootjie snags wil ge­bruik, maak seker dit is toegerus met ligte wat werk. Gebruik twee verskillende kleure; een kleur as die boot weg van jou af ry en ’n ander kleur wanneer dit na jou toe ry.
  • Verpak die boot versigtig; indien jy die romp onbewustelik beskadig, is die kans goed dat jy ’n duikboot­model gaan hê!

Veiligheid kom eerste

Wanneer dit kom by die gebruik van bote is dit uiters belangrik om altyd veiligheid eerste te stel. Indien die wind té hoë golwe maak, bly van die dam af. Een vis is nie jou lewe werd nie.

Daar is reëls wat nagekom moet word by die gebruik van bote, soos reddingsbaadjies (life jackets), ligte vir die aand,roeispane, ens. Daar is al te veel hengelaars dood omdat hulle “te slim” was. Moet as­seblief nie ’n kans vat op die water nie!

4 1 vote
Article Rating

Related Articles

Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x