CAMP MASTER: Die Mega 800-kampstoel
PRODUK-OORSIG
WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Jessica de Villiers
Kampstoele en die keuse van die regte een wat by jou liggaamsbou pas, is ’n persoonlike een, amper soos stokke en katrolle! Camp Master het dit besef en daarom ‘n stoel vir almal gemaak, met unieke kenmerke om elke behoefte te pas. Die Mega 800 is een van dié wat jy vir ‘n rukkie moet gebruik om werklik te besef hoe goed hulle eintlik hul gedagtes tot selfs die kleinste detail toegepas het. Elke keer as jy fyner kyk, sien jy meer en meer as net die ooglopende.
Met die eerste oogopslag lyk dit soos ‘n standaard opvoukampstoel, maar as jy mooi kyk, sal die fyn detail jou verstom. Die opgestopte materiaal van hoë gehalte sorg vir duursaamheid en gemak, terwyl die raam stewig en sterk is en ontwerp is om 120kg met gemak te dra. Alhoewel dit as 120kg gespesifiseer word, is dit my mening dat selfs die swaarder ouens nie té bekommerd hoef te wees nie.
’n Kampstoel sonder plek vir jou glas of koffiebeker is altyd ’n probleem. Die meeste van die stoele het deesdae daardie eienskap in die armleuning ingebou en só daardie probleem opgelos.
En wanneer ‘n wynbottel sy verskyning om die kampvuur maak, het die wynglas nou ook ‘n plek nodig. Hoeveel keer het ons ‘n wynglas in die koffiebeker se spasie gesit net om te sien hoe dit omval of mors – alles as gevolg van die wynglas se unieke ontwerp. Camp Master het dit uitsorteer met ‘n dubbeldoel-ontwerp. Wat ‘n seën!
Hier het hulle nou regtig kreatief geraak – kyk ‘n rukkie hierna en dink aan wat jy sien …
Wanneer jy die stoel uit die sak haal, is dit altyd ‘n kopkrap van waar om die sak te sit, en teen die tyd wat jy na die uitstappie oppak, is die sak nêrens te vinde nie. Nou het hulle ‘n netjiese sakkie waarin hulle die sak kan bêre, en dit kan selfs jou gunsteling tydskrif hou.
Maar kyk mooi en jy sal nog ‘n interessante kenmerk sien. Die hoogte van die armleuning aan die agterkant is altyd ‘n probleem en nooit op die ‘regte’ vlak nie. Hulle het hierdie probleem opgelos deur maklik verstelbare bande te verskaf sodat jy dit kan stel om by jou eie liggaamsbou te pas. Nogal ‘n slim toepassinkie.
Dan die kwessie om van jou persoonlike items te bêre terwyl jy om die kampvuur kuier. Selfoon, aansteker, sigarette, kragbank, laaier en so meer is van daardie goed wat jy naby moet hê, maar nie noodwendig in jou hand nie. Hier het hulle ‘n handige sakkie bygevoeg wat aan die kant van jou stoel hang – binne bereik, veilig en gemaklik.
Laastens, om jou nuutste aanwins in te pak, te bêre en op te pas is so maklik soos vou dit op en bêre in ‘n netjiese sak, met ‘n toerygtoutjie en ‘n skouerband vir funksionele gebruik.
GEVOLGTREKKING: Die Mega 800 is ‘n liggewig, sterk en stewige maar gemaklike stoel, van medium grootte wat ‘n paar swaarder gewigte kan hanteer, met ‘n paar goed deurdagte oplossings vir tipiese uitdagings waarmee kamphengelaars te kampe het, terwyl dit netjies opvou en bêre, en min pakspasie opneem.
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!