Die Katrolle Sing

Dis Desembermaand en Kersfees is op hande. Dis ’n tyd om fees te vier want ons Verlosser is gedurende hierdie seisoen gebore en ons moet bly wees en die Vader dank dat Hy Sy seun geoffer het om ons van ons sondes te vergewe.
Maar dit is ook ’n tyd van onthou, onthou toe ons nog kinders was. ’n Tyd van verlange en heimwee. Dit is vakansietyd en ons sluit dan ons huisdeure en gaan strand toe, bosveld toe of besoek familie wat ons gedurende die jaar verwaarloos het. Daardie heimwee stappie laat ’n mens gewoonlik met ’n bittersoet in die diepste van die siel. Dis wanneer jy en ou Grootbek alleen om ’n laat kampvuur sit nadat die gesin-hulle reeds in die bed is. Die vlamme dans vrolik op ’n ligte nagwind se ritme. Die sterre verdof in die vuur se lig en ’n paar nagapies hou jou blinkoog in ’n doringboom geselskap. Die vlamme was kletterend bokant die kole en ek voel hoe die heimwee aan my binneste vreet.