DIE KATROLLE SING: Bloedrivier, ‘n Zoeloe Vertel
‘n Rubriek deur Hennie Egen* Foto: Voorgestel deur W.H. Coetzer, uit C.F.J. Muller, DIE GROOT TREK IN BEELD.
Visvang, hengel, noem dit wat jy wil. Ons grootste buitelug ontspannings-aktiwiteit is ‘n dag langs die viswaters met die gesin en ‘n vuurtjie wat brand met ‘n vleisie wat braai. Die buitelug is ons tuiste, dit is in ons bloed, soos ons taal, ons tradisies, ons eiesoortige mens wees. Ek skryf en dig in my geliefde Afrikaans en sekerlik die grootste tradisie, die grootse erfenis of nalatenskap is Geloftedag, 16 Desember 1838. Dis Desember en ek wil graag die besondere dag weer laat herleef.
‘n Ou Zoeloe vertel wat gebeur het …
Bleek blink die seile in sonsondergang, vrees wat soos reënwolke oor die ossewaens hang. Oorkant die rivier honderde kampvure teen die heuwel se hang en Zoeloes se ritmiese, trom beleide oorlogsang.
Die angsnag gaan stadig verby met ‘n tartende Zoeloe dreunsang wat nie ‘n einde wil kry. “Ons assegaaie soek bloed …”
By die ossewaens is dit die vrees vir hul geliefdes en ‘n vurige Gelofte aan God. “As U ons die oorwinning skenk, sal ons hierdie dag elke jaar as ‘n Sabbat herdenk.” Die trekkers het op hul knieë klein voor God gestaan en belowe dat hulle by hul belofte sou staan as hulle die oormag verslaan.
Die oggend breek grys en die wolke pak saam. Sarel Cilliers het knielede die Gelofte herhaal en gesmeek dat die Almagtige in die geveg vir hulle tussenby sou tree.
Die ou Zoeloe vertel verder: “Toe breek die hel los met krete en voet gestamp op maat van die assegaaie op skilde se ritmiese klank. Die Sondagstilte word soos die tempel se voorhangsel middeldeur geskeur en die engele treur oor die slagting wat op aarde gebeur.
“Kanonne brul en Sannas knal en ons krygers wat sterwend voor ‘n haelstorm van lopers val, maar steeds beweeg hul nader, in die rivier soos ‘n wilde dier, bloedlustig-mal. Die rivier het bloed gevloei en die doodsengel se stem het soos ‘n treursang oor die heuwels geloei.
“Toe kom die keerpunt. Ek weet nie hoe om dit te vertel. Uit die abbavel van die trekkers se geloof het bebaarde ruiters die wolke oopgekloof. Reuse ruiters op perde met skuim om hul bekke en hoewe wat vonke uit die wolke slaan, wie se gewere vuurbolle spoeg en hul oorlogskrete ver oor die velde gaan, het hulle ons verlam van vrees en het ons op vlug geslaan. Die trekkers het ons nie verslaan, dis die ruiters uit die lug. Hulle het ons bloed verwater, ons moes vlug. Dit was die spookruiters , die ruiters uit die lug …”
Aan alle lesers, Geseënde Kersfees!
*Hennie Egen is ‘n afgetrede koerantman wat naam as misdaadverslaggewer gemaak het. Tans woon hy in Bronkhorstspruit, werk aan sy digbundels, en haat die hiasinte wat die rivier onder die dam onhengelbaar maak. Sy nuutste bundel, “Heimwee” is tans beskikbaar (WA 064 810 7548).
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!