DIE KATROLLE SING: Die Bier Was Toe Net Genoeg!
‘n Rubriek deur Hennie Egen* Foto: Imagined with AI
“Drie kaste bier! Magtig man, gaan julle visvang of bierfees hou?” Ou Grootlieg se vrou, Elle lyk lelik omgekrap. “Nee, jy en daai dronk tjomme van jou gaan weer probeer om julle self te versuip! Ons vrouens is mos nie daar om ‘n ogie oor jou en daardie, daardie …” stotter sy woedend verder terwyl sy kyk hoe Grootlieg drie kaste bier op sy bakkie laai. Hy is op pad viswaters toe vir ‘n ontspannende langnaweek langs die viswaters.
Ou Grootlieg gooi wal, “Stadig nou liewe vrou, dit is nie net ek en Snorre wat gaan nie. Ons is vier ouens,” paai hy, “en wat is ‘n paar kaste bier nou tussen vier manne oor ‘n lang naweek?” sê-vra hy verder.
Elle kalmeer effe. “O, ek het gedink dit is net jy en Snorre. Wie gaan nog saam en waar presies gaan julle wees?” vra sy, tot ‘n mate gerusgestel dat daar meer van hulle is om al die bier te drink, maar wat sy nie geweet het nie was dat elkeen van hulle vir sy eie drinkgoed verantwoordelik was!
Vrydag vroeg is Ella en haar vriende op pad na ‘n vakansie-oord waar hulle Vrouedag gaan vier en die naweek saam kuier. Kort daarna is Grootlieg in sy bakkie op pad om Snorre op te laai vir ‘n rustige, vrouelose naweek langs die viswaters.
Hulle gooi eers brandstof in waar die ander twee vir hulle wag voordat hulle pad vat, dis nou Johan, die dorp se apteker en Kobus, die plaaslike juwelier. Dié twee is effe verfynde ouens, maar Grootlieg en Snorre verdra dié twee se verfynde maniertjies want beide ken die kuns om lekker kos in ‘n hengelkamp te maak. Wanneer dié twee saam gaan kan Grootlieg en Snorre al hul aandag aan hul visvang wei, terwyl elke maaltyd eintlik ‘n feesmaal is. Johan en Kobus kán kook en braai, so daarom is hulle altyd welkom om saam met Snorre en Grootlieg op so ‘n hengeluitstappie te gaan. Vir hulle is ‘n kas bier egter heeltemal te veel; ‘n enetjie of miskien twee as dit baie goed gegaan het, is vir hulle heeltemal genoeg.
Hierdie naweek gaan die vier op ‘n vriend van Snorre, ene Henk du Plessis se plaas langs die Krokodilrivier na aan die Mosambiekse grens kamp en visvang. Benewens sy makadamias het Henk ook ‘n krokodil boerdery aan die gang. Hy wat Henk is, is ‘n joviale kêrel en lief om oor ‘n paar biere te kuier, wat natuurlik reg binne ou Grootlieg en Snorre se kraal is.
Hulle het net na twee-uur die middag op die plaas aangekom, waar hulle gulhartig deur Henk en sy vrou, Yvonne ontvang is. Hulle is in twee rondawels gehuisves en eers genooi om koffie te geniet voordat hulle die lyne gaan natmaak.
So oor die koffie gesels Yvonne, Johan en Kobus land en sand oor die lekkerste en beste maniere om tiervis, kurper en baber gaar te maak, terwyl Henk, Snorre en Grootlieg gesels oor die beste plek in die rivier om te hengel asook oor die boerdery met krokodille.
Henk verduidelik dat hy die hoenderboerdery eintlik aan die gang het om die kroks van kos te voorsien. “Dit kos jou minder om die krokodil groot te maak as om ‘n vark groot te maak en jou wins is baie groter” vertel hy.
Na die geselsery was dit tyd vir die besoekers om hul visvang naweek te begin, so spring hulle in Grootlieg se bakkie en ry agter Henk aan wat voor ry om hulle te wys waar die beste plek langs die rivier is. Op pad ry hulle by verskeie damme verby waar krokodille geteel en groot gemaak word. Oral lê krokodille in die son langs die damme. Stewige yster omheinings is om die damme staan gemaak om te verhoed dat hulle ontsnap en in die rivier beland.
Grootlieg en Snorre se lyne is eerste in die water en oor die laaste ure van die middag vang altwee mooi kurpers en daarna ook babers voordat hulle na hul rondawels terugkeer waar Johan en Kobus dadelik begin om die vis vir die pan voor te berei. Johan is ook na die plaashuis om raad by Yvonne te kry, maar eintlik om te hoor of hy van die suurlemoene wat geel aan die boom hang te mag pluk.
Die visbraai-aandete word in die lapa voorgesit en Johan en Kobus nooi vir Henk en Yvonne om die ete saam met hulle te geniet. Die tafel in die lapa kry ‘n helder rooi tafeldoek op en een van Yvonne se blompotte met twee helder rooi rose daarin versier die gedekte tafel. Die gebraaide visdisse was baie lekker, net soos Grootlieg en Snorre dit verwag het, so die aand se gekuier was ‘n genotvolle en aangename sukses. Verdere hengel kon tot die volgende oggend maar bietjie wag …
Die volgende oggend egter is daar ‘n konsternasie op die plaas … ‘n krokodil het ontsnap! Die krok het blykbaar onder die heining deurgekom en moet nou so gou moontlik gevang word en weer agter die staal heining beland. Henk en van sy werkers spoor die dierasie op nie ver van sy dam af nie, waar Henk die dierasie met ‘n verdowingpyl skiet. Dis ‘n groot, swaar krokodil sowat vier meter lank.‘n Stuk seil word nader getrek en die slapende krokodil word daarop gerol en agt manne – insluitende die vier hengelaars – is nodig om die verdoofde krokodil na die wagtende sleepwa te dra.
Die sleepwa is met tralies omring met die hek aan die agterkant. Met die optelslag word die krokodil wakker met so ‘n amperse brul-geluid en die groot bek wat wyd oop gaan. Almal los en laat spaander, behalwe Johan wat soos ‘n skoolmeisie sy hande in die lug gooi en trippel soos ‘n skouperd.
“O jittekie! O jittekie!” is al wat hy gillend en trippelend kan uitkry. Kobus staan oopmond na sy trippelende maatjie en kyk toe Snorre Johan aan die arm wegruk en na veiligheid lei. Henk is vinnig by en skiet die krokodil met nog ‘n verdowingspyl en na ‘n paar minute lê die krokodil weer rustig in die seil op die grond.
Weer pak die manne die seil, met Johan en Kobus op die punt aan die stert se kant. Die hek word oop gemaak en die twee sukkel met die stert die sleepwa in. Die ander spook om die swaar lyf op die sleepwa te kry, terwyl Johan en Kobus die stert tot teen die agterste tralies trek. Dan is die kop in en word die hek toe geklap, met die twee nog binne in.
Toe die hek toeklap, word die krokodil vir die tweede keer wakker en begin beweeg. Toe die besef tot hulle deurbring dat hulle alleen met die krokodil op die sleepwa is, het Johan heeltemal die kluts kwyt geraak.
Hy het teen die tralie se kante opgeklouter asof hy ‘n bobbejaan is en aangehou klim, selfs toe hy oor die tralies is. Daar was egter niks om verder teen op te klouter nie en met ‘n benoude gil het hy al klouterend die grond langs die sleepwa getref.
Kobus het al “O jittekie!, o jittekie!” uiteindelik oor die tralies geklim. Die ander het, na ‘n aanvanklike skrik, hulself byna histeries gelag.
Daarna het dit ‘n hele paar biere geneem om Johan en Kobus weer kalm te kry, en Ou Grootlieg en Snorre se bier het toe waaragtig nie lank gehou nie en is nog voor hul laaste dag op die plaas al klaar.
Elle sou heel tevrede gewees het!
Tot volgende maand. Pasop vir krokodille.
*Hennie Egen is ‘n afgetrede koerantman wat naam as misdaadverslaggewer gemaak het. Tans woon hy in Bronkhorstspruit, werk aan sy digbundels, en haat die hiasinte wat die rivier onder die dam onhengelbaar maak. Sy nuutste bundel, “Heimwee” is tans beskikbaar (WA 064 810 7548).
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!