DIE KATROLLE SING: Die Proefplaas, en Onbedoelde Gevolge

WOORDE: Hennie Egen*

Die wêreld was besig om op totale uitwissing af te stuur. Hongersnood het talle bevolkings in die gesig gestaar en die Verenigde Nasies se kantoor in New York word dag en nag oorval deur wanhopige versoeke om voedselbystand. Wetenskaplikes is naarstigtelik besig met navorsing oor hoe om groter en beter oeste op die reeds oorbenutte grond te maak. Mielies wat ses koppe per plant dra was reeds ‘n algemene gesig op meeste plase en nuwe kultivar aartappels het 7kg per vier plante getoon (en dit was groot aartappels!). Tamaties, kool en pampoene se grootte het meer as verdubbel. Met sekere bestralingstegnieke is beeste, skape en bokke se grootte en gewig meer as verdubbel terwyl ander wetenskaplikes na die see en riviere gekyk het in hul soeke na ‘n antwoord om die voedselkrisis op te los.

Soos ‘n Amerikaanse viswetenskaplike, ene dr John Jeffery, die hoof van ‘n span wetenskaplikes op die oewer van die Krokodilrivier na aan die Mosambiekse grens om die verbouing van varswatervisse na te vors. Saam met hom was doktore Howard Wilson van Engeland, Ping Ho Ching van Sjina en Armand Botha van Suid- Afrika*². ‘n Span helpers, insluitend ‘n kok, was daar om na die kamp en die span se gerief om te sien. Weens die Laeveld se hitte is houthutte en ‘n groot houtsaal as verblyf kwartiere en werkslokaal opgeslaan, met sonpanele en ‘n diesel kragopwekker om krag te voorsien.  

Na twee dae se beplanning was hulle gereed om te begin werk en is die rivier met visnette, visstokke en aas gereed om ‘n enorme poel in die rivier se geheime bloot te lê. Die hele dag het hulle vis gevang, die visse se gewig, lengte en algemene kondisie aangeteken en weer laat los. ‘n Paar visse het darem in die hounet beland om hul kos voorraad aan te vul.

Vir ‘n hele week het hulle visvangery voort geduur en toe is daar met die verwerking van die data begin. Dit was sieldodende werk om al die data te tabuleer en elke visspesie se besonderhede versigtig in die rekenaar in te voer en weer na te gaan om te verseker dat alles korrek is.

Na drie weke was die databerging agter die rug en is allerhande formules in die rekenaars ingevoer en alles na die hoofkantoor in Amerika gestuur.



‘n Paar dae later kom die opdrag dat hulle moet voortgaan met die eksperiment en dat ‘n kanaal  om die poel gegrawe moet word om die rivier daarin te herlei op pad na die see toe. Na drie weke se dag en nag werk met swaar masjinerie is dit voltooi en word dit deur die hoofministers van Suid-Afrika en Mosambiek amptelik geopen en stroom die rivier nou om die poel op sy nuwe pad na die see.

Na nog twee weke se harde werk is die poel aan beide kante toegemaak om te verhoed dat die visse daarin en die spesiale radio-aktiewe isotope waarmee hulle die poel wou behandel in die rivier sou beland. Toe is die radio-aktiewe isotope in loodhouers per helikopter afgelewer. Die volgende dag het twee van die spanlede in spesiale klere, wat hulle na diepsee-duikers laat lyk, drie isotope op verskeie plekke in die poel laat sak. Allerhande instrumente word ook in die poel geplaas en met kabels aan gesofistikeerde rekenaars gekoppel, wat weer op hulle beurt met ‘n reuse rekenaar in New York gesels.

Na ‘n maand is almal tevrede dat alles goed funksioneer en bly slegs Howard en Armand en ‘n paar werkers agter om na die instrumente en hul verrigtinge om te sien, en vir die volgende vier maande monitor hulle al die instrumente om te bepaal of die eksperiment al die moeite werd was.

Hulle hou die lesings soos valke dop en maak seker dat die instrumente werk. Die werkers patrolleer die grensdrade wat om die poel gespan is en almal smul te heerlik aan ‘n vlakvark wat geskiet is terwyl dit onder deur die heining wou kruip.  Selfs eende en voëls word geskiet of verwilder om te keer dat hulle die radio-aktiewe water drink.

Na vier maande word die isotope opgetrek en deur die helikopter weggeneem. Die veldwerk van die eksperiment was nou oor. Eers so ses maande later land John en Ping per helikopter om die resultaat self te aanskou. Howard en Armand het vir spesiale versterkte en groter bote aangevra maar John het gereken dis nie nodig nie, alhoewel hy wel sterker vislyn saam gebring het. Armand het die besoekers vertel dat hoewel hy reken dat die eksperiment beter resultate as wat verwag was gelewer het, het hy ook ‘n ligte waarskuwing gehad dat daar ook ‘sekere probleme’ is …



John was egter haastig om ‘n net in die water te kry en hy en die ander aankomelinge is, nieteenstaande  Armand en Howard se waarskuwings, inderhaas met ‘n boot die water in. Die net wat hulle gegooi het was skaars in die water of dit was vol vis wat die boot rondgesleep het en die bemanning kon net mooi niks daaraan doen nie. Met ‘n groot geluk is ‘n tou toe na die vreesbevange bemanning gegooi wat dit ten spyte van die dobberende boot wat deur die visse in die net na willekeur rondgesleur word aan die boot vasgemaak en wat met groot gesweet en gespartel deur die helpers op die wal na veiligheid gesleep is.

Toe almal gekalmeer het is die net vol visse uitgehaal en met groot versigtigheid is die enorme visse gedood en geweeg. Altesaam veertien visse is uit die net gehaal, die kleinste ‘n bloukurper van 8kg en die grootste ‘n baber wat die skaal op 94kg getrek het. Dan was daar nog ‘n waterlikkewaan van sowat vyf meter lank en paddas van tot meer as een kilogram, om nie eens van die grootste muskiete in die wêreld te praat nie!

Ooglopend ‘n dawerende sukses! Maar die vreugde het vinnig verdwyn toe ‘n otter dreigend na die groep en die hoop visse aangestap kom. Hulle kon hul oë nie glo nie – ‘n otter wat 1,5m hoog staan en minstens so 60kg weeg! Gelukkig het die veldwagter wat die span opgepas het kop gehou en die otter geskiet voordat dit iemand kon beseer.

Die eksperiment het beslis ‘n groot voedselbron gebaar, maar soos Armand droogweg gemaan het, ook vele ‘probleme’ wat eers oorkom moes word …

Tot volgende maand, laat die katrolle sing. Voorspoed!

*Hennie Egen is ‘n afgetrede misdaad verslaggewer wat deesdae gedigte skryf, soos baie ander tob oor die agteruitgang van die land en wonder wanneer hy weer kans gaan kry om ‘n dag op die oewer agter groot karpe aan te kan spandeer.

*² Skuilname om die wetenskaplikes se identiteite te beskerm.



5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x