DIE KATROLLE SING: Herinneringe & ‘n Winter Hengelnaweek
‘n Rubriek deur Hennie Egen*
Om vir ’n naweek weg te breek en jou tent of woonwa in die skadu van ’n groot boom op die oewer van ’n rivier of dam staan te maak, is ’n lekkerte met min gelyke. Dit is hoe ek, en ek reken talle ander ook, voel. Ek woon op ’n plattelandse dorp op die Hoëveld, in die winter maar ‘n koue plek, so ’n hengeluitstappie in die Laeveld is altyd vir my iets besonders, veral as ek ook ‘n lyntjie kan natmaak!
Reeds etlike jare ‘n wewenaar is my nuwe kampmaat, ‘Milo’, ’n onnutsige breëbors Jack Russell wat mal is oor water. As ek by ’n rivier of dam gaan hengel waar krokodille is moet ek baie versigtig met dié lewenslustige hond wees want hy is net té lief om in die water te wees. Nou al twee jaar oud geniet Milo ons hengeluitstappies waarskynlik meer as ek! My ander kampmaat is die draradiotjie wat my daagliks op hoogte hou van ons regering se sotlikhede.
So is ek en Milo vroeg-vroeg op ‘n Vrydagoggend in die winter in my (ou) bakkie met my (ou) woonwa agter gehaak, op pad Laeveld toe. My dogter en skoonseun, waar ek deesdae bly, het my (soos gewoonlik), die leviete oor veiligheid en “onthou Pa se pille”, voorgelees. “Het ek dit en dat onthou?” en “bel elke oggend en elke aand” – kwaai kinders en ’n gehoorsame Pa! Eers toe ek deur Warmbad (nou Bela-Bela) ry en die ou pad na Nylstroom (nou Modimolle) vat, het ek weer soos ’n verantwoordelike grootmens gevoel. Ai, die kinders!
Ek geniet die ou pad want dit bring soveel mooi herinneringe uit my kinderjare na vore. Ek ry stadig en geniet die herinneringe wat ’n ou sinkgebou-eetplek langs die pad opwek; dan volg die afdraai na my niggie en haar man se plaas waar ek verskeie kere gekuier het. Hulle is nie meer daar nie – het jare gelede reeds die plaas verkoop en hulle iewers aan die Kaapse kus gevestig.
Dan steun my ou tjor hom teen Buyskop uit en skielik is ek in die Bosveld; die pragtige ou groot bosveldbome laat my skielik tuis voel en heimwee bring ’n knop in my keel as ek aan my oorlede ouers en oorlede broer en ons gelukkige kinderdae in Naboomspruit (nou Mookgophong) dink. Die donkergroen, blinkvet blare van stamvrugbome bring herinneringe van ons vrugtesoek in Desember in die Waterberg sterk na vore. Onder die stof van die tye sal jy ons kaalvoetspore om stamvrugbome en onder klapper, mispil- en moepelbome vind.
Ek dink met heimwee aan ons kinderdae toe ek saam met skoolvriende, Marx, Koffie en Chum die bosse om die dorp en die berg met ons ketties verken het. Die huis was ’n veilige hawe vir eet en slaap en ons speelplek was die rugbyvelde en die veld wat wyd om ons gelê het. Ek het na baie jare vir Chum, toe ‘n afgetrede pastoor toevallig opgespoor het deurdat sy pragtige kleindogter met my kleinseun uitgegaan het, ’n wonderlike toevalligheid. Marx en Koffie is reeds lank oorlede.
Op Haenertsburg trek ek van die pad af om ’n ietsie te eet en ’n koppie koffie te geniet. Milo vat sy kans om die bome op die sypad te besnuffel en dan poog om dit om te skop. Weer op die pad soek en kry ek die afdraai op die George’s Valley-pad en so dertig minute minute later ry ek by die hek van die kampplek langs die Tzaneendam in. Ek soek staanplek en maak my woonwa onder ’n boom op die oewer staan. Milo hardloop rond, merk al die bome in die omgewing en soos gewoonlik speel hy in die vlakwater langs die oewer. Hier is nie krokodille nie so ek laat hom maar gaan; hy geniet dit dan so!
Ek doen die nodige om die kampterrein reg te kry vir ’n lekker ontspannende naweek voordat ek my twee visstokke en die visgerei reg het. Toe gooi ek in en maak my gemaklik in my kampstoel met ’n kouetjie in die lekker soel Laeveld weer. Op die een stok se hoeke is my eie papmengsel en op die ander, ook meters verder ingegooi, is die hoeke vol erdwurms gelaai. Skaars tien minute later trek die lyn met die wurm-aas skielik so styf dat die poliesman daar doer trek. Dat die vis sonder enige aarseling die aas so gretig gevat het laat my dink dat dit ’n baber moet wees. En dit is toe so, ‘n kriewelende baber van so by die vier kilogram wat tot die blaffende plesier van Milo in my skepnet beland. Elke keer as ek ingooi sit Milo op die oewer met ore gespits, so asof hy net wag vir die volgende vis. . . Dan is dit weer ‘n vinnige induik en dan ‘n geskud van sy lyf en so vorder sy dag langs die water. Elke keer as ek ‘n vis skep dan is dit ‘n stert geswaaiery en ‘n geblaffery vir die vale. Vet pret!
Al my visse deur die dag is met die wurm-aas gevang – vier babers, ses swartbaars en agt klein bloukurpers as ek reg onthou. Na die dag sit ek die aand rustig langs my vuurtjie terwyl Milo met sy kop op sy voorpote by my voete lê. Een van die babers se rugstringe en een van die swartbaars is op die kole vir aandete; al die ander is net so terug dam toe. As Milo kon gepraat het, sou hy seker met my saamgestem het: dit was ‘n wonderlike dag om ons winter laeveld-naweek uitstappie mee te begin!
Elke hengelaar is ’n natuurmens en die rus en vrede van die water en die oewer kan mens met geen geld koop nie, en die geknetter van die kampvuur is die mooiste musiek ooit . . .
Tot volgende keer, laat die katrolle sing!
Hennie Egen is ’n afgetrede misdaad verslaggewer wat deesdae gedigte skryf, en soos baie ander tob oor wat hierdie maand se verkiesing gaan oplewer. Hy wonder ook wanneer hy weer kans gaan kry om ’n dag op die oewer te kan spandeer.