DIE KATROLLE SING: Nie Die Aas Of Diep Water Nie

‘n Rubriek deur Hennie Egen* Foto: Imagined with AI

Dit is ‘n warm nag, helder onder ‘n volmaan met miljoene skitterende sterre wat die hemel versier.

Die meer van Tiberias lê rustig onder ‘n helder hemel waar ‘n enkele hurkende figuur langs ‘n klein vuurtjie sit, wagtend op ‘n vissersboot wat in die vroeë oggendure die oewer sou nader.  Die flikkerende vlamme speel met skadu’s teen die ou vyeboom se stam waaronder die man sit. 

Sowat 60 meter van die oewer af, trek ses moeë vissermanne hul leë net vir die laaste keer leeg in. Hulle is moedeloos na ‘n vislose nag en begin traag na die oewer roei. Dis die derde nag wat hulle sonder vis huiswaarts keer. Moedeloos, moeg en ook platsak.

Simon, leier van die groep, lek die nattigheid van sy lippe af, spoeg oorboord en sien hoe die figuur by die vuur opstaan en na die water toe stap.  Die vuurtjie steeds brandend, asof wagtende op ‘n paar visse vir die kole.

“Jy maak verniet vuur” dink Simon terwyl hy die man op die oewer dophou, “hier is nie een verdomde vis in hierdie waters nie. Ons het ons arms stompies gewerk, ure aaneen en vir wat? Niks en die Romeine soek belasting! Waar moet ek dit uitkrap as daar nie vis is nie?”

Sy gedagtegang word onderbreek deur ‘n stem wat hulle van die oewer af groet.  “More manne, het julle ‘n goeie nag beleef?”

“Goeie nag?” Simon is erg frustrerend. “Dis die derde nag wat ons sonder ‘n enkele vis huiswaarts keer. Ons net is leeg, niks, ek sê jou niks, nie eers een ou klein vissie nie! Net niks!” Die laaste woorde is ‘n wanhopige, moedelose gil wat oor die water weerklink, en hy spoeg weereens oor die boot se kant.

“Jammer om dit te hoor maar die vuur brand reeds vir ons ontbyt op die kole!” kom die vrolike stem terug. “Gooi julle net oor die regterkant van die boot, sodat ons kan eet!” kom die stem op die oggendlug aangesweef. Hierdie keer klink dit meer soos ‘n bevel as ‘n versoek.  Verskeie van die bemanning maak gereed om die net aan die regterkant te laat sak, maar Simon, moeg, moedeloos en bekommerd, huiwer nog totdat een van die bemanning, Andreas hom aanspoor. “Ons het drie nagte vrugteloos gewerk, kom ons sien of die geluk nie gedraai het nie. Kom Simon, ons probeer nog een keer!” Simon kyk weer na die man aan op die oewer en meteens voel dit asof sy oë tot in Simon se siel kyk, so asof hy alles van Simon weet en hom met respek vra om die opdrag na te kom.

Opdrag? Ja, skielik weet Simon dat dit ‘n opdrag is wat wonderlike resultate gaan oplewer.  “Waarvoor wag julle?” roep hy uit. “Julle hoor wat die man sê. Kom ons laat sak die net!” en met ywer word die net oorboord gegooi.



Nog ‘n boot het stilweg op die oewer geloop en hou die geskarrel sinies dop.  Ook hulle het niks gevang nie.  Hoekom sal daar nou vis in die vlak water wees as daar niks in die diep waters is nie?

Skielik begin die waters aan die regterkant van die boot borrelend lewe kry soos ‘n groot aantal visse spook om uit die gevangenisskap van die net bevry te word.

Verdwaas staar die bemanning van die twee bote na die wonderlike skouspel.  Dan word die roeispane moeisaam ingespan om die boot met sy ongekende vrag na die oewer te stuur om te anker. Dit juig en jubel uit elke keel en bo alles klink Simon se bulderende stem: “Roei manne, roei! Die net moet op die oewer kom. Roei ek sê, roei!”

Toe die boot sy neus op die oewer stoot, spring die manne met groot ywer uit die boot en gryp elkeen die net waar hy vatplek kry en trek hulle so wat hulle kan om die net met sy kosbare vrag veilig op die oewer te kry.  Van die ander boot se manne het ingespring om te help.

Toe die net vol visse veilig op die land is, is meer as 150 groot visse daarin getel en is gesien dat die net hier en daar ‘n stukkende plek het, maar geen vis is verloor nie. Simon het die ander boot se manne bedank vir hul hulp en Andreas opdrag gegee om hulle vir hul hulp met ‘n paar visse te beloon.

Terwyl sy manne die visse volgens grootte klassifiseer en in houers verpak, het Simon ‘n paar visse skoon gemaak en daarmee na die groot vyeboom gestap om gebraai te word.  Die man by die vuur het hom verwelkom en genooi om by die vuur aan te sit.

Die storie van die groot vangs is deur een van die bemanning op die markplein van die dorpie vertel en gou het kopers met sakke en skottels opgedaag en is die hele vangs verkoop. Daar was genoeg om die bemanning, die ontvanger en al hul los skuld te betaal.

Op Simon se vraag wie hy is, het die man by die vuurtjie gesê: “Ek is Jesus van Nasaret, Seun van die Allerhoogste, die enigste, ware, lewende God, volg my.”  Simon, later genoem Petrus, het alles gelos en Hom gevolg.

Dit was nie die regte aas of diep waters wat hul grootste vangs ooit verseker het nie, maar om te doen wat Hy sê en Simon Petrus was die rots waarop Sy kerk geanker is.

Tot volgende maand, gebruik die regte aas!

*Hennie Egen is ’n afgetrede misdaad en politieke verslaggewer, en is steeds ’n entoesiastiese hengelaar. Deesdae deel hy sy wedervaringe in die lewe in vele gedigte. Sy nuutste bundel, “Heimwee” is tans beskikbaar (WA 064 810 7548).    



5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x