DIE KATROLLE SING: Oom Martiens En Tant Anna Se Visbiltong
WOORDE: Hennie Egen*
Oom Martiens van Staden was ’n blok van ’n man, nie baie lank nie, sowat 1.7m en byna dieselfde skouer breedte met ’n breë plat gesig en ’n welige wit baard en vonkelende grys oë. Sy bene was so dik soos my lyf en sy harige arms en dik gewrigte het ’n duidelike waarskuwing gerig dat jy met ’n sterk man te doen het, maar hy het maklik gelag. Oom Martiens was by almal in die omgewing bekend as ’n arm maar eerlike man. Hy was slegs in die vroeë sestigs, maar sy lang wit baard het “Oom” aan hom toegeken.
As ek aan hom dink, is dit asof ek steeds sy vonkelende oë kan sien en die lekker uit die maag bulderende lag kan hoor. Hy het ’n aansteeklike lag gehad en jy het spontaan saam met hom gelag. Maar omdat hy net tot standerd ses skoolgegaan het, kon hy nie maklik werk kry nie, en net soos die meeste van sy familie, het hy hart probleme gehad en kon derhalwe ook nie harde werk doen nie.
Dit het hom dus gedwing om peuselwerkies te aanvaar wat nie veel geld ingebring het nie. Gelukkig egter kon hy na hy getrou het op ’n plaas gaan woon waar die boer die huis gratis aangebied het om te verhoed dat vandale die plek afbreek. Toe kon hy groente plant en was hy wel ’n goeie groenteboer, ’n man met ’n ware groenhand. So het hy ’n groentesmous geword en goed genoeg aangegaan dat hy wel ’n bestaan vir hom en sy vrou, Tant Anna, vier dogters en ’n seun kon maak.
Sy groot liefde was egter die viswaters. As hy nie in sy tuin besig was om sy groentes te versorg nie, kon jy hom by die groot besproeiingsdam op die plaas kry, besig om kurpers, karp en babers en partykeer ook palings te vang. Die vangste, groot of klein, het op die van Stadens se tafel beland want Tant Anna was ’n bobaas in die kombuis en kon met al die vis en Oom Martiens se groentes ’n lekker ete aanmekaar timmer. Die klein visse, byvoorbeeld, is gemaal en met Tant Anna se kruiemengsel wat sy van haar ouma geërf het, as kerrievisballetjies voorgesit.
Die van Stadens was nie mense wat met kos gemors nie, so met al die oorskiet vis het hulle begin om visbiltong te maak, waarvoor hulle die kruieresep van Tant Anna se ouma ’n bietjie aangepas het. Die visbiltong was so lekker dat soos wat kuiermense daaraan gesmul het en daaroor gepraat het, het Oom Martiens laat besluit om dit ook so saam met sy groente te smous.
Vrydae het hy met ’n donkiekar na die plaasskool sowat drie kilometers van hul huis af gery met ’n volgepakte karretjie met sy groentes – kool, wortels, patats, boontjies of wat ook al in seisoen was, en dan ook met die visbiltong, netjies in plastieksakkies verpak. Hy moes gewoonlik langs die twee donkies stap want die karretjie was so vol gepak dat daar nie plek vir hom was nie.
Die ouers wat hul kinders kom haal het, het hom geken en hom goed ondersteun. Hulle het van sy agtergrond en gesukkel geweet en talle wou nie kleingeld hê nie, iets wat Oom Martiens met dank erken het. Die geld wat hy dan op Vrydae ingewin het was eers net genoeg om die volgende week se uitgawes te dek, maar die visbiltong wat Tant Anna met die kruie behandel het, het naderhand so gewild geraak dat Oom Martiens moes al hoe meer tyd by die dam deurbring om in die aanvraag te voorsien. Of dit die kurpers, karp of kurpers was – tot die palings – het nie saak gemaak nie, elke week se voorraad is uitverkoop.
Sy groente en vis onderneming het fluks gevorder en so goed dat hy ’n tweedehandse bakkie kon bekostig, sowel as om die gesin se algemene lewenspeil te verhoog. Die ou stukkende meubels is met stewige tweedehandse meubels vervang en daar was selfs geld oor vir materiaal sodat Tant Anna klere vir die kinders kon maak. Hy het ook ’n plan bedink om ’n klomp baber- en karpvingerlinge van ’n visteelstasie te bekom om in die dam te plaas.
Alles het goed gegaan vir die van Stadens en soggens en saans is boeke gevat en het Oom Martiens in sy growwe stem die Skepper bedank vir die wonder wat hulle nou beleef het.
Die skoolhoof, ’n meneer Franzen, het gereeld sy groente en pakkie biltong by Oom Martiens gekoop en dan belangstellend verneem watse kruie alles gebruik word en hoe die visbiltong voorberei word, en die trotse Oom Martiens was maar te bly om iemand so bo hom verhewe te vertel hoe.
Sowat ses maande daarna, op ’n Vrydag, het meneer Franzen soos gewoonlik by Oom Martiens se bakkie aangestap kom om sy groente en visbiltong te koop. Maar op dié dag kom Oom Martiens agter dat meneer Franzen nie lekker is nie en heel ongemaklik voorkom. Sy vermoede was toe reg toe meneer Franzen na hy betaal het ’n brief uit ’n lang bruin koevert haal en dit aan Oom Martiens oorhandig het. “Ek is jammer man, maar die departement van onderwys het opdrag gegee dat jy nie meer hier by die skool met jou verkope mag aangaan nie.” Toe Oom Martiens hom heel geskok en vraend aankyk, antwoord hy, “Hulle sê dis omdat by ander skole in die land ’n hele klomp kinders siek geword het van onhigiëniese kos wat blykbaar by skole verkoop word”.
Oom Martiens was platgeslaan. Met skok het hy na die brief gestaar. Nog voordat hy nog vrae kon vra het meneer Franzen met ’n kortaf “Dis jou laaste dag hier by die skool” omgedraai en na sy kantoor terug geloop het.
Vir Oom Martiens en Tant Sanna was dit ’n geweldige terugslag. Hulle was dan uiteindelik heeltemal mooi op hul voete en nou dit!
Die volgende Vrydag was Oom Martiens egter weer in die pad by die skool se afdraai waar hy oudergewoonte gestop het waar verskeie ouers by hom gestop en groente gekoop het. Tot sy verbasing, en skok, het niemand egter visbiltong gekoop nie, en dis eers toe een van hulle by hom stop en ’n verseëlde pakkie vis aan hom toon, dat die rede daarvoor vir hom duidelik geword het. Dis toe ook vir die eerste keer vir hom duidelik hoekom meneer Franzen altyd so ’n groot belangstelling in sy en Tant Anna se kruiemengsel getoon het: op die netjiese verseëlde plastiese pakkie was die verskaffer se naam in groot, swart letters gedruk: “Franzen se Vars Visbiltong” …
Tot volgende maand, dan is die winter met ons. Wees warm!
Hennie Egen is ’n afgetrede misdaad verslaggewer wat deesdae gedigte skryf, en soos baie ander tob oor wat hierdie maand se verkiesing gaan oplewer. Hy wonder ook wanneer hy weer kans gaan kry om ’n dag op die oewer te kan spandeer.