DIE KATROLLE SING: Ou Grootbek, my amper leeu

Dit is Saterdagoggend, vroeg Desember en ’n lui rokie trek reeds uit my rooi bosvuurtjie waar my swart gebrande ketel vol stomende koffie bo my vuurtjie hang.

Ek is gelukkig en gooi nog ’n paar takkies op die kole om ’n vlammetjie dop te hou wat sukkelend aan ’n takkie klou voordat dit skielik helder vlam. Om my sing voëls baldadig in die groot waterbessieboom en loer nuuskierig na die vreemde wesens onder hulle.

Ou Grootbek, my amper leeu, amper beer, hond, lê met sy kop op sy voorpote en kyk hoe ’n toktokkie al kloppend op ’n vroeë oggend wandeling gaan. As daardie gedierte hom dalk eendag vir my gaan vererg, sal ek die ou swerkater moet skiet om my lewe te red.

Asof hy weet dat ek aan hom dink, lig hy sy kop, loer deur sy kapsel voor sy oë na my, gee met sy stert ’n paar waaie en gaan toe voort met sy studie van die rondloper toktokkie.

Die keteltjie op die vuur begin luidrugtig sing en ek kry ’n handvol moerkoffie en gooi dit in die sakkie in die ketel. Ek voeg ’n knippie sout by (volgens pa is dit noodsaaklik om ordentlike boeretroos te maak).



Nou sit ek en wag dat die regte mengsel ordentlik moet meng, voordat ek dit met groot behae gaan geniet. Ek vroetel in my knapsak op soek na ’n pakkie suiker, teelepel en ’n paar groot katkop-beskuite.Wat is ’n kampvuur-ontbyt dan sonder ’n katkop of twee om ’n dag mee te begin?

Toe Grootbek die reuk van die beskuit kry, stel hy ewe skielik intens belang in my doen en late. Ek gooi ’n beskuit in sy rigting en die groot ou steekbaard pluk die vlieënde beskuit uit die lug, so asof hy ’n Jonti Rhodes is wat op glippe diens doen.

Ek hoor ’n plons uit die poel se rigting en is net betyds om te sien hoe ’n jong oerdier van ’n vis half-lyf uit die water klim om ’n naaldekoker te vang.

Mkhulu! Hier is die oorsaak, die doel van my besoek aan hierdie seekoeipoel in die Koedoerivier. Ek het die duiselwekkende Slangkoppiespad gistermiddag getrotseer om by hierdie seekoeigat uit te kom nadat ’n ou swartman wat ek in Pretoria ontmoet het, my van hierdie poel en Mkhulu die reusevis vertel het. Ek het nog nooit in my lewe so ’n groot Swartbaars gesien nie en besef dat die ou man se beskrywing van Mhkhulu glad nie oordrewe was nie.



Met Grootbek aan die een sy, ’n half geëete katkop en beker swartkoffie aan die ander sy, het ek met ’n paar erdwurms aan die hoek die uitdaging om Mkhulu op die wal te land, aanvaar.

Twee en ’n halfuur later, met vier kleiner visse in my hounet, het ek tydelik gestop om ’n worsie en ’n paar eiers in ’n pan gaar te maak en ’n stuk bruinbrood met plaasbotter te betakel vir my ontbyt. Ou Grootbek is natuurlik voor getrek en soos ’n wafferse stadsjapie met ’n blikkie kos bedien.

My aandete was toe ’n visgereg maar dit was nie Mkhulu wat in die pan gebraai het nie. Diè ou kêrel was eenvoudig net te slim om vir my erdwurms, sprinkane of kunsase te val. My arm was seer van die ingooi, inkatrol, ingooi en weer inkatrol die hele dag deur. Die ou swartman se professie was besig om waar te word. “Jy sal Mkhulu nie vang nie,” het hy gemaan, “want daardie vis is so oud soos die rivier self en geen mens sal hom ooit vang nie!”

Ek het die volgende middag, na ’n wonderlike wegbreek-naweek onverrigter sake na Pretoria terug gekeer. Miskien was die ou man tog reg: niemand sal Mkhulu vang nie.

Tot volgende maand.

*Oud-koerantman, pryswenner-digter en ook entoesiastiese hengelaar, Hennie Egen woon in Bronkhorstspruit. Sy nuutste digbundel “Heimweë” is tans nog beskikbaar. Om te bestel skakel 064 810 7548.



The latest print edition of STYWE LYNE TIGHT LINES is now available in retail and selected angling stores!

0 0 votes
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x