DIEPSEE AVONTUUR: Wat maak ons die naweek … Ons vang marlyne!

Ek het al aan menige vrouekompetisies deelgeneem op St Lucia maar min kon ek dink dat vanjaar se Ratel vrouehengelkompetisie in Februarie een van my wildste drome sou waar maak.

Elke visvang kompetisie gaan gepaard met fyn beplanning. Dit sluit in, ons vrouens moet reël waar en by wie die kinders gaan bly, hoe ons daar gaan kom, wat ons gaan pak in ons boat packs (nat en droog natuurlik), ons kleredrag vir die visvang en tema aand en dan laaste, maar die belangrikste, wat ons visvang strategie vir die kompetisie gaan wees.

Ons skipper van boot John Deere Jnr, Junior Tonkin, het toe juis met die aanloop tot die kompetisie, die eerste keer die strategie geopper dat hy dink ons moet gaan om ‘n marlyn te vang.

Ons vroue bemanning, bestaande uit Velia Tonkin, Herine van der Merwe, Linde-Mari Riekert en myself, Vanessa Saayman, was nie heeltemal oortuig van hierdie strategie nie, maar toe ons as span weer saam kyk na hoe die punte bereken word en dat ‘n marlyn 60 punte tel, het die strategie by  ons begin aanklank vind.

As ek nou terug dink, staan ek in verwondering oor hoe naïef ek was dat ek steeds nie enige verwagting gehad het dat ons wel ‘n marlyn sou kry nie.

Op die eerste dag het ons tussen 500 en 1000 meter gesoek na ons gesogte marlyn, maar die dag het niks opgelewer nie en ons is met leë hande terug land toe. Aangesien ons ‘n volle dag op die see was en nie eens ‘n strike kon kry nie, het ek grapperig Appel se liedjie, “Foute” geïmproviseer na “Wat maak ons hierdie naweek … ons gaan boot ry, boot ry ...”



Die tweede en laaste dag op die see het ons weer tussen 500 en 1000 meter diep gaan soek vir ‘n marlyn-gelukkie. Weereens het dit nie vir ons iets opgelewer nie en ons het stadig terug beweeg na vlakker waters. Teen 10-uur het die realiteit begin insink dat dit slegs ‘n naweek van bootry gaan wees en ons heel moontlik met ‘n ronde nul op die telbord die kompetisie gaan eindig.

Teen 10:30 was ons rondom die 150 meter diepte-merk en die water was op daardie stadium 28.2 grade Celsius. Ek het toe maar besluit om ‘n vinnige uiltjie te knip en solank voor te berei vir die aand se feesvieringe, met die hoop dat ons vriende op die boot Pac Man, die kompetisie sou inpalm met hulle 84kg geelvin-tuna!

Ek het nie eens vir 40 sekondes op die naat van my rug in die son my tuis gemaak nie toe kom daardie mooiste geluid – die katrol wat onverpoos hardloop. Almal was op aandag en toe ons die eerste keer ons swart marlyn sien spring, was hy 100 meter van die boot af! Dit was soos om in ‘n droomwêreld te wees. Met Velia se hulp was ek binne sekondes vas gemaak in die Black Magic Equalizer-harnas.

Aangesien dit sover ons enigste vangs was vir die dag en heel moontlik die kompetisie, was die gemoedere maar hoog en ons skipper, wat gewoonlik ‘n rustige en humoristiese aanslag het met die intrek van ‘n vis, was baie meer luidrugtig en angstig. Ekself het met elke draai van die katrol ‘n skiet gebedjie opgestuur dat ek die marlyn asseblief nie sal verloor nie.

Dit het 20 minute gevat om hom in te trek met die 80 pond Shimano katrol. Die lyn was 37kg breekkrag en die briek op 10kg gestel. Daardie 20 minute sal in die geskiedenis boeke kan afgaan as die top punt van span werk!



Herine moes saam met die Black Magic my veilig in die boot hou, Velia het gedien as lyn gids en Linde-Mari moes help dat die stok op haar skouer kan rus. Junior en Ivan Baker, ons ghielie, het die boot gery, gedraai en geswaai soos ek nog nooit gesien het nie.

Na al die harde werk was die marlyn by die boot en weereens, met uitstekende spanwerk, kon ons die foto met die handsein kry.

Die hoek was deur die marlyn se snawel en Junior het hom baie mooi uitgehaal. Ek het die handskoene aangetrek, self die snawel vasgehou en my foto van ‘n leeftyd  gekry! Junior het gesê dat als in orde is en dat ek, sodra ek reg is, die marlyn veilig in die diep blou see kon vrylaat.

Toe ons swart marlyn-trofee weg swem en ons vir ‘n oomblik weer stil sit op die boot, was die emosies oorweldigend. Dit is toe dat ek besef dat my wildste drome so pas waar geword het. Op daardie oomblik het Appel se liedjie “Foute” weer ‘n draai kom maak in my gedagtes, maar dié keer was die einde anders. Ek sing toe vir die John Deere- span, “Wat maak ons hierdie naweek … ons vang marlyne, marlyne ..!”



5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x