Dis weer sulke tyd … Ons maak gereed vir die GYS PITZER BUSINESS CLASSIC by Roodekoppiesdam!

GYS PITZER MOTORING BUSINESS CLASSIC

Die tweede Gys Pitzer Business Classic vind plaas vanaf Vrydag 4 Augustus tot Sondagoggend 10 uur by Roodekoppiesdam se twee oewers, Waterwese en Roodekoppies Hengeloord. Hou gerus die spanne dop op ons Facebook en YouTube kanale! Ons glo daar gaan weer groot karp uitkom!

Hou ons FACEBOOK dop!

Hou ons YOUTUBE kanaal dop!


2022 het so verloop …

WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Jessica de Villiers, Charmagne Grimbeek, Jaco Grimbeek, Werner Lubbe en Riaan Riekert

Die Gys Pitzer Business Classic is ‘n unieke grootkarp-hengelkompetisie wat in spanverband plaasvind met vier hengelaars en vier stokke per pen. Dit is nie ‘n uitsluitlike spesiekompetisie nie, so enige oewerhengelmetode word toegelaat, maar net karpe met ‘n minimum gewig van 8kg word geweeg. Bote en aasbote is aan die orde van die dag. Vir hierdie eerste Classic is penne 1-7 op die oewer by Roodekoppies Hengeloord gebruik, en vir penne 8-22 die oewer van Waterwese. Op hierdie manier het elke pen in totaal ongeveer 100 meter se water gehad om in te hengel wat die lyndruk beduidend verlig het wat op ‘n moeilike naweek ‘n massiewe verskil gemaak het. Volgens die kommentaar van baie deelnemers na afloop van die prysuitdelingsfunksie is dit duidelik dat die Classic nog in ‘n baie gewilde en eksklusiewe toernooi gaan voortleef.

Die avondstond het werklik goud in die mond, wat ‘n pragtige gesig en ‘n mooi vis soos deur Die Speknekke ingeweeg.
Saam met al die tjeks van Gys Pitzer Motoring was talle ander borgpryse aangebied, soos van die XCO Group en ABE Midas.
Super Cast was die aasborg en elke span het ‘n lekker bederfie met die pentrekking ontvang.

Die naweek het weggespring met die pentrekking en ‘n heerlike worsbroodjie en cappuccino vir elke deelnemer soos net Pieter Bouwer, handelaarshoof van die Lindo Park-tak van Gys Pitzer Motoring dit kan reël.


Die Vrydagmiddag het hengel om 15:00 begin, en net ‘n uur later, teen 16:00 het die span van Wild Horn die eerste vis geland. Dit was ‘n weegvis en hulle was op die telbord.
Die Speknekke het aan die Waterwese kant gehengel en het gesorg vir die heel eerste vis op daardie oewer. Teen die volgende oggend was daar nog ‘n paar visse in die sak en toe moes hulle begin opgradeer.
Team Hunter het uit die staanspoor begin om groter vis te vang en het reeds vroeg in die wedstryd in die voorste geledere geboer.


Flowbin Sales het ook sommer twee vis gehad om te weeg toe die weegspan daar aankom. Elke vis is geweeg en alles is lewendig gestroom op For Anglers se YouTube en The Bank Angler se Facebook-bladsy. Memory Creators was verantwoordelik vir die lives en die kamerawerk.


Kliek hier om die dag mee te maak!

Die XCO Group, wat ook een van die hoofborge was, het ook ‘n span in die veld gehad en het laataand ‘n mooi vis geland. Wat ‘n pragtige gesig en voorreg om so met son-op die weegstaat te open met ‘n gesonde Roodekoppies-karp!
Die Hungry Boys-span het besluit om so bietjie van hulle kos vir die karpe ook aan te bied, en het een van die 30-ponders aangekeer.
Freddie Koch en sy span is ook ‘n mooi storie van gee sonder die verwagting om te ontvang. Freddie het sy hand opgesteek om te kom help met penne steek, merkers insit en algemene bystand te verleen. Toe die De Wet-broers moes onttrek en hulle ‘n kompetisie op Facebook loots, het Freddie die kompetisie gewen en kon ‘n span op kort kennisgewing inskryf wat toe ook goed presteer het. So help hy ook ‘n jong hengelaar om ‘n PB te vang.
Die mooiste mooi, enige hengelaar se medisyne!

‘n Mobiele koffie-barista by ‘n hengelwedstryd – net op die Gys Pitzer Business Classic. Die hengelaars en beamptes het hierdie bederfie geniet.


Freddie Koch en sy span met ‘n mooi ‘triple-up’.
Hulle het nie net rommel gepraat nie, hulle het ook ‘n paar mooi visse gevang.
Die Speknekke was vroeg op die telbord, en vang ook een van die min spieëlkarpe wat uitgekom het.
Die Carp Seals het ‘n rukkie gevat om ‘n baie interessante pen uit te sorteer, maar toe hulle eers die mooi platformpie ontdek op ‘n spesifieke patrollieroete, toe loop alles mooi.
Die jongste hengelaar op die oewer, Keano Dhaver van Enviro Cycle het hom gate uit geniet en vang ‘n hele paar mooi karpe.
Ons kon nog nie vasstel presies hoe hierdie een gebyt het nie, maar ons weet die aas was ‘n pynappel pop-up. Dit lyk asof hierdie ‘combo’ so twee of drie weke in die dam was voor Freddie hom uitgetrek het, met die hoek mooi in die EVA-handvastel.
Die grootste karp vir die toernooi, 16,725kg, is gevang deur Wynand van Tonder van die span Team Hunter.
Dit verskyn dan ook as die voorblad van die Oktober/November 2022 gedrukte uitgawe van Die Oewerhengelaar.
Wynand van Tonder het die R10 000 tjek van Pieter Bouwer en Gys Pitzer ontvang.


George Diamond met ‘n unieke karp waarvan die stert op ‘n jong ouderdom reeds gesplit is.
Die span van ‘Hier Gaan Ons Alweer’ het ook deur die oewer beweeg en saam met die weegspanne by al die penne gaan kuier.
Hier is die span saam met die Carp Seals waar hulle groter vis begin weeg het.
So kry ‘n paar hengelaars die geleentheid om saam met Petri de Wet en Gilbert Foxcroft vir hulle foto’s te poseer.
Een van die spogvoertuie wat Gys Pitzer Motoring aan die beamptes verskaf het om hulle werk effektief te kan doen. Hierdie bakkie het sommer op die toernooi reeds ‘n nuwe eienaar gekry.

Teamwear Solutions het ook lank gevat om die karpe aan die gang te kry, maar toe hulle eers die plan bemeester het, vang hulle mooi vis. Hierdie pragkarp is ook ‘n PB, en die tradisie leef voort.


‘n Pragtige ‘double-up’ vir GPM Team Baker’s Bin, en natuurlik moes Morné Saayman swem vir sy 14kg PB!

Teamware Solutions wat ‘n geleentheid kry om saam met Hugo Maree van die XCO Group die foto te neem.
Die Rommelpraters – of dalk die ‘koudkryers’ met die laaste vis vir die weegsessie van die aand.
Teamware Solutions het werklik mooi vis begin vang toe hulle die plan uitsorteer.

Team Hungry Boyz met ‘n paar pragkarpe wat hulle stewig in die vierde plek geplaas het.



Franna van Staden van Hook, Line & Sinker moes die koue aanvat so vroeg in die oggend vir hierdie pragkarp en PB.


Robbie Richards en sy span van Wild Horn Angling het uitstekend gevaar op pen 1. Nie net het hulle die eerste vis en agt skins se pryse gevat nie, maar ook die grootste spieëlkarp, die tweede swaarste vis en die algehele tweede plek wat hulle R40 000 in die sak gebring het.


Die vriendelike span van Super Cast het ’n aaspakkie aan elke span wat ingeskryf het gegee, asook 10 skins-pryse en hard gewerk om vis te weeg. Hulle kon dit egter nie regkry nie, maar het nie die stryd gewonne gegee voordat hulle die weeg- en kameraspan nie ‘n behoorlike poets gebak het nie. Op die groep dui hulle aan dat hulle drie karpe het wat in die doodsnikke gevang is en wat geweeg moes word.

Die hele episode word op Live uitgesaai en die weegspan is saam met hulle opgewonde om hulle uiteindelike ‘blank breakers’ te kom weeg. Daar kom hulle uit met die ‘swaar’ weegsak met drie fopvisse in. Ons was uitgeboul maar kon lekker saam lag en kon hulle die eer gee vir ‘n goeie gees tydens ‘n ‘blank’-sessie.
Gys Pitzer en sy span het op die oewer beweeg en ‘n paar pretpryse weggegee. Hulle het die prys vir die netjiesste en mees georganiseerde kamp toegeken aan Bennie Steyn en sy Super Cast-span.
Die span van ‘Hier Gaan Ons Alweer’ het ook langs die water gekamp. Hier het Vivian Torlage van Conquerer en Spiceologist vir ons ‘n heerlike vleisie voorberei.
Die span wat agter al die vermaak, logistieke en kosreëlings staan – Gys Pitzer en Hugo Maree saam met hulle kollegas.
Juba het gesorg vir die vermaak by die prysuitdeling.

Henno Hartman wen ‘n pragtige kragopwekker vir die grootste baber – dit nogals in ‘n karpkompetisie!

Die span van Daiwa en Fish het lank gesukkel om hulle blank te breek, maar doen dit toe ook met die grootste blank breaker – hulle wen ‘n tweedag-hengelgeleentheid en verblyf by Roodekoppies Hengeloord – seker om bietjie te gaan oefen!


Hierdie was werklik een van die kompetisies waar elke span ‘n prys gekry het, selfs die wat geblank het. Hier is die spanne wat in die 11de tot 14de plek geëindig het. Elke hengelaar het ‘n kampstoel gekry deur ABE Midas geborg.
Die Speknekke ontvang hulle pryse vir ‘n sesde plek – 35,85kg.
In die vyfde plek was die span van Gys Pitzer Motors Baker’s Bin wat R5 000 ontvang vir hulle drie karpe van 38,83kg. Pieter Bouwer oorhandig die prys.
Team Hungry Boyz se sak van 38,91kg sorg vir ‘n mooi tjekkie van R10 000, deur Gilbert Foxcroft oorhandig.
Hierdie spannetjie van Teamwear Solutions het werklikwaar gestoei om aan die gang te kom, maar toe hulle eers die resep het, vang hulle ‘n volle 42,75kg baie laat in die wedstryd.
Petri de Wet oorhandig hier ‘n mooi tjek van R20 000 aan die span.
Robbie Richards en sy Wild Horn-span weeg ‘n stewige 44,34kg se sak, net sowat ‘n halwe kilo kort van die wengewig vir hulle R40 000. Groothartig gee hulle ook die helfte van die kontant terug aan een van die kompetisies wat Wild Horn aanbied ter fondsinsameling vir behoeftige skole. Hier kry hulle die prys van Hugo Maree af.
Hierdie is die tjekkie waaroor die hele kompetisie nou eintlik gedraai het. Gys Pitzer gee hier R60 000 weg aan ‘n welverdiende prestasie deur George Diamond en sy Hunter Specimen-span. Hulle het ook die grootste vis ingeweeg.

4 2 votes
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x