Bank AnglerBass AnglerTight Lines

EKONUUS: Hiasinte ’n nuwe bedreiging by Rust De Winterdam

WOORDE: Bernard Venter FOTO’S: Verskaf

Eco-Care Trust, die bekende nie-winsgewende organisasie wat hom beywer vir die bewaring van ons hengelwaters, het onlangs berigte van hiasintebesmetting by Rust De Winterdam ontvang. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die hiasinte tans nog tot die riviergedeelte van die dam beperk was.

Eco-Care Trust het onmiddellik, met die ondersteuning van ’n paar vrywilligers, die probleem getakel deur die hiasinte per hand vanaf motorbote te verwyder. Alhoewel die besmetting redelik beperk is, het dit steeds ’n reuse poging geverg om die hiasinte te verwyder.

By skrywe van hierdie artikel (20 Oktober) was daar reeds twee optredes uitgevoer en sowat ’n ton hiasinte is verwyder. Daar word baie noukeurig te werk gegaan omrede elke hiasint verwyder moet word. Indien daar plante oorbly sal dit die bron van ’n opeenvolgende besmetting wees.

Die hiasinte is tussen riete weggesteek.

Daar kan met redelike sekerheid gesê word dat die hiasinte in die riviergedeelte alles verwyder is. Daar is egter nog ’n besmetting by die seekoei-eiland net waar die rivier in die dam inloop. Die verwydering van hiasinte om die eiland met sy twee residensiële seekoeie is ’n uitdaging wat te bowe gekom moet word. Seekoeie is niemand se maat nie, maar ons moet dringend ’n oplossing kry om die hiasinte om die eiland te bestry.

Die beste metode in ag genome die omvang van die besmetting blyk tans die fisiese verwydering te wees. Indien die poging nie suksesvol is nie, sal chemiese of biologiese bestrydingsmetodes aangewend moet word.

Weens die area van die verspreiding, die ontoeganklikheid van oewers en die teenwoordigheid van krokodille kan die bestryding nie vanaf die oewers gedoen word nie.

Hierdie hiasinte by die seekoei eiland is nou die grootste uitdaging om te oorbrug.

Hiasinte groei baie goed in eutrofiese water soos wat by Hartbeespoortdam die geval is. Rust De Winter is een van die mooiste damme in Suid-Afrika met nog puik watergehalte wat die groeitempo van die hiasinte eerder vertraag weens die gebrek aan nutriënte in die water. Met die reënseisoen egter op hande en die uiters warm weer wat ons in die binneland ervaar, is daar nie baie tyd oor om die hiasintebedreiging by Rust De Winter hok te slaan nie.

Ten einde met die projek voort te gaan, is die ondersteuning van meer vrywilligers van kardinale belang. Hoe meer bote ons het om die hiasinte te beveg, hoe beter is die kans om suksesvol te wees. Laat weet asseblief of jy op enige wyse kan kom help. Navrae: skakel Johan Stoop by 071 332 0083.

Johan Stoop met n hiasint in sy hand.
Gys Prinsloo het man alleen die hiasinte aangedurf.
Krokodille by Rust de Winterdam maak dit onmoontlik om vanaf die oewers af te werk.
Shaun en Petro Potgieter help om hiasinte uit te haal.
Vrywilligers aan die werk om hiasinte te verwyder.
Baie dankie Morne en Dawie Coetzer wat ook kom help het om hiasinte uit te haal.
Danie van der Nest met n sak hiasinte.
Bernard Venter en Johan Stoop met nog n vrag hiasinte.
Die vlot van Deon en Marinda Geldenhuys van die oord Monte Metsi is baie handig om die hiasinte uit te haal.
Ecocare Trust vrywilligers by n vrag hiasinte wat by Rust der Winterdam uitgehaal is.
Ecocare Trust vrywilligers met sakke vol hiasinte uit Rus de Winter Dam verwyder.
Dankie vir die vrywilligers wat gehelp het om hiasinte uit uit te haal.

HIASINTE – DIE VYAND

Ons hengelaars is al te bewus van die bedreiging wat hiasinte vir ons hengelwaters inhou – hierdie indringer is beslis ’n vyand van alle oewer- en boothengelaars.

Damme soos Hartbeespoort, Roodekoppies, Roodeplaat, en selfs Bloemhof, is voorbeelde waar hiasinte dikwels ’n verpesting vir ons hengelaars is. Oewers en baaie kan binne ’n ommesientjie so toegepak word met hiasinte wat hengel totaal onmoontlik maak. 

Hiasinte is van Suid-Amerika afkomstig en is as ’n alien invasive wateronkruid geklassifiseer. Dit het geen beskermingstatus nie en moet sover moontlik verwyder en/of vernietig word en mag glad nie versprei word nie.

Hiasinte het die vermoë om binne enkele dae in ideale weersomstandighede in volume te verdubbel. Dit plant voort deur sade afkomstig van die mooi pers blomme wat dit maak, maar kan ook vegatief, dit wil sê deur stiggies (stukkies van die plant), wat in die water ronddryf nuwe plante vorm.

Die beste beskerming teen verspreiding van die plant is voorkoming. Moenie die plante opsetlik of per abuis na nuwe habitatte versprei nie. Mense versprei die hiasinte vanaf hulle visdammetjies waar dit as sierplant dien na riviere en damme. Motorbote versprei die hiasinte na ’n volgende dam deurdat dit aan die sleepwa van die boot vassit. Wees dus baie bedag daarop as jy jou boot uit die water haal dat daar nie hiasinte op jou boot of sleepwa agterbly voordat jy by ’n ander dam lanseer nie.

Die bestryding van hiasinte kan gedoen word deur dit fisies te verwyder, deur chemiese bespuiting of biologiese toediening van goggatjies wat die hiasinte vreet. Elkeen van die metodes het ’n rol om hiasinte te bestry. Waar die hiasinte nog nie te veel is nie, is dit die mees effektiefste om dit bloot fisies te verwyder deur met die hande of met harke uit te skep. 

As die hiasinte eers versprei het oor ’n groot area is die chemiese of biologiese bestrydingsmetodes meer effektief. Naas fisiese uithaal van die hiasinte is die biologiese bestryding die mees omgewingsvriendelike metode. Chemiese bestryding is baie effektief maar moet met die korrekte chemikalieë gedoen word. Die nadeel van chemikalieë is dat as dit nie versigtig toegedien word nie ander waterplante ook vrek. Verder sink die hiasinte wat vrek na die bodem van die dam en veroorsaak ’n opbloei van nutriënte wat algegroei bevorder. Die uitermate algegroei is dikwels net so ’n groot pes as die hiasinte.

*Lesers wat met hiasintebeheer kan help, skakel asseblief vir Johan Stoop by 071 332 0083.


The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!


The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

0 0 votes
Article Rating

Related Articles

Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x