Erge besoedeling by Roodeplaatdam: Oplossings gesoek

OMGEWINGSAKE

WOORDE: Jurie du Toit | FOTO’S: Eben Dowd (Mar Leo, 21 Januarie 2025)

Goeiedag medelesers,

Roodeplaatdam het drie uitsonderlike hengelplekke: die Noord-Transvaalse Visgronde, Hengelaarsvriend en Mar Leo Visvang en Kampeer. Hierdie drie naby Pretoria lok jaarliks duisende hengelaars. As pensioenarisse probeer ek en my neef elke Donderdag by een van hulle hengel. Die karp en babers is mooi groot en die dam lewer gewoonlik goeie vangste.

In die vroeë somer van 2024 het ons die skielike teenwoordigheid van waterhiasinte opgemerk. Dit het die dam redelik vinnig oorgeneem, wat natuurlik ons hengel byna onmoontlik gemaak het.

Die dam bied ook internasionale regatta-byeenkomste aan so die hiasinte was vir dit ook erg steurend. Iemand het toe blykbaar opgetree om die probleem reg te stel. Ek weet nie wat gedoen is nie, maar die massiewe eilande van drywende onkruid het verdwyn. Welgedaan aan wie ook al die aksie begin het!

Verlede maand het ek en my neef die dam besoek en baie min hiasinte gesien, maar daar was ‘n ander probleem, moontlik erger as die onkruid. ‘n Stroompie tussen Mar Leo en Hengelaarsvriend vloei in die dam in. Dit het onlangs ‘n redelike hoeveelheid reën gehad en die invloei van water het ‘n absolute nagmerrie van besoedeling en gif meegebring – plastieksakke, bottels, dooie diere, bome, menslike afval en stukkies hiasinte van verder stroomop.

Dit word verwag na swaar reën, maar om dinge nou te vererger dryf ‘n dik groen slym van ongeveer 200mm dik nou op die water. Die slegte reuk van verrotting is so erg dat hengelaars beslis nie hul gesinne soontoe sal neem vir ‘n prettige dag en ‘n braai nie. Afgesien van al die plastiek- en ander gemors is die groen slym verreweg die ergste. As dit op jou vel of klere kom, is dit baie moeilik om te verwyder. Wanneer dit op vislyn en jou stok se ogies kom, is dit rampspoedig: dit maak vislyn vuilgroen en dan as dit droog word verhard dit tot ‘n soort supergom. Hoe langer dit op die lyn en stok-ogies bly, hoe harder word dit. Die opbou van slym op ‘n skepnet moet gesien om geglo te word. Dit verander basies die net in beton. Ek het geen idee wat die slym is nie, maar dit is beslis ‘n groot bekommernis. My enigste opmerking is: as dit na gif ruik, soos gif lyk, en soos gif smaak, dan is dit beslis nie pampoen nie!





Roodeplaatdam is deel van ‘n natuurbewaringsgebied. Die hoeveelheid en verskeidenheid wilde voëls wat daar gevind word, is enige voëlkyker se droom. Die lys van voëls is lank, en die verskillende voëlgesang met dagbreek is ongelooflik om te hoor en is op sigself ‘n spesiale ervaring. Monitorakkedisse kan dikwels gereeld in die son gesien word of in die dam besig om te swem. Die punt is dat al die voëls en diere die dam nodig het om te oorleef. Net soos die groen slym op vislyn opbou, bou dit ook op voëlvere op. Kliphard, ‘n doodsvonnis!

So, wat kan ek doen aan die hiasinte, die besoedeling, die slym, die slegte reuk en die gemartelde voëls? Dit is nie probleme wat gister begin het nie. Die probleme is bekend aan almal, die owerhede, die oordeienaars en die hengelaars. So, wat kan ek doen om die situasie te verander? Basies niks!

Hoe hartseer dit ook al mag klink, ek kan net doen wat alle bewaringsbewuste hengelaars doen, soos om klein karp terug in die dam vry te laat, hoekwonde van visse met antiseptiese middels te behandel, visse op ‘n sagte mat te plaas om die hoek uit te haal, en luidkeels kla dat nie genoeg gedoen word om die omgewing te beskerm nie. Ek sit ook met gevoude hande om hulpeloos te kyk na die stadige vernietiging en ongelooflike lyding van ons ekostelsel.

Het iemand daar buite beter idees? As pensioenaris is ek bereid om my tyd een dag per week vrywillig aan te bied vir enige dambewaringsprojek wat bestaan. Of, met eendersdenkende persone, ‘n inisiatief of projek te vestig wat selfs ‘n klein maar blywende verskil sal maak.

Ek het ‘n paar idees, of is dit ‘n kwessie van te min te laat? Ek hoor graag van medehengelaars!

Vriendelike hengelgroete, Jurie du Toit.



The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x