FISHPO 2024: ‘n Reuse sukses!
HENGELNYWERHEID
WOORDE: Riaan ‘Vis’ Bezuidenhout | FOTO’S: Jessica de Villiers
Op 31 Augustus was dit weer tyd vir een van die grootste publieke hengeluitstallings, die Fishing Expo oftewel FISHPO. Hierdie jaar het FISHPO by Laerskool Swartkop in Centurion plaasgevind en soos die vorige jare het dit weer uit sy nate gebars.
Dié jaarlikse geleentheid was deur 1520 ywerige hengelaars en belangstellendes bygewoon, wat wel minder was as in 2023, maar die uitstallers se verkope het getuig van ‘dubbele’ sukses! Die stalletjies het oor die algemeen baie beter gedoen en almal wat daar was het met baie lof gepraat oor die geleentheid. Die hoeveelheid hengeluitstallings het vermeerder na 80 as gevolg van ‘n groter verskeidenheid hengelfasette wat betrokke was, naamlik oewerhengel, spesiekarphengel, kunsaashengel en ligtegereiboothengel. Die magdom bote wat op skou was – vanaf roeispaan tot by Linex Yamaha se perdekragmotorgedrewe watermonsters – was genoeg om enige hengelaar se mond te laat kwyl.
Die magdom kos- en diverse stalletjies het gesorg dat almal se magies vol was en vele het met ‘n mooi leersak of ‘n paar velskoene weggestap.
FISHPO HOOGTEPUNTE
Sonder twyfel, die grootste voordeel wat FISHPO aanbied is dat sosiale en alledaagse hengelaars saam met hengel-ikone kan gesels by hul uitstallings en ‘n spogfoto neem, of ‘n handtekening kry wat by die huis mee gespog kan word.
Die verskeie uitstallers het alweer die geleentheid ordentlik aangegryp en hul nuwe produkte bemark. Shaun Rusch Angling het sy nuwe pers reeks bekendgestel, OMC het ‘n hoekskerpmaker en die proses om ‘n hoek sorgvuldig skerp te maak vir die toeskouers uitgebeeld en FISH het hulle nuwe baanbreker ‘Paste’ by die dosyne verkoop.
Deur die loop van die dag was daar talle kompetisies waar die feesgangers pryse kon wen. Hengelkaste, visstokstaanders, selfs ‘n naweekvakansie by die see en nog vele meer was alles moontlik in jou skepnet.
Van die pryswenners
Een van die kompetisies was ‘n skattejag in die verspringsandput wat deur FISH aangebied was vir die kinders, tot groot vermaak vir elke toeskouer. Mens het net stof sien trek soos die kinders gegrou en gesoek het.
Nog ‘n vuurwarm kompetisie was om die dapperste ‘brandbek’ te kroon – ‘n chilliworsrol eetkompetisie – aangebied deur die Bakkies The Butcher/Boerewors-stalletjie. Hier het jy amper rook sien trek!
Super Cast se stalletjie was weereens ‘n spogstalletjie. Hulle het verlede jaar ‘n kolgooikompetisie aangebied wat ‘n groot sukses was. Hierdie jaar het Schalk van Breda en sy span dit nog ‘n stappie verder gevat en ‘n werptoernooi aangebied. Daar was vier afdelings en elke deelnemer moes in al vier presteer om aan die einde van die dag koning te kon kraai.
Die eerste afdeling was ‘n vergooikompetisie met ‘n tennisbal wat aan die punt van die vislyn vasgemaak was. Die volgende afdeling het deelnemers hulle akkuraatheid bewys met ‘n kolgooikompetisie. In die derde afdeling moes die deelnemers met ‘n baarsvisstok ‘n kunsaas in ‘n emmer werp. Laastens moes hulle met ‘n vlieghengelstok ‘n vlieg herhaaldelik soveel as moontlik keer binne ‘n hula hoop laat beland, binne ‘n bestek van 60 sekondes. Die wenner van die toernooi het nie net spogregte vir ‘n jaar gewen nie, maar ook R5000 kontant ontvang.
VOORUITSIGTE VIR FISHPO 2025?
Corné Wilken, FISHPO se organiseerder sê dat hy graag volgende jaar FISHPO iewers langs die water, by ‘n dam of rivier, wil laat plaasvind. Met die bootstalletjies wat hierdie jaar ‘n groot sukses was, sal dit dan die geleentheid skep vir feesgangers om die bote op die water te kan toets.
Die vergooikompetisie as sulks kan dan binne die water plaasvind en feesgangers kan hul nuut-aangeskafte produkte dadelik in die water werp en hopelik ‘n vissie vang.
Tot volgende keer. Mag die katrolle skree, jou vislyn styf trek en menige nat nette veroorsaak!
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!