GABON: ONVERGEETLIKE HENGEL-ERVARINGE
Ek is bevoorreg om deel van ‘n groep van nege passievolle hengelaars te wees wat tyd maak vir unieke ekskursies. Dit is ‘n vriendekring van hengelaars wat die samesyn van mekaar se geselskap geniet, maar ook die gevoel van ‘n blinklyf aan die lyn waardeer. Ons beplan, beraadslaag en bespreek moontlikhede gebaseer op vorige ervarings van hengelaars, internet-inligting en tydskrif-artikels. Vir ons almal is tyd kosbaar, nie net weg van ons beroep nie, maar ook weg van ons gesinne. Daarom moet so ‘n uitstappie vir ons almal die moeite werd wees, in tyd en in vis. Ons het al twee keer hierdie droom-avontuur meegemaak, so ek hoop hierdie artikel kan jou help om ook so ‘n droom te verwesenlik.