HENGEL met RIAAN ALLEMAN – Ohana Fishermen Cabins
‘n Paradys naby die huis
WOORDE: Riaan ‘Alleman’ Riekert | FOTO’S: Riaan & Anel Riekert; Stefan Hennop
In vandag se dae is dit bitter moeilik om ordentlike hengelwater te kry wat veilig, skoon en naby aan die huis is, maar ek het nuus! Riaan Alleman het afgekom op ‘n ‘paradys’, so te sê net om die draai van my huis.
Alleman is altyd op soek na nuwe plekke en daar is geen beter platform as die immer gewilde Facebook om na dié juwele te soek nie. Ek het dood eenvoudig die woorde ‘fishing places’ ingepons toe die naam Ohana Cabins my oog vang. Ek het nie gras onder my voete laat groei nie en het dadelik kontak gemaak. Ek moet ook sê hulle deel al hul inligting daar en jy het nie ‘n privaatspeurder nodig om hul kontakbesonderhede in die hande te kry nie.
Die kontaknommer het my deurgesit na die eienaar, Chantelle Boynton, en met die sprankel en opgewondenheid in haar stem het ek sommer dadelik geweet hier wil ek gaan kuier. In ‘n oogwink is al die reëlings getref en Alleman begin beplan aan sy uitstappie. Maar natuurlik sal so ‘n naweek nie lekker alleen wees nie en ek het baie vinnig begin dink wie die naweek saam met my kan deel. Die keuse was egter baie maklik, my nommer een keuse was my pragtige vrou, Anel, asook Jessica de Villiers en Stefan Hennop – wat geen bekendstelling nodig het nie. Ek en Chantelle het oor die volgende paar weke gereeld gekommunikeer en sy het my gerus gestel dat ons slegs beddegoed, kos en hengeltoerusting benodig – die res is daar. Dit is min in vandag se dae dat mens so lig hoef te pak en boonop is dit nog baie veilig ook.
So, terug by Ohana Cabins. In 1994 is die plaas langs die Rietspruitrivier tussen Kriel en Ogies in Mpumalanga deur ene Paul le Roux en sy vrou, Sonja gekoop. Hulle het die hengeloord en kampterrein, Boesmanland begin en dit is later verander na Hakuna Matata.
So twaalf jaar gelede het Chantelle Boynton die Ohana Fishermen Cabins-oord op die plaas gevestig. As die eienaar behartig sy saam met haar getroue werkers, Raymond en Patience, oor die laaste twee jaar self die instandhouding van hierdie fenomenale hengeloord wat Ohana vir soveel hengelaars geword het. Chantelle probeer altyd haar bes om sommer gou in te loer by die gaste om seker te maak hul kuier is so gemaklik en lekker as moontlik.
Vir ons hengelaars uit Gauteng is dit om en by ‘n uur en ‘n half se ry na dié paradys toe. Aan hulle linkerkant voor jy die hoofdam kry, is die Lapa-oord wat in spesiehengelkringe beroemd is vir sy pragtige spieëlkarpe, en dis juis vir daardie rede wat ek so opgewonde was om dié water te hengel. Daar is darem maar niks mooier as ‘n lekker vet spieëlkarp nie!
Met die week se werk agter die rug en bakkies gepak, is ons toe op pad na Ohana Cabins – paradys, hier kom Riaan Alleman en kie! Met ons inryslag is ons hartlik verwelkom deur Chantelle en sy het ons vinnig aanwysings gegee om by die cabins uit te kom. Sommer van ver af was die vier cabins sigbaar en hulle is perfek geleë met ‘n asemrowende uitsig oor die rivier.
Hier is die rivier maar so 60m wyd so jy het nie noodwendig bote nodig om daardie mooi vis te teiken nie. By die cabins aangekom het ek opgelet dat daar net agter die kombuisarea ‘n lekker speelpark vir die jong klomp is waar hulle heerlik kan lag en speel terwyl die grootmense ontspan langs die vuur en wag dat daardie vetties byt. Tussen die vier cabins is huisvesting vir 22 gaste beskikbaar, so dit alleen is ‘n resep vir ‘n lekker familiebyeenkoms.
Ons het eers gou afgepak alvorens ons verder die ander fasiliteite ondersoek het. Die cabins self waar ons gebly het beskik oor twee enkelbeddens wat jy gemaklik teen mekaar kan skuif as jy agter vrou se rug wil inkruip, en dan twee beddens bo-op mekaar vir die jongspan. Die cabins het ook elk ‘n klein yskassie om dinge koel te hou, maar onthou net om jou eie beddegoed saam te vat. Hulle het ook kragpunte met voldoende ligte en selfs Eskom gaan jou nie onderkry nie, want ‘n kragopwekker is beskikbaar vir daardie onbeplande donker aande.
Met alles afgepak en reg vir die hengel het ons ‘n tydjie afgeknyp om bietjie te gaan loer wat die oord ons nog bied. Daar is afsonderlike badkamers vir mans en dames en beide is silwerskoon met heerlike warm water om daardie visreuke af te was. Dan is daar die gesamentlike kombuis, en glo Alleman vandag as hy sê daar is alles in daardie kombuis en nog meer. Net om ‘n paar te noem: groot opwasgerief, groot yskas, potte, panne, ketel, mikrogolf, gewone oond, meer as genoeg bekers en glase, eetgerei en selfs ‘n potjiekos pot. En glo my as ek sê, ek het skaars die helfte van die items in die kombuis genoem. Vir die warm dae is daar ‘n staal plaasdam met skoon water om in af te koel en die boma reg langs die rivier skep die perfekte atmosfeer vir ‘n heerlike kuier en groot bos-TV (dis nou die kuiervuur). Die oewer self is pragtig skoon en baie mooi versorg – wat meer wil mens nou hê.
Maar dit eers daar gelaat … nou was dit tyd om die lyne in te kry voor die son ondergaan. Daar is baie keuses as dit kom by die water wat jy wil teiken. Vir van die keuses sal ek wel ‘n opblaasboot voorstel en dan kom van die beste vis reg voor jou uit, slegs 20m van die oewer af. Maar vir keuse twee sal ek voorstel dat jy baie stil is en geen ligte op die water laat val nie – die water is kristalhelder.
Na so ‘n kort gesprek tussen my en Stefan het hy besluit om die water reg voor ons te teiken met die spesietegniek en Alleman op sy beurt het besluit om die oorkant te gaan ondersoek – heeltemal links na Lapa se kant toe en heeltemal regs na die inloop se kant toe. Vir Alleman se keuse het hy egter die opblaasboot benodig, want soos julle al weet, laat sy gooitegniek veel te wense na …
Met die lyne sorgvuldig geplaas, het ons die bos-TV aangesteek en reggemaak vir ‘n lekker aand se kuier en daai gewilde kampvuurstories, en jong, het Stefan nie ‘n klomp stories gehad nie – van jag tot hengel het hy ons die heel aand getrakteer met storie na storie.
Wat die hengel betref het ons nie lank gewag nie – die wag was van korte duur en na slegs 30 minute het my eerste stok aan die linkerkant weggetrek met ‘n helse gejuig, en glo dit of nie, ek was bederf met ‘n mooi gesonde spieëlkarp, sommer om die rekening oop te maak. Dit was ongelukkig nie ‘n bus nie maar mooi bly maar mooi. Kort voor lank het my tweede stok weggetrek maar ongelukkig het ek die vis in die gras verloor. Net so bietjie raad – die dam het baie gras naby aan die oorkantste bank, so maak maar reg vir ‘n teleurstelling of twee. Stefan het darem ook deur die loop van die aand ‘n mooi vis geland, so in ons oë was die naweek reeds suksesvol.
Ons het tot laataand gekuier en was ook later die aand vergesel deur ‘n pa en sy seuns wat die verste cabin vir die naweek bespreek het. Alleman is baie sleg met name, maar ek weet darem nou die pa se naam was Evert Barnard en ons het vinnig sommer boesemvriende geraak. Evert se oudste seun, AJ se passie vir hengel is baie groot en dit was ‘n absolute voorreg om die jongman bietjie touwys te maak. Aan AJ, mag jy nog groot busse land in die toekoms! Met aand een agter die rug het ons besluit om bed toe te gaan en lekker uit te rus vir die volgende twee dae se hengel wat voorlê.
Vroegoggend het ek al ‘n geskarrel gehoor en tot my verbasing was Stefan voor Alleman op en die ketel was reeds gekook vir bietjie boeretroos. Ek het vergeet Stefan se verskuilde beroep is beroepsjagter en hy is gewoond om vieruur op te staan. Van ons lesers weet ook dat Jessica haar Proteakleure verwerf het in die feeder-faset en ons plan was om die naweek feeder ook te hengel, maar ons planne was ongelukkig in die wiele gery nadat Jessica baie siek geword het en nie kans daarvoor gesien het nie. Maar dit het ons nie gestop nie en ons het al die stokke sommer vroeg-vroeg oorgedoen vir die dag se hengel. Ons was gelukkig om deur die loop van die dag en die aand nog so ‘n paar visse te land. Ongelukkig egter nie daardie bus waarvoor ons gehoop het nie. Die dag was weereens afgesluit met ‘n lekker kampvuurkuier, en wat is so ‘n naweek nou sonder ‘n lekker skaapskenkelpot met stampmielies! Met die pense trommeldik is ons vroeg bed toe om die batterye te laai vir die laaste oggend se hengel.
Soos oggend een, was ons weer vroeg uit die vere en na die oggend boeretroos en beskuit het ek en Stefan besluit om die baarsstokke te vat en bietjie rivier-af te ry terwyl Anel en Jessica nog snoesig by Klaasvakie kuier. Die rivier is bekend vir sy mooi baars, maar ons was nie so gelukkig nie. Die kuier op die boot was egter die moeite werd. Na so ‘n uur se hengel het ons koers gekies kant toe en was dit ongelukkig tyd om die dames wakker te maak vir die goorste gedeelte van so ‘n naweek, en ja, reggeraai, tyd vir oppak. Dit was voorwaar weer ‘n naweek vir die boeke en ek weet dit was vir seker nie die laaste keer dat Ohana ons vier gaan sien nie. Chantelle en haar span wil ek bedank vir hul gasvryheid, dit was voorwaar ‘n naweek om te onthou.
Ohana Fishermen Cabins-oord is ’n stukkie hemel waar jy jouself weer vind, rus vir jou siel in God se pragtige skepping kan geniet en die gehuil van die jakkalse reg om jou kan hoor. ’n Plekkie waar jy kwaliteit tyd saam met jou geliefdes om die boma, in die plaasdamswembad of op die pragtige grasperk met geen steurings kan spandeer. ’n Plekkie waar vreemdelinge ware vriende word
Vier semi-selfsorgeenhede kan tot groepe van 22 huisves, ±15m vanaf die rivierbank. Hier het jy TOTALE privaatheid as jy ’n privaatbespreking maak – perfek vir enige hengelaar wat wil wegbreek uit die geraas van die stad of elke dag se gejaagde lewe.
Die oord is ideaal vir familiebyeenkomste, bachelors, verjaarsdae, spanbou of net vriende wat nie gesteur wil word nie, of bekommered is dat hulle ander gaste gaan steur nie.
Jy het toegang tot elektrisiteit in elke cabin, gemeenskaplike badkamers en ‘n volledig toegeruste gemeenskaplike kombuis. Die oord is rolstoelvriendelik, ten volle omhein, privaat en veilig met 24/7 sekuriteit. Jy kan selfs jou troeteldiere saambring!
Wat die hengelgeleenthede betref, spesiehengel, papgooi en kunsaas vir karp, baars, baber, geelvis en moggel is beskikbaar op ‘n streng vang-en-vrylaat basis, geen hounette is toegelaat nie, so ‘n onthoekmat is noodsaaklik, en behoorlike visversorging is aan die orde van die dag. Ander geriewe en aktiwiteite sluit in ‘n kinderspeelgrond, kanoritte, voëlkyk, stap- en fietsroetes. Klein motorbote is ook welkom.
Alhoewel Ohana ingerig is vir groepe, is individuele besprekings natuurlik welkom as jy nie omgee om die fasiliteite te deel nie. Geen dagbesoekers word toegelaat nie om gaste se privaatheid te verseker.
Soos Riaan Alleman altyd sê: “Waar is dit lekker? Hier mense, is dit vrek lekker!”
*Vir besprekings kontak vir Chantelle Boynton by 061 605 5815 of besoek hul Facebook-blad https://www.facebook.com/ohanafishermencabin/.
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!