Hengel saam met RIAAN ALLEMAN
DIE SOET EN DIE SUUR …
WOORDE: Riaan ‘Alleman’ Riekert | FOTO’S: Verskaf
Soet en suur het ‘n paar betekenisse: suiker is soet en asyn is suur. Of ‘n kind is soet en die swembadwater is suur, maar hier verwys Alleman nie na een van dié bogenoemde nie maar wel na ons laaste besoek vroeg in September aan Roodekoppiesdam.
Die ergste koue was gebreek, die kuitskiettyd het nader gestaan en Roodekoppies het mooi vis opgelewer, so dit was die perfekte tyd om daardie laaste vetties vir die seisoen te flous. Vir die ekskursie is Alleman vergesel deur sy vriend, Nico Oosthuizen, en my neef wat redelik nuut is in die spesiekringe, Chrisjan Stander. Maar moenie die woord ‘nuut’ onderskat nie. Die man het vir seker gegroei die laaste jaar of twee en min mense kan kers vashou as dit kom by sy spesiestroppe nie – glo my elkeen is volgens die boek gebou en sorgvuldig uitgemeet.
Eers genoeg van die bekendstelling, kom ek vertel meer van ons besoek aan wat bekend staan as ‘Motsi 2’. Roodekoppies word gevoed deur twee riviere, naamlik die Krokodil en die Gwathe. Die Krokodilrivier vloei vanaf die immergewilde Hartbeespoortdam en die Gwathe van die net so gewilde Buffelspoortdam. Motsi 2 is geleë in die Gwatherivierstelsel.
Met die aardrykskundeles agter die rug, is die bakkies gepak en Alleman en kie is reg om daardie vetties te gaan land. Met dagbreek Saterdagoggend het ek en Nico gearriveer, Chrisjan het eers ‘n paar verpligtinge gehad en sou eers die Sondagoggend by ons aansluit. Soos oudergewoonte het ons nie op ons laat wag nie en is die kamp in ‘n japtrap staangemaak. Dit is baie belangrik dat mens vir so ‘n vyfdag-sessie baie goed voorbereid is en daarom het ons ekstra moeite gedoen om die vyf dae so gemaklik as moontlik te maak. Vir hengelaars wat Roodekoppiesdam die eerste keer besoek, hou in gedagte dat meeste van die oewers geen geriewe het nie so jy moet reg wees vir alles wat na jou kant toe kom.
Ek en Nico het na die kamp opslaan een vir een die water gaan verken. Onthou vir veiligheidsdoeleindes moet daar altyd een persoon op die oewer bly, mens weet nooit wanneer ongewenste gaste jou tent besoek nie. Alleman het besluit om die oewer aan die oorkant te teiken en daar was twee redes: ek het mooi struktuur daar gekry en dit was bietjie uit die gewoel van ons op die oewer. Soos ek later sal vertel het die gewoel egter geen impak op die vis reg voor gehad nie. Met my terugkeer was dit Nico se beurt en ek het dadelik aan die werk gespring om my ase reg te kry vir die eerste invatslag. Soos oudergewoonte was my een stok gelaai met pitte uit die voer en bietjie gelê in my gunsteling geur van FISH, naamlik ‘Sonskyn’. Hierdie is eintlik vervaardig spesiaal vir Hartbeespoortdam, maar glo my die Roodekoppies karpe los dit glad nie uit nie. Ek het my tweede stok gelaai met Signature Series se ‘Two Tone’-pop-up en dié aas het gesorg vir baie vis oor die vyf dae.
Nico het op sy beurt besluit om ook die oorkant te teiken met twee stokke, maar sy derde stok het hy skaars 80m voor ons langs ‘n ou draad wat in die dam inloop gaan plaas. Glo my as ek sê daardie stok het ons almal oor die vyf dae verbaas en ook met tye ‘n lekker sirkus veroorsaak. Met my oorgaanslag om die eerste stok in te vat het iets op my Lowrance Fish Finder my oog gevang – daar was baie bome in die dieper water so op 8m – ek het nie gedink dit sou ‘n impak hê nie omdat ek die 4m-water geteiken het. Ek het beide stokke sorgvuldig geplaas met slegs ‘n handjievol voer en nou het die wag begin. Soos ons nou al by die tyd gewoond is het die hiasinte ons bietjie gepla en was ons gedwing om ons lyne te back lead sodat die hiasinte nie heeltyd aan ons lyne vashaak nie. Met ons albei se stokke in, het ons begin voorberei vir die aand en al die alarms en ligte opgestel. Soos ek al genoem het, sorg altyd dat jy goeie beligting agter jou tente het, want die ongewenste gaste hou nie van lig nie.
Met die bosveldtelevisie aan het ek en Nico mooi stories gedeel en teruggedink aan ons besoek vroeër vanjaar by Balaton in Hongarye – dit was voorwaar een vir die boeke. Ons was nog lekker aan die gesels toe my eerste stok wegtrek met een helse gejuig, vis was aan en Alleman se hart het geklop van blydskap. Onthou ook altyd as jy in die aand hengel om ‘n goeie kopliggie te gebruik en hou kop met die terugkomslag, mens raak baie maklik deurmekaar in die donker.
Wat ek ook nou al geleer het – omdat ons so ver hengel – is om reeds die volgende aas reg te hê op die boot sodat jy dadelik weer die lyn kan plaas nadat jy ‘n vis geland het, dan hoef jy nie twee keer te ry nie. Met die vis veilig op die boot en my lyn weer geplaas het ek met ‘n warm hart my weg teruggevind oewer toe, my naweek was reeds gemaak. Dit was nou nog nie die heel groot vis wat ons wil teiken nie maar dit het darem die skaal laat kreun aan die anderkant van 14kg. Na die opwinding was ons bed toe om die batterye te herlaai vir dag twee.
Alleman het in die vroeë oggendure weer ‘n besoeker aan die lyn gehad, maar ongelukkig het my lyn aan een van daardie bome gehaak en het ek die vis verloor. Die bome sou oor die volgende vier dae ‘n groot faktor speel, maar daarvan vertel ek later meer.
Ek en Nico was skaars uit die vere toe Chrisjan ons bederf met sy teenwoordigheid. Hy het ook nie op hom laat wag nie en hy was vinnig opgeslaan en slaggereed vir die volgende paar dae se hengel. Ons het op die boot gespring en die water aan die regterkant gaan verken. Chrisjan het ook besluit om eers die oorkant te teiken en een van sy stokke in ‘n baai geplaas – gewoonlik is ‘n baai ‘n resep vir groot vis. Dit was ‘n lekker besige dag en Alleman het sommer vroeg-vroeg weer ‘n mooi vis geland, maar dié keer op die mielie-aas.
Dit was vroegmiddag toe Nico se stok teen die draad ons verras het, maar wat sou volg was ‘n lekker sirkus. Die karp het ander planne gehad en homself deur die draad gewikkel, maar met Nico se ondervinding, het die karp tweede viool gespeel en is veilig geland. Dit was ‘n pragtige vis en het die skaal net duskant die 17kg-kerf getrek. Die dag het mooi visse gelewer, maar ongelukkig het Alleman nie minder nie as vyf visse verloor in die bome en dit was tyd om taktiek te verander. Chrisjan self het met die bome kennis gemaak en in die proses ook ‘n visstok kwytgeraak en daar en dan besluit die oorkant is dalk nie so ‘n goeie keuse nie.
Na ‘n lekker kuier langs die bosveldtelevisie, het dag twee op ‘n einde gekom en was dit tyd vir Klaasvakie om sy werk te doen. Alleman het sowaar weer ‘n vis in die vroeë oggendure verloor en sy moed was in sy skoene, maar van opgee was daar geen sprake nie. Dag drie het aangebreek en dit was voorwaar ‘n dag van ‘soet en suur’. Chrisjan het nes Nico besluit om die water voor ons te teiken en vir sy ander stok het ons ‘n mooi klipplato ontdek wat baie belowend gelyk het, ook in 4m water. Dit was oor die algemeen ‘n baie stiller dag en Nico het sommer besluit om bietjie baars te hengel en dit het hom goed besig gehou. Hy het oor twee dae meer as 50 baars geland.
Net voor sononder het alle hel losgebreek: eers het Chrisjan se vlak stok weggetrek en soos hy dit optel het die ander een ook met ‘n gejuig die alarm laat skreeu. Mens kon voel die eerste een was ‘n mooi vis, so Chrisjan het besluit om dit eerste in te bring terwyl Alleman sy ander stok net vashou om hom kans te gee om die eerste vis te land. Met die monster geland en veilig het ons vinnig in die boot gespring om die ander een te gaan haal, maar ongelukkig het dit los gekom, maar ten minste was die soet veilig in die sling. Chrisjan se vorige persoonlike beste was 10kg, maar daai een op die kant was vir seker groter en die opgewondenheid was groot. Omdat dit reeds baie donker was en dit ‘n persoonlike beste was het ons besluit om die vis oornag veilig in die sling te los om die volgende oggend beter foto’s te neem. Deur die nag het Nico nog so een of twee mooi visse geland en het die suur begin van die dag baie vinnig verander na soet.
Min het ons geweet wat die oggend van dag vier vir ons gaan inhou en ons was glad nie voorbereid vir wat op ons wag nie. Chrisjan het solank sy oudste klere gaan aantrek want tradisioneel word mens gestort met damwater as jy ‘n persoonlike beste land. Nico het solank alles reggekry en ingestap om die vis te gaan haal. Ek kon op Nico se gesig sien daar is groot fout en teleurstelling, en tot almal se skok het die karp deur die aand ontsnap. Ons vermoed die sling het ‘n klein skeurtjie gehad en die karp het dit reggekry om dit groter te skeur om sodoende weg te kom. In ‘n oogwink het die soet begin van die oggend heeltemal suur geword en was dit ‘n ‘donker’ dag op die oewer. Dit was ook ongelukkig Chrisjan se laaste dag en hy het met ‘n baie swaar gemoed begin pak.
“Maar neef, in my hart weet ek jy het daardie persoonlike beste geland en ons het darem die foto van die skaal en die vis waar hy in die mandjie lê – ek weet die prentjie is nie volmaak nie, maar jy bly ‘n yster.”
Ek en Nico het die dag gesukkel en daar het geen verdere vis op dag vier uitgekom nie. Met steeds ‘n suur smaak in die mond het ons vroeg gaan slaap. Die volgende oggend was dit tyd vir oppak. Alleman het darem nog een mooi vis geland van net so oor die 12kg en die naweek op ‘n hoë noot afgesluit. Dit was ‘n soet-suur naweek, maar soos altyd het ons weer ‘n paar lesse geleer.
Soos Alleman altyd sê: “Waar is dit lekker? Hier is dit lekker!“
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!