HENTIESBAAI: Mannetrip vir pa en seun

Wat ’n voorreg om vyf dae van hengel en woestyn-vryheid saam met my seun te spandeer met my voete in die koue nat sand van Hentiesbaai. Kom ek vertel van ons mannetrip …

My seun, ook “Nico” is nou 10 jaar oud. Ons het al vele familie vakansies gehou in Hentiesbaai en “KleinNico” het langs die water homself as ’n ware hengelaar bewys.

Na baie mooi praat by die huis het ek en hy die groenlig gekry om ons eie “mannetrip” te beplan! Nico het gewroeg tot die laaste skooldag van die kwartaal aanbreek waarna ons op die 17de Maart gevlieg het na Namibië vir vyfdae van strandhengel!

Ons bakkie het elke oggend vroeg in die rigting noord uit Hentiesbaai vertrek, met bakke vol aas en ’n see vol beloftes wat vir ons wag! Elke aand net voor donker was ons weer op pad terug met bakke vol vis en moeë lywe!

Nico snr en jnr by Myl 108.


Die eerste vis van die week.

Ons het op die eerste paar dae goeie vangste van vet galjoene, kolsterte en ’n paar mooi jong kabeljoue geniet. Maar dit is eers op dag drie toe die see mooi plat geraak het wat ons besef het dat hierdie is mos steenbras water … Ons het met laagwater na die geskikte sandbanke gaan soek om krappe te kry. Na ’n paar opwindende duikslae en seer vingers het ons daarin geslaag om ’n klein emmer vol sandkrappe te maak. Hierdie krappe voel soms moeiliker om te vang as die visse maar dit is deel van die pret!

’n Sandkrap.
Die galjoene het mooi gebyt.
KleinNico met ’n jong kabeljou.
Emmer vol krappe.

Ons plan om steenies te teiken was gou beloon met die eerste grote van 12kg dieselfde middag by Myl 72! Ons het die res van ons tyd bly krappe gooi en die beloning was nog 12 groot steenies oor die volgende twee dae! Die grootste een hiervan was KleinNico se knewel van 16,8kg!

Die eerste steenbras weeg 12kg by Myl 72.
Visserman-vreugde!
Nog ’n mooie!


Die steenbras weeg 11,5kg.
Hentiesbaai-genot!
Nog ’n grote word vrygelaat.

Elke keer as ’n krappie gepos word was daar geduldig gewag, vol hoop dat daar nog ’n grote die stok kan plat trek … dit was dán wanneer die stoomtreine wegtrek wat die groot sports begin! KleinNico het mooi gewerk met die stok daar bo teen die duin terwyl ek halflyf in die water met hy hart in my keel die vet visse vir hom help land het. Elke vis was meer stresvol om te land as die vorige een. Daardie groot steenbras hou baie van die see, en nie een van hulle was bereid om die droëgrond te besoek sonder ’n groot geveg in die branders waar hy so tuis voel nie. Ons het net ’n paar visse gehou vir die kombuis en die res was weer vrygelaat, dit het die geveg nog moeiliker gemaak om hulle te land sonder om hulle seer te maak … 

’n Grote van 16,8kg!
Die grote!

Na groot vreugde en ’n paar mooi foto’s is die visse dan weer terug waar hulle graag wil wees en ons “high five” en ruk mekaar rond op die strand soos die Springbokke na ’n drie gedruk is in die wêreldbeker-eindstryd! 



’n ‘Canopy’-steenbras.

Ons moes gereeld rond skuif en die visse soek soos die water met die getye verander op elke gat. Die meeste visse is gevang in die area noord van Kaap Kruis tot by die ou bekende “Canopy”. 

Tussen die steenbras het ons ook ’n paar mooi sloephaaie en hier en daar ’n kabeljou gevang. 

’n Mooi sloephaai.
KleinNico met nog ’n sloephaai.

Ons het ure lank gesels langs die water en ek moes stories vertel van oupa Nico, en oupa Johan en oupagrootjie Henry se dae … ek moes vrae beantwoord van hoe dit was toe ék nog klein was tot my keel al droog geraak het!

Oupagrootjie Henry Tromp se steenbras by Hentiesbaai in 1957.

Met moeë lywe het ons vlug terug na SA vinnig verby gegaan, maar die res van die skooljaar gaan lank voel voor ons hopelik weer in Desember-vakansie die knewels kan gaan soek!



The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!



5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
2 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

[…] Nico Tromp, (10 jaar), van Potchefstroom met die grootste vis van ’n mannetrip, ’n steenbras van 16,8kg by Myl 72 in Namibië gevang, toe hy en sy pa, Nico in Maart vir ‘n vyfdag-wegbreek was. Lees daaroor in hierdie uitgawe. […]

[…] HENTIESBAAI: Mannetrip vir pa en seun […]

Back to top button
2
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x