
HIER GAAN ONS ALWEER – Reeks 21: Witsand
In reeks 21 van hierdie uiters gewilde televisiereeks beloof Petri ’n verskeidenheid van hengel. Daar word moeite gedoen om by verskillende waters uit te kom en die kykers te bederf met verskillende spesies, tegnieke en baie kykgenot. Die span het gaan draai by Roodekoppies en Mongena Privaatnatuurreservaat om groot swartbaars te vang, en vir die laaste paar episodes is hulle terug Kaap toe om mooi eetvis en haaie te vang.
Stywe Lyne se redaksiespan was saam om te sien hoe die dinge agter die skerms gebeur, en ten tyde van druk het die hengel in die Kaap net begin. Hier is dus so ’n klein voorskou van wat verwag kan word elke Saterdagaand om 18:00 op KykNet Kanaal 144.
Die meer-en-see-toer is ’n unieke konsep waar twee spanne, eintlik hengelvriende, op die strand en in die strandmere onderskeidelik gaan hengel en aan ’n vriendelike kompetisie onder mekaar deelneem. Op hierdie wyse word die kyker getrakteer op verskeidenheid, die beste planne van elke groep en mooi vis. Daar word ook gebraai, gekuier en stories gedeel om die kampvuur.