HOOGLAND AVONTUUR: Kraairivier se Geelvisse
WOORDE: Neville Barnard FOTO’S: Verskaf
Ek is vroeg die jaar uitgenooi na ‘n baie spesiale hengelplek, naamlik in die Kraairivier. Die rivier ontstaan in die Lesotho hooglande en loop met ‘n lang kronkelende pad af deur die noordelike dele van die Oos-Kaap, verby verskeie klein dorpe soos Lady Grey, tot net bo Aliwal-Noord waar dit in die Oranjerivier inloop.
Vanwaar sy oorsprong was die water baie skoon toe ek daar was, alhoewel baie laag weens die afwesigheid van genoeg reën wat natuurlik die hengel so bietjie moeiliker gemaak het. Die vlieghengel was veral baie moeilik met die helder skoon- en vlakwater, maar die res was uitstekend.
Een van my hengelvriende, Jan Jacobs, het so ‘n paar maande terug na die plaas Halcyo hoog op in die Kraairiviervallei getrek. Hy het vir my foto’s begin stuur van die mooi natuurskoon en natuurlik ook van die groot getalle geelvis wat hy daar vang. Veral die foto’s van die mooi grootbek-geles het my aandag getrek. Amper elke keer as hy ‘n lyn gaan natmaak, het hy ‘n mooi grootbek gekry. Later kon ek nie meer my lus hou nie en moes ek plan maak om te gaan kuier en hengel.
Die plaas is al ‘n hele paar geslagte in die familie van Oom Jan en Tannie Henriette Greyling. Hulle is nog regte plaasmense en omtrent alles wat jy eet kom van die plaas af. Daar is geen Eskom krag nie, net solar en ‘n donkie as jy warm water soek.
Dit was ‘n lang pad af tot by die plaas, en as jy hoog teen die berg ry sien mens van die mooiste olienhoutbome en die rivier honderde meters daar onder. Die eerste middag het ons sommer in die rivier net onder die huis gegaan en gou was ek aan met my eerste Kraairivier se kleinbek-geelvis!
Die volgende oggend het ons ‘n paar kilometer met die rivier opgery tot by een van Jan se gunsteling plekke, Jan se Gat. Dit is ‘n diep gat net voor ‘n draai. Ek het twee stokke uitgesit, een met ‘n stukkie krap en een met ‘n visfilet. Al twee byt dadelik en ek en my neef, Eddie Kotze maak vas met twee geelvisse. Myne was ‘n klein kleinbek en syne was ons eerste grootbek. Die res van die oggend gooi ons aas en Salmo-kunsaas en vang nog ‘n klompie geelvisse.
Die rivier is nog só gesond en lewendig – onder elke liewe klip is een of ander water diertjie, naaldekoker nimfs, groot wit wurms en baie soorte stonefly nimfs. Meeste se name ken ek nie eers nie. Al wat ek weet is dat die rivier se visse sukkel nie om kos te kry nie! Daar is hordes klein visse in die rivier, wat my laat dink het die Kraairivier moet soos ‘n broei area wees waar jong vis groot genoeg kan word voor hulle die groot Oranjerivier aanvat. Oral uit die berge loop silwerskoon stroompies wat vol krappe en platannas is. Ek het nog nooit so baie lewe in enige rivier gesien nie!
Die natuur is uiters ongerep, so toegang tot die rivier is ook maar moeilik op meeste plekke. Ek het my ARK opblaasboot saamgevat met ‘n klein Waterman elektriese motor op. Ons het op ‘n dag besluit om van so hoog bo as wat ons kon inkom en dan om af te dryf tot verby die huis waar die diepste water is. Dit was nou ‘n lekker dag van pret op die rivier – van witwater stroomversnellings wat die pols vinniger laat klop tot stil, diep waterpoele tussen die klowe. En oral was geelvis! Ons het besluit om meer kere met kunsaas te probeer aangesien ons so die meeste water sou kon deurwerk. Die klein Salmo kunsvissies het oortyd gewerk en ons het ‘n klomp mooi kleinbekke gekry en ook so paar klein grootbekke tussenin.
Ek het my boot met ‘n geruste hart langs die rivier vir die nag gelos en kon huis toe stap vir ‘n lekker potjie. Die volgende dag het ons die deel verder ondertoe gedryf tot waar ons nie regtig verder kon gaan nie. Ons kry toe nog ‘n paar diep gate waar ons bietjie aas gegooi het en langs die kant geloop het met kunsaas. Ek kry toe waarvoor ek gesoek het in die vorm van ‘n mooi Kraairivier grootbek-geelvis, gevang op ‘n klein Salmo-kunsaas.
Sover het ek nog net die asemrowende mooi omgewing van onder die vallei gesien, maar ek wou ook graag sien hoe lyk die vallei van bo die berg. Volgens Oom Jan was dit nie ‘n probleem nie: “Daar is ‘n pad teen die berg op” word ek vertel. Wel, al wat ek kan sê is dat die “pad” meer soos ‘n bokpaadjie teen die berg op is! Op party plekke het die pad weggespoel waar daar groot klippe lê. Hier en daar was die pad so nou dat jy kon sien hoe rol die klippe af teen die berg soos die wiele op die rand verby ry. Dit was behoorlike 4X4 toestande met ‘n hele paar boud-knyp oomblikke, maar ek het volle vertroue in my Mitshubishi Triton se 4X4 funksies gehad. Met 4LLc en ‘down hill assist’ aan, is ons veilig op en veilig af. Maar ek moet sê ek was baie bly toe ek weer veilig op grondvlak kon ry! Ek het wel gekry waarvoor ek gesoek het met foto’s van die asemrowende uitsig oor die hele vallei. Al probleem is dat die foto’s nooit regtig dieselfde gevoel as die regte beeld voor jou wys nie.
Met ons voorlaaste dag in die pragtige vallei wou ek ten minste nog een keer gaan probeer vir ‘n vissie of twee. Met die eerste gooi maak ek vas met ‘n sterk vis maar kom gou agter dit is net ‘n baber terwyl ek gehoop het dis weer een van die groot geelvisse. Ek het wel nog so paar kleinbekke gekry om my Kraairivier-avontuur mee af te sluit. Dit is voorwaar ‘n baie spesiale plek wat ek beslis weer sal besoek; miskien net na ‘n goeie reën dat die rivier voller loop en effe meer kleur in die water sit.
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!