J. Roodeplaat jou yster………
deur Riaan ‘Jan Alleman’ Riekert
Nooit gedink ek sou dit sê nie: Roodeplaat jou yster! Riaan Alleman het soos ouder gewoonte bietjie deur sy Faceboek gegaan en oor en oor het die een prentjie verskyn, Cast and Catch by Roodeplaatdam. Wat eintlik my oog gevang het was die fotos van die vis wat hulle gelaai het – dit kan nie wees nie, ek sal vir myself moet gaan kyk.
Ek het die nommer geskakel op die Faceboek blad en ‘n dame met die naam van Tina het geantwoord. Ek het haar meer vertel oor myself en wat ek doen en sonder om te skroom is my staanplek vir die volgende dag se hengel geboek.
Kaboeme is gekook, bakkie is gepak en Roodeplaat hier kom ek. Cast en Catch is presies 40min se ry van Kempton Park af en die tariewe is baie billik. Ek is deur Tina ontvang, sy pas Riaan Alleman net so bo sy heup maar ek kan sien sy het haar duim op alles; manne hou by die reëls dis al wat ek sê!
Met alles reg, bakkie afgepak is ek reg vir aksie. Net links van my is ‘n plesierboot geanker en- oe weë – min het ek geweet watter petalje later daai dag sou afspeel, maar dit moet vir eers wag. Met my stokke gelaai en balle op trek my bure vir die dag in, die deur gaan oop en ‘n diep stem bulder agter my “Vandag is dit ons teen Stywe Lyne!” Ek ruk amper my nek af soos ek skrik, en hier voor my oë staan die vriendelike gesig met sy besem snor, Oom Gys Loots. Die ander Omie staan ook vinnig nader en stel homself voor as Henry Van Deventer. Die omies het ook hulle vrouens saamgebring water toe en soos twee ware here vir die dames ‘n lekker vuurtjie gemaak om die ergste koue te breek, klets-klets het hulle langs die vuurtjie gaan sit, die brei werk uitgehaal en hulle was reg vir die dag.
Met Riaan Alleman se bootjie gelaai en gereed vir aksie begin die dag se hengel in alle erns. Ek het die een stok gelaai soos oudergewoonte met Riaan Alleman se kaboeme en die ander een met my ander gunstelling kombinasie, Just fish se skoon pit geknip en uitgehol met vampire floatie op die boonste hoek en Just fish se pynappel pit op die onderste hoek. As lokaas het ek Boulyn voerbal gebruik met Just Fish se Gee Pee en Babana Ice as lokmiddel. Dit was nie 5 minute nie en daar skree die eerste katrol vis is aan en daar is ‘n glimlag op Riaan Alleman se gesig, eerste vis in 20 jaar geland by Roodeplaat maar ek moet bieg dit is my eerste keer terug na 20 jaar…..
Die lyne het albei gelê op 70m en glo my as ek sê daar was geen stil sit van hier af nie. Ek het die vis op reëlmaat ingebring op albei my kombinasies, dit was ‘n absolute hengelfees gewees. En om die kersie op die koek te sit was dit kwaliteit karpe gewees. Ek het ook in die proses baie vis verloor en moes een groot verandering aanbring, een hoek verwyder. Vat nou vandag my raad as jy Roodeplaat hengel vir al daai gedeelte van die dam moet jy nie meer as een hoek hengel nie, daar is ongelooflik baie klippe in die dam en jy gaan moedeloos raak as jy bly afbreek. Na my aangepaste Rietvleistrop het ek nie weer een vis verloor nie!
Die hengel eers bietjie op sy geskuif het ek vir ‘n wyle by my bure gaan inloer en natuurlik ‘n yskoue verversing saam met hulle geniet. Hulle het baie stories gehad en ek het lekker gelag vir die twee omies se verhale. Vinnig het ek uitgevind dat hulle met twee sussies getroud is en dat die vier van hulle onafskeidbaar is. Hulle is albei afgetree en hulle lewe is hengel, ek moes net hoor van al die groottes en dan natuurlik daai baie groottes wat hulle verloor het deur die jare. Ek het so lekker gekuier, en dit, mense, is Riaan Alleman – ons hengel, kuier, lag en deel lekker stories langs die dam, wie wil dit nou verruil vir tempohengel…
So tussen die lekker lag en gesels deur spring my katrol weg en ek moes hardloop om te keer dat die vis nie al my lyn steel nie. Met die vasslaan slag het ek geweet hier is ‘n mooi vis aan. Onthou ek het vroeër genoem van die oulike plesier boot aan my linkerkant, mense! Ek wens iemand het my op video gehad want wat hierna volg was iets uit ‘n Hollywood film!
Die vis het bly links beweeg en my lyn was om die plesierboot; die grootste probleem was jy kon nie op die boot klim nie hy was toegemaak en gesluit met ‘n staal hok. Riaan Alleman het soos ‘n wafferse Spiderman, 13 voet DC Lite stok in die een hand en vingers deur die staal hok van die ander hand om die boot geklouter. Minwetend was daar aan die anderkant nog ‘n verrassing, my karp was reeds 2 keer om ‘n anker tou gedraai. Met bietjie vernuf, baie geluk en hang aan ‘n staal hok het ek die 13 voet stok met een hand twee keer teruggedraai en 5 minute later is my karp van 8.2kg geland. Oom Henry het amper sy broek nat gemaak soos hy vir my gelag het.
Dit was werklik ‘n goeie dag gewees en Roodeplaat het my verras. Ek het in total 22 karpe gevang. Die swaartse een 8.50kg en die ligste een 2kg. Ek het 6 karpe gevang wat die skaal oor die 5kg kerf gevat het, dit is indrukwekkend!! Wat die dag egter baie spesiaal maak is die nuwe vriende wat ek gemaak het en dit is wat op die einde van die dag tel. Vriendskap en hengel het oorwin en Riaan Alleman gaan met ‘n warm hart huis toe.
Al wat ek kan sê oor die Cast And Catch-oord is dat dit netjies is, naby is, bedryf deur wonderlike staf en is briljante hengelwater – tot weersiens!