
Jonge Dames by die Junior SA’s
@Die Sloep, Bloemhofdam
WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Verskaf
Bloemhofdam Sloep was vir ‘n week lank propvol junior hengelaars, ‘n totaal van 51 spanne met 328 hengelaars, uit sewe afdelings. Die kampioenskappe het plaasgevind oor ‘n tydperk van drie dae, waarna daar ‘n rusdag was, gevolg deur nog twee dae van nasionale proewe, waaruit al die nasionale spanne gekies sou word.
In totaal is daar 32695 vis gevang vir ‘n totaal van bykans 12 ton. Om al hierdie vis geweeg te kry, asook die telkaarte te administreer, is ‘n span van nie minder as 17 gekwalifiseerde beamptes gebruik. Dit is indrukwekkend op sig self, en ‘n gemiddelde vangs van 100 vis vir 36kg is per persoon ingeweeg, oftewel 33 vis en 12kg per hengelaar per dag.
Die grootste vis vir die toernooi, ‘n baber van 11,7kg (gevang deur PZ de Beer – 0/13 B- afdeling) en ‘n graskarp van 9,7kg (gevang deur HJS Alberts – Premier-afdeling) plaas die beduidendheid van die toernooi op ‘n heel ander vlak. Die swaarste sak (111,61kg) oor die drie dae is aangeteken deur J van der Merwe in die Premier A-afdeling, terwyl MJ Mostert die meeste vis (401) ingeweeg het. Hy het ook in die Premier A-afdeling meegeding en die waarde van die deelname aan die Pro Mania die vorige naweek is ook duidelik merkbaar.
‘n Ander baie interessante statistiek, is dat vyf uit die sewe van die grootste spesies, in die 0/13-afdeling ingeweeg is, waarvan vier uit die B en C spanne. Die afleiding hieruit is dat die grootste visse beslis op die nader afstande gevang is.
Jonge Dames-afdeling
Hierdie is ‘n afdeling wat die afgelope paar jaar geweldig gegroei het en baie sterk geword het. Dit is ook die ontwikkelingsveld vir senior dames. Daar is nie minder nie as 12 spanne wat deelneem en die 48 jong dames weeg ‘n totaal van 4234 vis, teen bykans 1,5 ton se gewig.
Die individuele kompetisie was net so streng as die spannekompetisie en niemand het enigsins teruggehou nie. In die spannekompetisie stap Vrystaat weg met die goud, met Gauteng in die tweede plek en Noord-Oos Mpumalanga kort op hul hakke.
Die individuele geveg was verwoed en beide die eerste en tweede plek hengelaars eindig met ‘n voltelling van 36 punte. Hierna word gekyk na hoeveelheid vis en weereens is dit naelskraap. R Visagie van Gauteng weeg slegs een vis meer (186 vs 185) in as E Ebersohn (Vrystaat) om die goud voor haar weg te raap. Ebersohn weeg egter die swaarste sak van 65,49kg terwyl A Pohl van Noord-Oos Mpumalanga die meeste vis vang (227) en ook die individuele brons verower.
Dit is duidelik dat die grootste gevegte in hierdie afdeling tussen hierdie drie provinsies was, hetsy ons van spanne of individuele hengelaars praat.








































































Lees ook /Also read …







































