
Junior SA’s: Junior President A
@Die Sloep, Bloemhofdam
WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Verskaf
Bloemhofdam Sloep was vir ‘n week lank propvol junior hengelaars, ‘n totaal van 51 spanne met 328 hengelaars, uit sewe afdelings. Die kampioenskappe het plaasgevind oor ‘n tydperk van drie dae, waarna daar ‘n rusdag was, gevolg deur nog twee dae van nasionale proewe, waaruit al die nasionale spanne gekies sou word.
In totaal is daar 32695 vis gevang vir ‘n totaal van bykans 12 ton. Om al hierdie vis geweeg te kry, asook die telkaarte te administreer, is ‘n span van nie minder as 17 gekwalifiseerde beamptes gebruik. Dit is indrukwekkend op sig self, en ‘n gemiddelde vangs van 100 vis vir 36kg is per persoon ingeweeg, oftewel 33 vis en 12kg per hengelaar per dag.
Die grootste vis vir die toernooi, ‘n baber van 11,7kg (gevang deur PZ de Beer – 0/13 B- afdeling) en ‘n graskarp van 9,7kg (gevang deur HJS Alberts – Premier-afdeling) plaas die beduidendheid van die toernooi op ‘n heel ander vlak. Die swaarste sak (111,61kg) oor die drie dae is aangeteken deur J van der Merwe in die Premier A-afdeling, terwyl MJ Mostert die meeste vis (401) ingeweeg het. Hy het ook in die Premier A-afdeling meegeding en die waarde van die deelname aan die Pro Mania die vorige naweek is ook duidelik merkbaar.
‘n Ander baie interessante statistiek, is dat vyf uit die sewe van die grootste spesies, in die 0/13-afdeling ingeweeg is, waarvan vier uit die B en C spanne. Die afleiding hieruit is dat die grootste visse beslis op die nader afstande gevang is.
President A-afdeling
In die President A-afdeling het vyf provinsies meegeding en hierdie 40 hengelaars het ‘n totaal van 2750 vis vir 1556,93kg ingeweeg. Dit is ‘n gemiddeld van bykans 23 vis vir 13kg per persoon per dag.
Owen Bezuidenhout van Sentraal Gauteng het sy staal gewys en weggestap met die Victor Ludorum, Swaarste Sak, en Meeste Vis medaljes. Sy provinsie vat ook die span goud. Die waarde van ‘n toernooi soos Pro Mania wat net ‘n week voor die SA’s plaasgevind het, waar Owen ook as die top junior weggestap het, is weer baie duidelik sigbaar. Die grootste baber van 8,19kg is deur AD Pretorius, ook van Sentraal Gauteng (wat ook die wenspan was) gevang. Die grootste karp van 3,70kg is ingeweeg deur ZJ Boucher van die Oostelike Provinsie.






















































