
Junior SA’s: Junior Premier B
@Die Sloep, Bloemhofdam
WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Verskaf
Bloemhofdam Sloep was vir ‘n week lank propvol junior hengelaars, ‘n totaal van 51 spanne met 328 hengelaars, uit sewe afdelings. Die kampioenskappe het plaasgevind oor ‘n tydperk van drie dae, waarna daar ‘n rusdag was, gevolg deur nog twee dae van nasionale proewe, waaruit al die nasionale spanne gekies sou word.
In totaal is daar 32695 vis gevang vir ‘n totaal van bykans 12 ton. Om al hierdie vis geweeg te kry, asook die telkaarte te administreer, is ‘n span van nie minder as 17 gekwalifiseerde beamptes gebruik. Dit is indrukwekkend op sig self, en ‘n gemiddelde vangs van 100 vis vir 36kg is per persoon ingeweeg, oftewel 33 vis en 12kg per hengelaar per dag.
Die grootste vis vir die toernooi, ‘n baber van 11,7kg (gevang deur PZ de Beer – 0/13 B- afdeling) en ‘n graskarp van 9,7kg (gevang deur HJS Alberts – Premier-afdeling) plaas die beduidendheid van die toernooi op ‘n heel ander vlak. Die swaarste sak (111,61kg) oor die drie dae is aangeteken deur J van der Merwe in die Premier A-afdeling, terwyl MJ Mostert die meeste vis (401) ingeweeg het. Hy het ook in die Premier A-afdeling meegeding en die waarde van die deelname aan die Pro Mania die vorige naweek is ook duidelik merkbaar.
‘n Ander baie interessante statistiek, is dat vyf uit die sewe van die grootste spesies, in die 0/13-afdeling ingeweeg is, waarvan vier uit die B en C spanne. Die afleiding hieruit is dat die grootste visse beslis op die nader afstande gevang is.
Premier B-afdeling
Alhoewel hierdie al die provinsies wat in die A-afdeling ook hengel se B spanne is, staan hulle geensins terug nie. Hierdie 56 hengelaars ruk toe ook ‘n haas uit die hoed en weeg meer as 7000 vis vir 2,3 ton in. DJ Scheepers van Noord-Oos Mpumalanga stap toe ook weg met al die individuele pryse. Sy pragsak van 389 vis vir 100,86kg besorg aan hom die Victor Ludorum, Meeste Vis en Swaarste Sak medaljes – drie goues! Sy provinsie het hard baklei, maar kon nie die mas opkom teen die sterker Vrystaat en Sentraal Noordwes spanne wat afsonderlik eerste en tweede was nie.







