
Junior SA’s: O/13 Junior A
@Die Sloep, Bloemhofdam
WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Verskaf
Bloemhofdam Sloep was vir ‘n week lank propvol junior hengelaars, ‘n totaal van 51 spanne met 328 hengelaars, uit sewe afdelings. Die kampioenskappe het plaasgevind oor ‘n tydperk van drie dae, waarna daar ‘n rusdag was, gevolg deur nog twee dae van nasionale proewe, waaruit al die nasionale spanne gekies sou word.
In totaal is daar 32695 vis gevang vir ‘n totaal van bykans 12 ton. Om al hierdie vis geweeg te kry, asook die telkaarte te administreer, is ‘n span van nie minder as 17 gekwalifiseerde beamptes gebruik. Dit is indrukwekkend op sig self, en ‘n gemiddelde vangs van 100 vis vir 36kg is per persoon ingeweeg, oftewel 33 vis en 12kg per hengelaar per dag.
Die grootste vis vir die toernooi, ‘n baber van 11,7kg (gevang deur PZ de Beer – 0/13 B- afdeling) en ‘n graskarp van 9,7kg (gevang deur HJS Alberts – Premier-afdeling) plaas die beduidendheid van die toernooi op ‘n heel ander vlak. Die swaarste sak (111,61kg) oor die drie dae is aangeteken deur J van der Merwe in die Premier A-afdeling, terwyl MJ Mostert die meeste vis (401) ingeweeg het. Hy het ook in die Premier A-afdeling meegeding en die waarde van die deelname aan die Pro Mania die vorige naweek is ook duidelik merkbaar.
‘n Ander baie interessante statistiek, is dat vyf uit die sewe van die grootste spesies, in die 0/13-afdeling ingeweeg is, waarvan vier uit die B en C spanne. Die afleiding hieruit is dat die grootste visse beslis op die nader afstande gevang is.
Onder 13A-afdeling
Die penkoppe, oftewel die jong hengelaartjies wat nog op laerskool is, is natuurlik ons trots en ons toekoms. In hierdie afdeling hengel hulle ook so effens korter – ses ure in plaas van agt en het hulle ook so bietjie meer hulp. Nietemin, as ons na die resultate kyk, staan hulle glad nie terug nie en word daar goeie vangste geweeg. Ten spyte van die korter tydperk, het hulle steeds meer as 60 vis gemiddeld en meer as 20 vis gemiddeld gevang.
In die A-afdeling stap Vrystaat weg met die louere, met Limpopo in die tweede plek en Gauteng derde, in ‘n veld waar daar 10 spanne meeding. Gesamentlik vang die 10 spanne ‘n totaal van 3808 vis vir 1273kg. Die grootste geelvis van die hele toernooi word gevang deur een van die penkoppe uit hierdie afdeling – C van der Merwe van Gauteng Noord.
In die individuele kompetisie stap Vrystaat se Lohan van Wyk weg met die louere, met Chris-Lou Duvenhage van Limpopo in die tweede plek – albei Pro Mania hengelaars wat die toetslopie van die vorige naweek baie goed toegepas het. Chris-Lou vat ook die goud vir die swaarste sak van 54kg, te danke aan ‘n mooi baber van 10,4kg wat ook die spesieprys gevat het.
Die goud vir die meeste vis, asook die derde plek op die podium, behoort aan SV Jersich van Gauteng vir ‘n mooi prestasie van 152 vis vir 45,74kg.


























































Lees ook /Also read …




































