
KANO-VLIEGHENGEL IN NOORD-KAAP: Naby Die Samevloei Van Twee Riviere
Hengel in die Noord-Kaap
WOORDE: Andre de Kock FOTO’S: Verskaf
Ek het in Delportshoop groot geword, daar in die hoek van die samevloei van die Harts- en Vaalriviere, so dertig kilometer anderkant Barkly-wes in die Noord-Kaap. Daar skoolgegaan, en toe baie jare later teruggekeer en skoolhoof van my alma mater geword. Nadat ek Kimberley toe getrek het om ‘n skoolhoofpos daar te aanvaar, was dit bietjie moeiliker om my stokperdjie te beoefen, naamlik vlieg- en kunsaashengel.


My gunsteling teikenvis was, en is steeds die grootbek-geelvis wat in hierdie riviere inheems is, met baber ook op die teikenlys. My seun, Conrad beoefen vir baie lank al slegs vlieghengel en teiken kleinbek-geelvisse in die talle strome by Delportshoop self. In die laaste jare kom die grootbekke slegs stroom-af voor.





Die area genoem is stroom-af van waar die Harts in die Vaal in vloei, met talle diep kuile en stroomversnellings wat met vlieg- en kunsaashengel geteiken kan word.
Ek het twee kano’s laat ombou sodat hulle met elektriese motors toegerus kan word. Dit maak dit makliker om vinnig vroegoggend by die gewildste strome uit te kom. Meer water kan dan gedek word. Met die bewaring van die geelvis in gedagte word vang en vrylaat streng toegepas.


Ongelukkig het sosio-sosiale omstandighede op die oewers taamlik versleg as gevolg van diefstal en betreding vanaf ‘n naburige informele woonbuurt wat ontstaan het. Wat ook ‘n negatiewe invloed op vangste uitoefen is die stel van onwettige nette. Die slegte paaie en ruig bosse in die omgewing maak polisiëring van die gebied baie moeilik, eintlik ‘n baie hartseer situasie.


Met die nodige beplanning en voorsorgmaatreëls egter, bly elke hengeldag of nag op hierdie waters heeltemal die moeite werd!