
KUNSAASHENGEL-AVONTURE: Hengel so kuier-kuier in die Assegaairivier
Ek en my vrou, Ida is die langnaweek van 6-9 Augustus genooi om op vriende van ons se plaas naby Piet Retief te gaan kuier. My seun, Rudolph ken die area en vra toe om saam te gaan. Die Assegaairivier loop naby die plaas verby, so nodeloos om te sê het ek en Rudolph tussen die kuier op die plaas ook tyd gemaak om by die rivier te gaan hengel.
Die Assegaairivier is die grootste rivier in die Piet Retief-omgewing en voed die bekende Heyshopedam. Dit is kleiner as ander groot riviere en is redelik ontoeganklik met oewers wat meestal met riete begroei is. Die water is helderskoon met heelwat stroomversnellings en mooi poele om in te hengel. Die water is gewoonlik redelik skoon en jy moet jou lyf maar skraal hou sodat die geelvis jou nie sien en wegswem nie.