KUNSAASHENGEL AVONTURE: Opsoek na GOUD in die Noorde
WOORDE & FOTO’S: Daantjie Botha
Ek en veteraan kunsaashengelaar Bernard Venter het Saterdag 20 Januarie ’n rare geleentheid gehad om een van ons minder bekende geelvis spesies, die Laeveld Grootskub-geelvis te teiken in die Pienaarsrivier op ’n stuk privaatgrond ongeveer 50km noord-oos van Brits naby die Noord-Wes / Limpopo provinsiale grens.
Van die ses geelvisspesies en drie sub-spesies wat in Suid-Afrika voorkom, is die grootskub-geelvis een van die minder bekende spesies en kry by hengelaars nie naastenby soveel blootstelling soos die kleinbek- en grootbek-geelvis nie. Die verspreiding is hoofsaaklik in die noorde van Suid-Afrika in meeste van die oos-vloeiende riviere.
Meeste van hierdie riviere in die noorde van die land word intensief vir landbou besproeiing en mynbou aktiwiteite gebruik. Die menslike impak hiervan veroorsaak groot versteurings in watervloei tempo (grootskub-geelvisse broei in vinnig vloeiende water met hoë suurstof vlakke). Talle van ons noordelike riviere vloei ook deur areas met digte populasies waar besoedeling ’n reuse impak op water kwaliteit het.
Alhoewel mannetjies al kan voortplant sodra hul ’n lengte van 7cm bereik, bereik wyfies eers volwassenheid op ongeveer 28cm. Bestaande visserye het ’n groot impak en baie visse word verwyder voor hul voortplanting groottes bereik. Die Suid-Afrikaanse rekord staan op 5,75kg en is al in die sewentiger jare gevang. Grootskub-geelvisse van hierdie grootte kom byna glad nie meer voor nie. Deesdae kan ’n vis van 3kg as ‘n trofee beskou word, en 1,5kg – 2kg as baie mooi vangste.
Bogenoemde in ag geneem, het ek natuurlik gespring toe die geleentheid homself voordoen om hierdie minder bekende geelvisspesie te gaan teiken op kunsaas! Net na sesuur die oggend het ek en Bernard by die rivier aangekom, ywerig om ons lyne in die water te kry. Ons hengel gerei het bestaan uit medium gewig spinstokke met 2000-3000 reeks vastespoel (koffiemeul) katrolle en toegerus met relatief dun vleglyn (braid) van ongeveer 15 pond. Ons het hoofsaaklik 2,5cm en 3,5cm Salmo Hornet kunsvissies (die sinkende weergawes) gegooi om die geelvisse te teiken. Dun vleglyn is noodsaaklik om die klein kunsasies so ver as moontlik te kan gooi, en vleglyn kan die skaaf van klippe en stompe beter weerstaan as slegs mono- of fluorolyn. ’n Fluoro voorslag (leader) van ongeveer 1,5m is wel noodsaaklik om die lyn wat jou kunsaas verbind te verdoesel in die water.
Ons het eers by ’n belowende keerwal gehengel, maar het geen aandag getrek vanaf ons teiken spesie nie. Ons het wel ’n paar reuse babers sien draai in die stroom, en natuurlik kon ek nie die versoeking weerstaan om ’n swaarder stok uit die bakkie te haal en met ’n Sada Pumkinseed te plons in hul area nie. Ek het wel geweet as ’n 15-20kg stoomtrein my Pumkinseed vat, ek die kunsaas sal moet afskryf aangesien ek nie die nodige gerei gehad het om ’n baber van daai grootte in so ’n vinnig vloeiende rivier te stop nie …! Ek het so bietjie met die noodlot flankeer, en ’n kleiner baber, (gelukkig) van ongeveer 3kg het my pumpkinseed opgeraap en ek kon hom gemaklik aan wal bring.
Ons het verder stroom af beweeg na ’n area met verskeie stroom versnellings, en aansienlik vlakker water van ongeveer 1m tot 1.5m. Na ongeveer 45 minute se hengel het ek vasgemaak met ’n klein grootskub-geelvis, en die verligting was groot om te weet die geelvis rekening was oop!
Die metode is om jou kunsaas stroom-op te gooi, en saam met die stroom, kontak met die kunsaas te behou. Jy katrol in, maar net genoeg om steeds die weerstand van die kunsvissie te voel. Sodra die kunsaas verby jou gaan, hou jy vir ’n wyle op katrol, en laat die natuurlike weerstand van die water aksie aan die vissie gee. Jy kan duidelik die vibrasie van die kunsaas voel. Sodra die vibrasie afneem en jou lyn slapper begin raak, kan jy teen ’n redelike vinnige tempo jou kunsaas inkatrol. Hierdie proses word dan herhaal. Die 2,5cm Hornets het slegs een hoek agter maar die 3,5cm model het twee drie-angel hoeke. Om te voorkom dat jy te gereeld vashaak, is dit belangrik om die middelste hoek van die 3,5cm Hornet af te haal. Dit maak dat slegs die lip van die kunsaas en die “maag” meestal die bodem tref, en die agterkant waar die hoek sit, haak baie minder vas. Twee ander voordele is dat die middelste hoek, dikwels geelvisse in die wang of oog haak wat hulle ernstig kan beseer en meer hoeke beteken jou kans om in ’n skepnet verstrengel te raak is net veel hoër. Ek kan nie genoeg beaam hoe belangrik die verwyder van die middelste hoek is nie – jy gaan jouself ’n lot geld en frustrasie spaar deur dit te doen.
Ons kon slegs een geelvis aankeer in die vlakker water en het besluit om aan te beweeg na ’n area met aansienlik dieper water en heelwat hewige stroomversnellings tussen deur. In hierdie area was daar ook heelwat skuim op die water. Die Pienaarsrivier gaan ongelukkig gebuk onder swaar besoedeling, veral naby aan Gauteng, en skuim op die water is ongelukkig ’n kenmerk daarvan. Nietemin is ons deur knie-diepte water vir ’n paar meter, waar ons onsself kon vestig op ’n lekker eiland in die stroom waar ons ’n wye area kon teiken. ’n Paar mooi blou kurpers het ons aandag getrek in die stiller poele, en ek het vinnig vasgemaak met ’n paar mooies wat lekker baklei het, sommer ook op die Salmo Hornets wat reeds aangeknoop was op my geelvisstok. Tot my verbasing was daar heelparty parmantige babers wat ook elke nou en dan verskyn het en my Hornet hard geslaan het. Darem was die grootte van die babers van so ’n aard dat my ligte geelvis gerei hulle kon beheer. Dit verbaas my altyd – die hoeveelheid vis spesies wat hierdie klein kunsvissies kan vang – selfs skole ghieliemientjies het dikwels om my Hornet gedraai en opportunisties probeer aanval!
Op die eiland het ons, ons aandag vierkantig gevestig op die geelvis en ons Hornets gegooi. Na ongeveer 20 minute se gooi het ek ’n harde stamp gevoel en lyn het van my koffiemeul af gevlieg! Die geelvis het behoorlik sy man gestaan in die stroom en ek moes my keer ken om hom onder beheer te kry. Uiteindelik kon ons hom land en dit was toe ’n pragtige vis van 1,74kg – ’n persoonlike beste vir my. In die volgende uur het ek nog drie mooi visse geland, almal oor die 1kg merk. Na ’n kort breuk om koeldrank en ’n paar toebroodjies te geniet was ons terug op die eiland en Bernard het toe vinnig onder hulle ingeklim. Hy het drie geland waarvan die grootste die skaal op 1,82kg getrek het. Ons het ’n betreklike stil tydperk gehad in die middel van die dag en weer geleidelik vis begin kry soos wat dit later begin word het.
Dit was opmerklik hoe die visse in ’n oogwink “aan en af” kan skakel en ’n kunsaas wat goed werk, ewe skielik glad nie meer byte oplewer nie. Mens moet ook water aktiwiteit dop hou. Die byt was aansienlik beter gedurende tye wat die geelvisse draai en spring in die stroom teenoor tye waar hulle nie sigbaar aktief was nie. Hulle het duidelik in groepe en skole gejag, veral op ghieliemientjies wat in die stoom beland. Dis krities vir ’n kunsaas hengelaar om konstant jou omstandighede dop te hou en aan te pas as jy enige veranderinge sien, of as jou kunsaas nie resultate oplewer nie. Die gebruik van ’n ‘quick release clip’ soos Mustad se ‘Fastatch Clips’ in ’n nommer 0 is ’n moet. Jy kan in sekondes jou kunsaas verander as jy ’n groter of kleiner profiel wil gooi, of as jy ’n kleur verandering wil maak. Dit spaar hope tyd, en jy hoef nie oor en oor nuwe knope te maak nie.
Ons het die dag geëindig met ’n totaal van 10 geelvisse tussen die twee van ons, en ek kon nog tussen deur ’n jong karp met ’n Sada loodkop in een van die vlak poele flous, wat die hoeveelheid spesies vir die dag tot vier te staan gebring het.
Dit is ’n voorreg om vir hierdie spesiale visse te kon hengel, en ’n geleentheid wat nie elke dag verby kom nie. Indien jy weet van ’n stukkie rivier wat ’n gesonde populasie grootskub-geelvis bevat, is dit verseker die moeite werd om ’n paar te probeer aankeer op jou gunsteling kunsaas!
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!