KUNSAASHENGEL: Die Grootbek-geles van Vanderkloofdam!

Geelvis geteiken op die sleepmetode.

Elke begin van die nuwe jaar reël die Salmo Kunsaas Hengelklub ‘n kort sosiale hengeluitstappie na een of ander lekker hengelplek in Suid-Afrika.

Ons groepie Salmo klublede wat by Monte Crous tuisgegaan het.
Vlnr: Francois Joubert, Izaan Joubert, Rudi Janse van Vuuren, Rudolph Venter, Rudolph Janse van Vuuren, Ida Venter, Bernard Venter en Franco Marx.

Dit verbaas nie dat Vanderkloofdam een van die hengelbestemmings is wat ons as klublede ook laasjaar besoek het nie. Vanderkloof is ‘n pragtige rustige dorpie by die dam en talle gastehuise bied genoegsame oornag huisvesting.  

Ons het vanjaar weer by die Monte Crous hotel tuisgegaan. Die plek het die nodige akkommodasie en dit is lekker om sommer net na ‘n lang dag se hengel vir ete aan te sit. ‘n Addisionele bonus is dat vroulief glad nie omgee om saam te gaan as sy nie vir die kos hoef te sorg nie!

Sonsondergang by Monte Crous.

Die hengel was reeds goed in die maand voor ons by Vanderkloofdam aangekom het. Dit het ons entoesiasme natuurlik net verder aangevuur en ons het sommer die middag wat ons by Vanderkloof aangekom het ‘n vinnige draai op die dam gaan maak!

Vanderkloofdam was nog steeds vol met net meer as 80% watervlak en die waterhelderheid mooi helder wat altyd goed is as jy geelvis met kunsaas teiken.

Dit was veral die grootbek-geelvis wat ons aandag getrek het. Daar is nie enige ander dam in Suid-Afrika wat soveel en sulke groot grootbek-geelvisse het nie.



Die mooi kranse by Vanderkloofdam is altyd ‘n gesig om te aanskou.

Die sleepmetode

Na die eerste dag se hengel het ons tot die slotsom gekom dat die grootbek-geles weens die hoë watertemperatuur (tot 28 grade Celsius) in dieper water lê, en het begin om die visse op die sleepmetode (trolling) te vang.  Die sleepmetode het vir ons goeie resultate opgelewer. Laasjaar (Januarie 2024) was die water koeler en het ons die meeste groot visse met die gooitegniek gevang. 

Om aan te pas by die diepte waarop jy die geelvis teiken, moet jy uiteraard die regte tipe kunsaas gebruik. Laasjaar het die Salmo Rattlin’ Hornet 5.5cm baie goed in die vlakker water gewerk. In die dieper water (tot 8 meter) het ons na die Strike King Pro-Model 3XD wat dieper duik oorgeslaan met baie goeie resultate. Die donkerder kleure kunsaas het ook beter in die dieper water gewerk terwyl die ligter kleure in vlakker water weer beter gewerk het.

Franco Marx is baie tevrede met die mooi grootbek-geelvis.

Dit is belangrik om die kunsvissie redelik ver (tot 50 meter) agter die boot te sleep as jy met die buiteboordenjin sleep. Die motorgeruis het dalk ‘n invloed op die vis, maar as jy verder sleep kan die kunsvissie dieper duik wat noodsaaklik is. Die vierslag buiteboordmotors is ideaal om langafstande te kan sleep. Ons een boot het ‘n 200 Yamaha en die ander boot ‘n 175 Suzuki vierslag wat baie beter gevaar het as die ander twee bote met konvensionele 200 en 250 Yamaha tweeslagmotors. Die vierslag is net baie stiller, die motor loop rustiger en brandstofgebruik is aansienlik beter as die konvensionele tweeslagmotors.  Die spoed waarteen die boot sleep, is belangrik en moet verkieslik nie vinniger as 6km/h wees nie. Stadiger is beter.

Bernard Venter met ‘n mooi grootbek-geelvis van amper 6kg.

Medium hengelgerei is ideaal om grootbek-geelvis mee te vang. ‘n Medium 8-voet visstok met ‘n vinnige aksie en ‘n 2500 koffiemeulkatrol met ‘n goeie remstelsel en spoel met redelike lynkapasiteit is wat jy nodig het.

Lyndikte en korrekte voorslag is baie belangrik vir dié tipe hengelmetode. Die tegnologie van vislyne het ontsettend baie verbeter deur die jare. Ons het met super dun 0.10 mm en 0.12 mm Dragon braid met ‘n breeksterkte van ongeveer 9kg gehengel. Dit is gewoonlik goed as die voorslag min of meer dieselfde breeksterkte as die hooflyn het. Ons het Strike King Tour Grade 12-pond Fluorocarbon lyn gebruik wat effe dikker is, maar die lyn het die skurwe rotse van die dam baie goed hanteer en ons het feitlik geen kunsvissies verloor nie.



Francois Joubert met ’n 6.18kg grootbek-geelvis gevang op Strike King 3XD Phantom Craw Watermelon.

Dit is verkieslik om met net twee lyne uit te sleep, een per persoon as daar twee mense op die boot is. Hoe meer lyne agter die boot gesleep word, hoe meer keer haak een lyn vas en moet telkens teruggedraai word. As een hengelaar ‘n vis haak, trek die ander hengelaar gou sy vislyn uit die water om te voorkom dat lyne met die vegtende vis verstrengel.

Izaan met ‘n 4.5kg geelvis.

Die visvinders is verseker handige toerusting om die vis op te spoor en te let op watter diepte die visse lê. Ons het telkemale vis gekry as die kunsvissie deur skole vis gesleep word. Aangesien die grootbek-geelvis ‘n beskermde spesie is, is elke vangs onmiddellik net waar dit gevang was vrygelaat. Die sleepmetode is verseker nie die opwindendste hengelmetode nie, maar baie effektief onder die regte omstandighede.

Rudolph Venter se grote wat nie weggekom het nie.
Izaan Joubert se 6.5kg grootbek-geelvis gevang met ‘n Strike king 3XD. Kleur: Watermelon phanton craw.
Rudolph Janse van Vuuren met ‘n mooi grootbek-geelvis.


Ander visspesies

Tussendeur het ons ook heelwat kleinbek-geelvis gevang. Die kleinbekke hou gewoonlik van kranse en baaitjies. Die vlieghengelaars vang talle kleinbek-geelvis op vlieg wat soos besiegoggas lyk. As jy nie ‘n vlieghengelaar is nie, kan jy die kleinbek-geles baie effektief met kleiner drywende kunsvissies teiken, soos Salmo 3.5 cm Rattlin’ Hornets op medium hengelgerei.   

Rudolph Venter met ‘n mooi kleinbek-geelvis. Kyk die rubberlippe.
Francois Joubert het die Oranjerivier-moddervis in die bek gevang met ‘n Salmo Hornet.

Die karpe in Vanderkloofdam is meer aggressief as meeste ander damme en dit is redelik maklik om karpe met Sada karploodkoppies te vang.

Ongelukkig is daar ’n skerp toename in die getalle swartbaarse in Vanderkloofdam. Dié kan ‘n negatiewe uitwerking op die getalle geelvis in die dam hê. Ons het ‘n paar swartbaars op Salmo Rattlin’ Hornet kunsvissies gevang en uitgehaal.  

Darren Potgieter met een van die swartbaars wat ons in Vanderkloofdam gevang het.
Tyd om bietjie af te koel in die skoon waters van die Vanderkloofdam.


Ons mini-prysuitdeling.
Izaan Joubert het weereens gewys dat dames kan visvang. Sy het die Goliath se moses-trofee vir die beste vangs gewen.
Reg vir aandete!


Administratief

Bootpermitte is nodig om toegang tot die sleephelling in Kroaliabaai by die dam te kry. Dit kos R300 vir ‘n week se toegang. Jy moet ‘n geldige skipperslisiensie en ‘n buoyancy dokument vir jou boot besit. Die bootpermitte is by die winkel langs die Polisiestasie beskikbaar. Jy moet ook elke dag die register by die boothuis teken as jy uitgaan en terugkeer, sodat almal weet jy is veilig terug.  

Ongelukkig is daar tans nie ‘n vulstasie met brandstof by Vanderkloof nie. Neem ekstra brandstofkanne vir jou boot saam. Brandstof is by die naburige dorpie, Petrusville beskikbaar. In die dorp is daar lekker eetplekke, ‘n kruideniers /hardeware winkel en ‘n apteek.

Nasionale Kunsaashengelkampioenskappe

Dit is seker nie toevallig nie dat die Salmo Kunsaas Hengelklub die dam vanjaar besoek het. Die Nasionale Kunsaas Hengelkampioenskappe vind vanjaar vanaf 3 tot 8 Oktober by Vanderkloofdam plaas. Ons kan nie wag om weer daar uit te kom nie!

Bernard en Ida Venter rus lekker met die mooie uitsig vanaf Monte Crous hotel.


The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x