KUNSAASHENGEL: Jongspan wys hul karpe op kunsaas gevang!

Dis Sondag 3 Desember 2023 op Hartbeespoortdam. Die sonnetjie het al sy kop uitgesteek en die windjie lê doodstil. Die water is glad soos ‘n spieël en die kondisies sowaar perfek om karp met kunsaas te vang!

Wat ‘n groot voorreg om vandag saam met Koos Bonnema, die ‘Karp Meester’ van die Salmo Kunsaas Hengelklub, te kan vang. Hy teiken graag die groter spesies vis en is bekend vir die enorme vangste wat hy al geland het!

Koos Bonnema is ’n karpmeester van formaat. Hier is hy met ’n mooi spieëlkarp wat hy op ’n vorige geleentheid met ‘n Sada-loodkop by Hartbeespoortdam gevang het.

Ek en my twee seuns, Tiano en Enrico, is hier om die mannetjies se tegniek met die karpe op kunsaas, te bemeester. Dis nie die maklikste vis om met kunsaas te vang nie. Karpe is nie roofvisse nie en skrik maklik so mens moet baie stil op die boot wees. Koos soek egter net entoesiasme, en daarvan het hulle baie!

Koos Bonnema met Tiano en Enrico Alberts by Hartbeespoortdam.

Hy verduidelik eers mooi waarna om te kyk. Ons hengel in omtrent twee meter water en soek vir borrels wat gooiafstand van die boot af is, en vandag is hulle volop! Die borrels kan soms baie fyn en effens wees, wat moontlik net ‘n aanduiding van die bodemoppervlakte is waar die karp voer, so jy moet mooi kyk! Gooi jou loodkoppie, ons het die medium Sada loodkop gebruik met ‘n geel krulstert (‘curly tail’) reguit oor die borrels om nie die karp skrik te maak nie. Die lyn moet nou vinnig ingebring word tot reg bokant die borrels, en dan moet die loodkoppie reguit tot op bodem sak. Tel jou stok stadig op, en siedaar! As dit in bewegende water is, soos in wind of ‘n rivier, moet jy ook in ag neem dat die borrels reeds kon skuif en moet dit in berekening gebring word tydens jou gooi. Gebruik dun maar sterk vislyn (10kg breekkrag), mediumgereistok en koffiemeulkatrol vir ingeval een van die grotes byt!

Terwyl Koos verduidelik gooi hy die eerste gooi van die dag. Omtrent 15 meter weg van boot. Perfek. Hy laat dit so maklik lyk. Vis aan! ‘n Pragtige 8kg karp om die dag te begin!



Tiano vat so drie pogings en sowaar is hy ook aan met sy eerste vis. Een van omtrent ses visse wat hy op die dag sou vang waarvan ‘n paar net oor die 10kg is.

Tiano Alberts se mooi karp op kunsaas gevang.

Enrico sukkel bietjie meer en toe hy uiteindelik regkom skep pappa te stadig, en die karp skrik en breek die lyn! Vir ‘n agt-jarige outjie wat nou net omtrent 25 minute met die vis geveg het, is dit hartverskeurend! Elke vis se geveg duur omstreeks 20 tot 30 minute, en die juniors se arms raak lekker lam! Maar hy skep gou weer moed, en so vyf minute na die slegte ervaring haak hy die bielie van ‘n karp – 13,15kg! Dit is die grootste vir die dag en net so is die mannetjie hoog in sy skik!

Enrico Alberts met sy groot karp van 13.15kg.

Meer as 10 groot visse het tussen die twee rakkers uitgekom in wat toe sowaar die perfekte dag uitgedraai het!

Wat ‘n voorreg dat daar hengelaars soos Koos is, wat sy hele dag geoffer het om leiding aan die juniors te gee. Hy het skaars self gevang (sowaar net daardie eerste gooi gegooi en dit was dit). Ons hengelklub het sowaar staatmakers om tyd af te staan om gewillige mense te leer hengel, soos die Rudolph’s, Bernard’s, Shaun en Darren’s en Pedrie’s, om net ‘n paar te noem.

So dra ons die kennis oor aan ‘n volgende generasie, en help daarmee die voortbestaan van hierdie ongelooflike sport van ons! Indien jul belangstel in kunsaashengel, kontak gerus die Salmo Kunsaashengelklub by: SalmoSecretary@gmail.com.



5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x