fbpx
[bsa_pro_ad_space id=2]
AdventureFishing TipsHow ToSeasonal StrategiesTight Lines

Kushengel nie vir luies nie

deur Nickie Louwrens

YSTERVARKFONTEIN TOETS JOU FIKSHEID

Ystervarkfontein, ongeveer halfpad tussen Gouritsmond en Stilbaai, is ’n uitstekende hengelwêreld en roep sekerlik aangename herinneringe op by almal van dwarsoor die land wat al daar gehengel het. ’n Hengelaar voel hier besonder tuis as gevolg van die groot verskeidenheid vis, volop aas en bykans ongerepte natuur. Intussen egter het baie van die grond van eienaar verwissel en is dit nie meer maklik om toegang tot die gebied te verkry nie.

Hierdie mooi gespikkelde knorder/knorhaan van ’n raps duskant 4kg is deur Dane Goldschmidt van Kaapstad by Leentjiesklip in die Wildernis-gebied gevang.

Hier het ek en ’n vriend of twee menige somersoggende tussen 03:00 en 04:00 vanaf Albertinia aangeland. Na ’n stywe stap deur die duineveld het jy dan uiteindelik, flits in die hand, by jou geliefde vangplekke uitgekom. Die rustige gesuis van die see en die gunstige tyd van die dag het ’n gevoel van afwagting in jou laat opbruis. Jy hengel hier meestal vanaf rotse op ’n gemengde bodem van rots en sand. Met eerste lig was jou lyn reeds in die water met makriel, strepie of sardyn aan die hoek. Watter ongelooflike tyd van die dag, en watter viskoors het jou nie beetgepak nie as die groot blou-elwe sommer van meet af aan begin wedywer het om eerste by jou aas uit te kom!

Intussen het die Februarie son deur die wolke gebreek en genadeloos op jou begin brand. Laagwater het dit tyd geword om die aasvoorraad aan te vul. Met vars strepies en rooikrap in die aashouer was dit net ’n kwessie van tyd voordat kabeljou, poenskop, elf of mosselkraker jou aas opraap.

Oor die middaguur het ons tyd ingeruim vir ’n feesmaal: vars vis en alikreukels op die kole!

 So ’n genotvolle dag by die see kom altyd gans te gou tot ’n einde. Teen skemer het ons die steil en lang opdraand met swaar sakke vis aangedurf . Die suurstofryke lug en opwindende gevegte met die blinklywe het jou egter genoegsaam opgekikker vir dié taak. Eindelik het ons die bakkie bereik, moeg maar salig tevrede. Trouens, daar is reeds uitgesien na die volgende keer!

’n Hengelaar van Duitsland – aan Ryno net bekend as Stefan – het tydens hul uitstappie ’n kabeljou van ongeveer 5kg gevang.

VÉR STAP OP PAD NA DÁÁRDIE BANKIE

Op sandstrande sukkel alle hengelaars aanvanklik om die see reg te lees. Gevolglik sukkel hulle ook om die beste vangplekke, wat soms ver stap vereis, te vind. Mettertyd, namate jy hierdie vaardigheid om die see reg te lees bemeester en met vis beloon word, aanvaar jy hierdie lang ente se stap met groot ywer.

 Terloops, een van die gewildste en beste formasies by ’n sandkus is ’n sandbank met ’n sandsloep duskant die bank. Die sandbank word maklik uitgeken aan branders wat konstant en witskuimend daarop breek. Die sandbank se helling veroorsaak dat die vlakker water op die bank oorgaan in die dieper water van die sandsloep. Hengelaars praat van hierdie rand van die sandbank as die “lip” of “drop-off”. Na die “drop” word die skuimwater ook oor die agterste gedeelte van die sandsloep wat aan die sandbank grens, versprei. In hengeltaal word na hierdie areas – op en duskant die bank – verwys as plekke waar die water “mooi werk”. Hierdie is uitstekende plekke om Namibiese steenbras, asook ons witsteenbras, te jag. Ook kabeljou is lief om die “drop-offs” van sandbanke te patrolleer op soek na kleinvis soos harder. Iewers vorentoe meer oor hierdie formasies.

’n Mosselkraker van 8,7kg was Etienne Dorfling van Namibië se beloning toe hy vroegoggend saam met Ryno by Agtermekaarbankies naby die monding van die Kaaimansrivier gaan gooi het.

SOMS BAIE MOEITE OM DIE REGTE AAS TE BEKOM

Die meeste soorte aas word deesdae gevries aangekoop. Tog duik sekere situasies op wanneer die hengelaar moet gaan “aasmaak” vir sekere spesies. Die volgende is voorbeelde hiervan, afhangende langs watter deel van die kus jy hengel:

Koeler water skrik die witsteenbras nie af soos baie ander visse nie. Die hengelaar wat hom dan as sy teikenspesie kies, moet bereid wees om sy moue op te rol en aas soos sandkrewels, sandkrap, bloedwurm, wonderwurm, ensovoorts by die see of getyriviermondings te gaan uithaal.

Soms wanneer skole blaasop korte mette maak van die sardyn en duur tjokka aan jou hoek, is die taai vleis van seekat dikwels die oplossing. Dié moet jy self gaan vang en dit wat jy nie gebruik nie, vries.

Rooiaas word met springlaagwater uitgesny, veral vir galjoenhengel in die winter. Andersins kan dit tydens en na stormsee by sekere dele langs die kus opgetel en gevries word.

Vir mosselkraker moet rooikrap kort voor die hengeldag uitgehaal en koel gehou word.

Lewendige harders word meestal met ’n gooinet gevang.

 Hierdie “aasmaak” verg moeite én koste, maar dit bly deel van hengel se lekkerte.

Twee groot hengelaars in wording. Christiaan Meintjies van Somerset-Wes se twee spruite, Ruben (links) en Christiaan, elkeen met ’n mooi vis wat hulle tydens ’n uitstappie saam met Ryno gevang het.

ONUITPUTLIKE ENERGIE

Om Ryno Welsh, een van die toonaangewende hengelaars in die Suid-Kaap, langs die viswaters dop te hou is verstommend. Tydens die somermaande, mits die see hengelbaar is, lyk sy program min of meer soos volg: vertrek 03:00 see toe; keer 07:30 terug huis toe; daag 09:00 by werk op; vertrek 18:00 weer see toe; keer 23:00 huiswaarts. Tussendeur benut hy elke geleentheid om vars aas te versamel. Om op die regte tyd, met die regte aas en by die regte plek te hengel, is die sleutel tot sy fenomenale sukses.

’n Ongelowige Thomas kan van sy vangste teen die mure van die Arms, Tackle & Outdoor World winkel op George, waar hy werksaam is, gaan bewonder.

Ryno vergesel hengelaars op uitstappies en voorsien aas en gerei. Al die fotos in hierdie artikel is van hom en sy kliënte. Hy kan op sy sel by 079 165 3641 geskakel word, of andersins op Arms & Tackle se landlynnommer: 044-873 2149.

Ryno Welsh het hierdie mooi witsteenbras by Sandhoogte naby George gevang. Hy het sandkrewels vir aas gebruik en in die skuimwater op ’n sandbank gegooi. Ryno vergesel hengelaars op uitstappies.

LUIAARD OF UITBUITER?

Ons praat hier van daardie ouens wat nog beginnerspore in die seesand trap. Niemand sien neer op hulle nie; almal moet immers kruip voordat hulle kan loop. Die meeste hengelaars is ook nie ongeneë om hulle met hulp by te staan nie. Maar dan kry jy ’n deel van hierdie groep, weliswaar ver in die minderheid, wat totaal onwillig is om die basiese vaardighede van hengel in te oefen. Vaardighede soos die volgende: om minstens ’n redelike afstand te gooi; nylon- of vleglyn sterk en netjies te knoop; voorbereiding van stroppe; korrekte aanhegting van eindgerei; doeltreffende aasaanbieding aan die hoek; vaskap, speel en landing van ’n vis.

 Die ergste is as van hierdie manne op die mees ongeleë tye by jou aansluit en verwag dat jy hulle “bietjie sal raadgee en bystaan”. My paaie het reeds ’n paar keer met hulle gekruis en ek deel graag twee van die geleenthede.

Geleentheid 1: Met toestande so mooi as wat jy kan kry, bevind ek my een mooi herfsoggend langs die kus van Gouritsmond. Met vars strepies in my koelhouer, saal ek af by een van my geliefkoosde vangplekke. Sommer met die eerste hou haak en land ek ’n groot blou-elf. ’n Tweede en derde volg. Dis duidelik dat daar baie van hierdie gulsige visse in die rondte is. Die adrenalien pomp en ’n mens voel om sommer uit te roep: “Dís mos die lewe!”

Voor ek my volgende hou gooi, kyk ek toevallig ’n oomblik terug in die rigting van die bakkie. En net daar sneuwel die mooi oggend. In aantog is ’n familielid wat bekend is daarvoor dat hy op die mees ongeleë tyd ’n laspos van homself kan maak. Met die bymekaarkomslag vertel hy in besonderhede hoe lus hy vir vars vis is en dat ek hom tog net moet help om sy lyn in die water te kry. Dié lyn was nog nie eens deur die ogies geryg nie. Die kraaines op die katrol van ’n vorige keer moes ook nog eers uitgepluis en oor opgedraai word. Toe ek die chaotiese binnekant van sy vissak sien, besluit ek om maar liefs eindgerei uit my eie sak aan te bind.

Die elwe was nog daar, maar van rustig hengel, was daar nou geen sprake meer nie. Sy onvermoë om te gooi of ’n elf vas te slaan, het die genot van vroeër die oggend soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het nog ’n paar van die besonder mooi elwe gevang, en met sy stok ook drie vir hom. Toe is hy genadiglik daar weg om sy vis te gaan gaarmaak. Met die laspos uit die pad, kon ek nou voortgaan om my visvang te geniet soos dit hoort.

Geleentheid 2: Ek het twee broers na Ystervarkfontein vergesel. Die een kon homself help, maar die ander een was totaal onbeholpe. Die mees basiese vaardighede was vir hom Grieks. Die middag omstreeks hoogwater het dinge baie belowend gelyk en daar was groot afwagting dat ’n groot vis binnekort een se aas sou optel. Toe vra daardie broer my om vir hom aas aan te sit en ’n soveelste keer te gooi. ’n Groot vis het onmiddellik die aas opgeraap en laat spaander. Hy vra my toe om sommer die vis vir hom uit te bring. Na 25 minute land ek toe die mooi kabeljou van 34kg.

 Toe die terugtog teen skemer aanbreek, bied die broers aan om my vissak, stok en elwe te dra. Dit is aan my oorgelaat om die groot vis ongeveer 5km teen ’n sterk suidoos tot by die voertuig te dra. Daar het die een broer die ander herhaaldelik gelukgewens met die mooi vis wat “hy gevang het”. Eisj!

Tags
Close