kykNET: Hier Gaan Ons Alweer Reeks 20!

Elke Saterdagaand om 18:30 op DSTV kykNET, Kanaal 144.

Die Stywe Lyne span het gaan kyk wat agter die skerms gebeur.

Die Skedelkus het al menige skeepswrakke tot gevolg gehad en jy vat nie sommer daardie stukkie kus sonder handskoene aan nie. ‘n Bedrewe gids gaan jou veilig daar en terug kry, en jou vir ewig laat met ‘n ervaring wat vir altyd by jou sal bly, en jy sal verseker baljaar onder die blinklywe. Die span van Hier Gaan Ons Alweer neem kykers die woestyn in en wys hoe so ‘n toer aangepak word! Om dit nog meer interessant te maak, word dit nie net in 4×4 voertuie gedoen nie, maar die Conqueror boswaens is saam. Dit bring wel ‘n paar uitdagings, maar beslis hope gerief.

Die mees noordelike kuslyn van Namibië is onherbergsaam, winderig, sanderig en ongenaakbaar, maar dis ook beeldskoon en ryk aan vislewe en kruip ongelooflik diep in jou hart in.

Tobias Weber, die man wat seker maak hy vang alles wat agter die skerms gebeur op sy kamera.

Die pad is lank en warm, en ons het ‘n totaal van meer as 6 000 km afgelê om hierdie toer mee te maak. Ons media span is op pad en het op die N12 ‘n pragtige plek ontdek waar ons diesel teen heelwat goedkoper en ‘n lekker stukkie rypgemaakte beeshaas kon kry. Van die pad af lyk dit net soos ‘n “truckstop”, maar as jy ingaan is Die Handelshuis veel meer. Hier is ‘n volwaardige slaghuis, eetplek, kwekery en sommer vele meer.

Ons sou gaan tot by die Kuneneriviermond en dus is die laaste plek waar ons kon brandstof kry Terracebaai in die Skedelkus Nasionale Park. Die beplanning is dus om hier ten minste 360 liter brandstof aan boord te hê, ten einde weer suksesvol tot by Terrace te kan ry. Ons het met behulp van ons Wild Canopy en ‘n pragtige slider, asook plek op die Conqueror Comfort sleepwa, genoeg plek om gemaklik orals uit te kom. Toe ons sien wat die prys van diesel hier by Die Handelhuis net voor die vierrigting stop by Fochvile op die N12 is, besluit ons sommer om alles vol te maak en hiermee tot by Henties te ry.

Hier het hulle ‘n baie unieke produk. “Steak” – en daar is verskillendes – wat in ‘n baie spesiale Mooifontein bottermengsel teen 4oC vir 28 dae rypgemaak word. Die man wat aan die hoof staan van die slaghuis, David, het vir ons een van hierdie blokke vleis opgesny. So ‘n paar aande later het dit heerlik by Henties afgegaan.

Die pad boontoe is maar lank en dit sal onnodig wees om sommer net so vinnig moontlik daar te probeer uitkom. Zulu, die senior kameraman van die toer het saam met ons gery en ons moes eenvoudig net by elke pragtige Namibiese dorpie stop en ‘n “Zulu was here!” foto neem vir die album. Zulu is baie ervare en is nou al vir meer as ‘n dekade deel van hierdie span.

Op die pad tussen Usakos en Swakopmund swaai ‘n kortpad weg Hentiesbaai toe, daar deur die Spitzkoppe. Dis verseker die moeite werd om daar te stop vir ‘n foto of twee, maar daar is ook ‘n tentkamp tussen die koppe en ook slaapplek so onder die sterre onder die natuurlike rotshange. Hierdie tipe koppies al om die vallei is kenmerkend.

Die dag het aangebreek en die hele groep is bymekaar op Hentiesbaai. Daar word finaal seker gemaak al die tenks is vol, bande is gepomp en die laaste proviand en veral braaihout is gelaai. Die kameraspan se taak is om dit alles vas te vang ten einde die kyker binne-in die toer te plaas.

Dit is kritiek belangrik dat elke voertuig ‘n aanboord radio het en die toerleiers verskaf ‘n maklik installeerbare produk. Thinus maak hier seker hulle voertuig se lugdraad is mooi vas met die magneet voetstuk.

Die toer word administratief en logistiek gelei deur Hein Truter en Jimmy Marais van Wild Skeleton Coast Adventure Tours. Hulle besit die konsessie om van Angra Fria noord tot by die Kunenerivier monding te bedryf. Hein en Jimmy is ongelooflik ervare en verstaan die logistiek van ‘n groot toergroep baie goed. Hulle maak ook seker dat ervare duinery en hengelgidse aangestel word ten einde die ervaring vir elke hengelaar onvergeetlik, suksesvol en veilig te maak.

Die meester dirigent homself – Petri de Wet spreek die span toe en verseker dat elke persoon op dieselfde golflengte is. Na 19 suksesvolle reekse weet Petri presies wat dit verg en effektiewe kommunikasie is natuurlik van kardinale belang.

Die soutpad op boontoe van Henties af sien bykans nooit reën nie, maar wraggieswaar toe ons daar ry reën dit van net buite Henties tot amper op Terracebaai.



Dis maar moeilik in hierdie reën en sproei om die konvooi te verfilm. Die voertuie met kamera personeel in, moes maar wyd verby ry en deur die vensters skiet. Lense moes gereeld skoongemaak word, en baie moeite is gedoen om die kameras teen die soutsproei te beskerm.

Anderkant Terracebaai raak dit heeltemal woestyn en slegs vierwiel-aangedrewe voertuie word toegelaat. Vir alle praktiese doeleindes is dit “Off Road”. As jy dan so ‘n padteken teëkom, kan jy nie eintlik help om tong-in-die-kies te vra “Watter pad?” nie. Die idee hieragter is egter beskerming van die ekologiese stelsels en dus is dit belangrik om so ver moontlik maar net een stel spore te ry.

Elke spesiale oomblik moet op kamera vasgelê word – die eerste aand se kamp opslaan in die duine.

Die Conqueror Comfort boswa lyk nogal sexy agter Petri se wa. Dit lyk asof hulle saam hoort. Nietemin het die nat soutpad sy merk gelaat en die waentjie is goed geverf.

Die hek waar toegang tot die Skedelkus-park verkry word het sy eie karakter en die mooi klippe en kristalle van die omgewing word hier trots uitgestal.

Mowebaai is die laaste stukkie beskawing, en hier word die boek geteken vir die laaste keer. Hier mag niemand ingaan sonder ‘n gids of saam met ‘n konsessiehouer nie. By Mowe word die bande afgeblaas na ongeveer 1 Bar want van hier af raak dit sag en sanderig.

Verf! Dik taai verf! Die soutpad se glibberige modder pak aan soos niks anders nie. Dit word wel droog, maar elke nag se dou maak dit weer ‘n modderspul van voor af. Natuurlik is hier ook geen teken van vars water wat gebruik kan word vir was nie, en jy moet maar met dit saamleef.

En hier begin die sports: by een van die rivierlope waar ons moes deur is die wal, of eerder die duin, lekker hoog en ‘n uitdaging om uit te kom. As jy nog swaar gelaai is met ‘n groot Conqueror Boswa, en jy het te min momentum, dan sit jy. Dis een van die dinge wat seker is van so ‘n toer – iewers gaan ‘n paar voertuie een of meer kere vasval. Omtrent almal van ons het ‘n beurt gehad.

Uiteindelik het die tyd en plek aangebreek om ‘n lyn in die water te kry. Hier aan die onderpunt van die konsessie, net verby Angra Fria is daar meer steenbras en Pieter Jacobsohn van die Conqueror span was die gelukkige hengelaar om een van hierdie gesogte bakleiers te land.



Uit die staanspoor deel Petri en sy span belangrike inligting en vir hierdie tipe hengel is aas aanbieding natuurlik altyd belangrik. Alle detail word hier vir kykers vasgevang en die kameras moet altyd gereed wees om te rol sodra die patroon sukses behaal en vis word daarop aangekeer.

Gilbert Foxcroft wys hier een van die eerste kabeljoue gevang, nog op die pad noorde toe.

Schalk is natuurlik ‘n bedrewe oewerhengelaar en het al menigte groot visse aangekeer. Hierdie hengel is egter vir hom nuut en hier is sy eerste kabeljou PB wat nog ‘n paar keer gebreek sou word. Saam met hom is Ryno Opperman wat ook een van die eerste kabeljoue van vele land.

So tussen die kabeljoue deur kom daar altyd ‘n paar haaie en plat visse (pylsterte) uit. Hier het Petri ‘n mooi arendsrog gevang met Danie van Ellewee aka Jakkals, ons hoofgids wat gehelp het om hom te land.

Wat ‘n ongelooflike voorreg – Petri en sy pa, die bekende sanger en liedjieskrywer Jan de Wet wat hierdie toer meegemaak het. Jan het vir baie jare op die Namibiese kus gehengel. Hy het ook onder andere die bekende liedjie Sara de Jager geskryf.  

Ons hengel so ry-stop-ry en maak net ‘n paar gooie op ‘n plek voor ons aanry. Gilbert hulle maak dit maklik en ry sommer so stok-in-die-hand.

Hierdie kan ‘n baie goeie asie vir die groter kabeljoue wees, maar is ook ‘n wenner vir enige “spottie” (spotted gully shark). Hierdie een van Werner was ‘n bul en volgens die tabel meer as 35kg.

Om so ‘n reeks te verfilm verg ‘n baie spesifieke fokus en kykers wil graag detail en die groot prentjie sien. Hier maak Willem seker kykers kan sien hoe meters en meters lyn van die Daiwa BG gestroop word.

Hierdie wind en sand kan korte mette maak met enige katrol en dis raadsaam om ‘n beskermende kous of plastieksak bo-oor te sit.

Wouter van Zyl, eienaar van Harten Hengel is ‘n bedrewe soutwaterhengelaar en het vele van hierdie mooi kabeljoue aangekeer.



Johan Barnard is een van die gidse en ook ‘n Namibiese nasionale hengelaar. Hier het hy ‘n mooi koeihaai gevang. Koeihaaie het vlymskerp tande en kan ook by hulle sterte uitkom met daardie tande. Wanneer ‘n koeihaai geland word, wees maar baie versigtig as daai koei omswaai. In die water kan hulle maklik verwar word met ‘n spottie, maar die afwesigheid van ‘n dorsale vin gee hierdie outjie weg.

Hierdie waters het ongelooflik baie bronshaaie en as jy regtig vir hulle wil hengel, is dit relatief maklik om hulle aan die lyn te kry. Maar selfs wanneer daar vir kabeljou gehengel word, kom daar so elke nou en dan een uit. Jakkals maak ook altyd seker dat daar so kort stukkie ligter staaldraad op die strop is, net ingeval.

‘n Suksesvolle produksie het altyd kameras wat uit verskillende hoeke verfilm. Om hierdie kameras altyd op die regte plekke uit kry verg ‘n baie spesiale tipe persoon – Zulu is een van hulle.

Triple up! Die eerste een van baie. Hier is Thinus, Schalk en Werner al drie in met ‘n gesonde kabeljou.

“Brunch” op die strand is natuurlik ‘n gegewe en Lucky maak seker die dis is perfek. Hier word elke dag ‘n ander wen dis voorberei en almal smul behoorlik.

Kykers wil alles sien wat gebeur van elke moontlike hoek af – nou ja, so gesê so gedaan!

Wanneer daar verfilm word op so ‘n spesiale plek is enige iets altyd moontlik. Gewoonlik word ‘n “kill” iewers in die Kruger Wildtuin op ‘n kamera vasgevang – hierdie jakkals wat ‘n rob reg voor ons vang het gesorg vir ‘n uitsondering.

By Kamp Kunene is daar natuurlik ‘n baie belangrike tradisie – as jy die eerste keer daar kamp, moet jy brulduin uitklim. Nou dis nou nie sommer net nie, en party hengelaars het ‘n “accountability partner” nodig om dit te verseker.

Nietemin, al die nuwelinge het dit gedoen en die kruin suksesvol bereik. Hier is André Olivier, Gilbert, Schalk en Wouter van Zyl saam met Werner wat nie nee vir ‘n antwoord gevat het nie. Hy was al die pad daar vir die morele ondersteuning.

Daar word elke dag baie kabeljoue gevang en omtrent alles word teruggeplaas. So nou en dan word daar egter een of twee gehou en hulle land in die pot. Hage is die meesterkok wat seker maak hierdie voorgereg happies is perfek gaargemaak.

Team Conqueror se manne het beurte gekry om kos te maak vir die hele groep. Hier word nog ‘n koningsmaal voorgesit.

Die eerste deel van die tweede helfte van die reeks word afgesluit met ‘n bietjie duinery, en almal leer die fynere kunsies van teen die hellings afry en maak gereed vir ‘n opwindende (en soms angswekkende) rit binneland in tot verder op teen die Kunenerivier.


5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x