L. OORDFOKUS: Maselspoort Karavaanpark & Konferensiesentrum

WOORDE & FOTOS: Riaan “Jan Alleman” Riekert

Maselspoort is geleë sowat 20km vanaf Bloemfontein; dit is nie so nasionaal bekend soos ander hengelbestemmings nie en die mense wat wel van dit weet het ook ‘n wanindruk daaroor.

Ek het vroeër vanjaar die oord besoek toe ek aan die SA Driekamp-kampioenskappe deelgeneem het. Ons is deur talle afgeraai om die rondawels te gebruik – daar was gekla dat dit hulle vuil is en die oord in ‘n algemene baie slegte toestand is. Soos oningeligte mense maar is het ek elke word geglo en maar liewer verkies om die kamp opsie te gebruik. Die naweek was ongelukkig te besig om deeglik na alles te kon kyk maar een ding kon ek sien en dit is dat die kritiek ongevraagd was – alles wat ek kon sien was skoon en netjies. Die seuns het lekker gehengel en ons kampplek en badkamer was silwer skoon. Net daar het ek besluit: Maselspoort sien my weer en ek gaan die klakouse verkeerd bewys.

Maselspoort se ingang vertel sommer reeds ‘n ander storie.

Ek het ‘n epos aan die oordbestuurder, Nicolas gestuur en voorgestel dat ons die oord besoek, lekker hengel en dan ‘n vol storie oor die oord doen. Hy het nie geskroom nie om “ja” te sê, en dit het onmiddelik vir my gesê dat hy trots op sy oord is.

Ons het die laaste naweek van April ons bakkie en karavaan gepak, gashengelaars is gereel en die pad Maselspoort is aangedurf. Ons is baie vriendelik ontvang en het ‘n pragtige staanplek met sy eie ablusie gerief gekry so te sê by die rivier. Ons het vinnig opgeslaan, hengel toerusting afgevat water toe en die naweek het begin!

Nicolas die oordbestuurder het elke dag kom inloer en seker gemaak ons is tevrede, en sommer net lekker kom gesels.

Die eerste dag het ons net op die hengel gefokus en kan beaam dat daar mooi vis in die Modderrivier is. Ek het twee gashengelaars daar gehad en ek kan met ‘n oop gemoed rapporteer dat hulle die hengel, die oord en Nicolas se gasvryheid baie geniet het en sal verseker met hulle vriende en gesinne terugkeer.



Met my hengel vir eers opsy gesit het ek dag twee en drie ‘n bietjie meer tyd op die oord spandeer en my mond het oopgehang want die prentjie wat destyds vir my geskets was baie ver van die waarheid. Ons het ‘n paar dingetjies vergeet soos elke kampeerder maar doen, maar gelukkig het die winkeltjie op die oord alles gehad wat ons benodig het. Ek gaan nie jok nie – hulle het logies-gesproke nie alles nie, maar hulle het wel die nodigste. En vir dit wat jy nie daar vind nie is Bloemfontein net ‘n klipgooi weg.

Die winkeltjie op die oord.

Wat lekker is is dat alles wat daar te doen is, bymekaar is. Die pragtige koue water swembad, putt-putt, mini-krieket, vlugbal en dan natuurlik die groot trekpleister, die supertube. As jy in die oord bly kos die supertube jou nie ‘n sent nie en net dagbesoekers moet ‘n footjie betaal. Glo my jy gaan lekker ontspan vir die naweek en van die kinders “vergeet”!


Maselspoort is ook die perfekte plek om jou troue te hou, en glo my die pryse is billik en die opset langs die rivier asemrowend. Hulle spog ook met ‘n A- klas konferensiesaal waar besighede kan uitkom en spanbou.

Die restaurant het ‘n pragtige groot eetsaal met sy eie persoonlike sjef. Elke Sondag word smaaklike boerekos buffetetes aangebied en weereens teen ‘n fraksie van restaurantpryse.

Die restaurant kan baie koppe sit.

Dan is daar natuurlik die verblyf: aan keuses is daar glad nie ‘n tekort nie. Richterhuis is ‘n ou plaashuis op die perseel wat 6 mense met gemak huisves. Daar is ook rondawels en selfsorg-eenhede wat van 2 tot 5 persone gerieflik kan huisves. As jy glad nie die rondawel tipe is nie is daar natuurlik die kamp terrein – die staanplekke wissel van diè met hul eie ablusiegerief tot staanplekke wat net krag het. Let wel die algemene badkamers is van ‘n hoë standaard en daar is altyd warm water tot jou beskikking. Nog ‘n groot trekpleister is die jeugkampe (en glo my as ek sê ek wens ek was nog ‘n tiener wat my jeugkamp hier kan doen!).


Daar is nog so baie om te sê oor diè wonderlike oord, maar ek gaan dit los vir u, liewe leser, om self dit te beleef. Al wat ek met ‘n ope hart kan sê is dat die oord my en my gesin nog baie sal sien met ‘n groot “Hoera!” vir Nicolas en sy span – ek dink hulle verdien ‘n groot handeklap!

*Om meer oor die oord te lees of vir enige navrae: www.maselspoort.co.za;

Epos: reservations@maselspoort.co.za; Tel: 051 441 7848.


0 0 votes
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x